Man skiet skoonseun dood ‘uit noodweer’

’n Vuurwapenkenner verwerp die beskuldigde se weergawe van die gebeure.
Kristien Kruger
Kristien Kruger – Mnr. Jan Bruwer (72) se moordverhoor het vandeesweek in die hoërhof in Windhoek afgeskop.

Hy word daarvan beskuldig dat hy tydens ’n familietwis sy stiefdogter se man, mnr. Henry Mouton (43), doodgeskiet het. Die voorval het reeds ses jaar gelede op Schlip naby Mariental plaasgevind.

Hy het Maandag voor hoërhofregter Orben Sibeya onskuldig gepleit op die klag van moord, saamgelees met die wet op huishoudelike geweld.

Hy staan ook tereg op klagte van poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer, asook twee bykomende klagte van aanranding.

Bruwer en sy vrou, me. Renette Bruwer, het na bewering op 29 November 2014 gestry en hy het haar met die vuis geslaan.

Die oorledene se vrou en Bruwer se stiefdogter, me. Cathleen Mouton, het vir Bruwer glo gevra waarom hy haar ma geslaan het en hy het haar geklap.

Mouton het op die perseel aangekom en Bruwer het hom na bewering drie keer geskiet – twee skote in sy maag en een in sy kop.

Cathleen het glo die skote gehoor en het op die toneel afgekom, waarna Bruwer haar probeer skiet het.

BRUWER SE WEERGAWE

Volgens die beskuldigde se verteenwoordiger, adv. Winnie Christiaans, was die oorledene dronk met sy aankoms en hy was aggressief teenoor Bruwer.

Volgens Bruwer het hy hom gewaarsku om nie nader te kom nie anders gaan hy hom skiet. Die oorledene het na bewering nadergekom en Bruwer het paniekerig geraak en hom geskiet.

Hy voer verder aan die skoot op Cathleen was per ongeluk gewees ná sy aan sy hand – met die vuurwapen – gestamp het.

HOFVERRIGTINGE

Mnr. William Nambahu, voormalige vuurwapenkenner van die Nasionale Forensiese Wetenskap Instituut (NFSI), het Maandag in die hof die waarskynlikheid van Bruwer se weergawe in twyfel getrek.

Volgens hom is die vuurwapen se skietmeganisme nie foutief nie en is die moontlikheid van ’n skoot wat per ongeluk afgegaan het, hoogs onwaarskynlik.

Dr. Gwinyai Kadenge het die nadoodse ondersoek gedoen en het Maandag in die hof gesê die koeëls het ernstige skade aan die oorledene se maag aangerig.

“Dit het skade aan sy lewer, longe en diafragma aangerig wat waarskynlik tot sy dood gelei het,” het hy gesê.

Kadenge kon egter nie met sekerheid sê watter skoot eerste afgevuur is nie.

Verrigtinge kon gister nie voortgaan nie omdat Christiaans nie in die hof teenwoordig was nie, volgens Bruwer is hy siek.

Die verhoor is tot vandag uitgestel.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer