LPM sien kans vir koalisies

Swartbooi het gister in die hoofstad uitgebrei oor verlede week se streekraad- en plaaslike owerheidsverkiesings.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die leier van die Landless People's Movement (LPM), mnr. Bernadus Swartbooi, sê sy party sal met enige ander politieke instansie saamwerk om die doelwitte te bereik wat die LPM aan sy ondersteuners belowe het.

Swartbooi het gister by die LPM se kantore in Windhoek-Noord oor verlede week se streekraad- en plaaslike owerheidsverkiesings uitgebrei.

Die LPM het sterk, veral in die Suide meegeding, wat Swartbooi as ’n prestasie beskryf vir ’n party wat nou eers ’n jaar en nege maande bestaan.

“Windhoek sal waarskynlik ’n koalisieregering wees,” sê hy, maar dring aan sy party sal enige moontlikheid van gesamentlike beheer van plaaslike owerhede oorweeg gebaseer op waardes in gemeen en ’n ooreenstemmende politieke en ekonomiese program vir die betrokke dorp.

“Die rangorde van kwessies is ’n prioriteit,” sê hy.

Volgens hom kan sy party afsonderlik oor elke kwessie oor samewerking besluit.

“Ons moet Windhoek hervorm. Die begroting moet herevalueeer word en onkoste, soos Swakopmund se N$20 miljoen begroting vir regskostes, moet hersien word. In die eerste ses maande moet elke plaaslike owerheid ’n grond-, menslikehulpbronne en finansiële oudit voorsien.

“Ons moet die linne wat so ’n giftige reuk afgee, skoon was,” sê hy.

“In die verlede het ons grondgrype ondersteun en ons steun dit steeds wanneer grondgrypers ontneem is,” sê hy.

“Gratis grond in stedelike gebiede is iets wat ons moet najaag,” sê hy en “ons sal nie stootskrapers stuur om mense se huise te sloop nie.”

Die kwessie van mense wat grondloos langs hoofpaaie in die streek bly, is ook ’n prioriteit, sê hy.

“Dit is noodsaaklik dat die mense grond kry en ons sal met grondeienaars daaroor moet praat,” sê hy.

“Ons moet kyk om uitgekontrakteer dienste terug te neem en kapasiteit bou om self dienste teen laer koste te lewer,” sê Swartbooi.

Hy doen ’n beroep op owerheidsinstansies om nie hul samewerking te weerhou nie.

“Instansies moet die versoeking weerstaan om situasies te verpolitiseer of deur staatsondernemings die wil van die mense te probeer saboteer. Ek versoek hulle om saam met ons te werk. As dit kom om befondsing te weerhou en hulle met ons wil baklei, sê ek vir hulle ons is reg om te baklei,” sê hy.

“Ons is gewillig om met enige party saam te werk, insluitend Swapo, om die doelwitte vir ons mense te lewer,” sê hy.

“Van nou af tot 2025, kom ons lewer saam vir ons mense van Namibië, ’n better lewe, ’n beter toekoms,” sê Swartbooi.

Swartbooi het die LPM se visie, om waardigheid aan mense in Namibië te herstel, herhaal en gesê gehalteleierskap is noodsaaklik om die ruimte te skep vir demokrasie, vryheid, groei en ontwikkeling.

Hy sê die politieke mag van omkopery ondermyn die wil van die mense, en sê LPM-lede en ondersteuners kon pogings om die verkiesings negatief te beïnvloed keer, danksy duisende jong vrywilligers by stempunte, en talle pensioenarisse wat lank gewag het om te stem.

Die uitslae verander volgens hom die politieke landkaart van Namibië.

“Swapo heers nie meer alleen oor die streke nie, nie oor die munisipaliteite nie en nie in die Nasionale Raad nie. Die LPM is nou ’n stelsel, uitkenbaar vir sy gereedheid om te oorheers, verteenwoordiging op elke vlak – danksy die werk wat reeds gedoen is, die toepaslike boodskap en die gedeelde visie wat ons bied,” sê hy.

Hy doen ’n beroep op die staatshoof, pres. Hage Geingob, om die goewerneurs van die Hardap- en ||Kharasstreek af te dank, “sodat ons ons eie mense deur hom kan aanstel. Daarvoor doen ek beroep op hom,” sê Swartbooi. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer