Loop eerder lig vir Dr. Google

Dani Booysen
WOUTER TREURNICHT SKRYF:

Twintig jaar gelede, op Dinsdag 12 Junie 2001, het die Ministerie van Gesondheid van Namibië op al wat 'n skool en winkelsentrum begin toesak en 'n ieder en 'n elk begin inent teen breinvliesontsteking (meningitis).

Onthou jy nog?

Niemand het 'n boe of 'n ba daaroor te sê gehad nie.

Hoekom is die Covid-inentings nou, skielik, so 'n groot vraagstuk? Die antwoord is sosiale media - die internet en Dr. Google.

Almal het oornag mediese navorsingspesialiste geword. Almal weet van mRNA en hoe sleg dit kwansuis is (alhoewel hulle nie eens die vaagste benul het waarvoor die afkorting staan nie, nog minder wat die proses behels nie). Almal ken glo skielik "mediese dokters" (nogals) wat teen inentings is. Almal is skielik kenners op die gebied van medikasie vir eksterne parasietplaagbeheer op bokke, skape en beeste, wat, volgens hulle, direk gebruik kan word om virusse in mense "dood" te maak. Almal het 'n tannie, oom, sussie, boetie of dié se antie se vriend wat met Ivermektien wonderbaarlik herstel het.

Wat het geword van die slimjannies wat 'n jaar terug soveel te sê gehad het oor die malariamedikasie, chlorokinien? Daai "eksperts" het 'n stille dood gesterf.

As jy dan so graag 'n ekspert wil wees, begin jou selfstudietog deur artikels te gaan nalees wat in mediese tydskrifte gepubliseer is. En hiermee bedoel ek nie die Huisgenoot of Wikipedia nie. Begin by The Lancet. Werk deur 'n paar van daai bundels. Dan kan jy maar gerus jou meer ingeligte, wetenskaplik gefundeerde opmerkings op die sosiale platform van jou keuse gaan uitstippel.

Hou tog net op met die plasings van veel minder as halwe waarhede en ongetoetste "bewyse". Ja, ek het ook al gehoor van mense wat positief getoets het, 'n halwe Disprin saam met aalwynsap gedrink het, en toe volkome herstel het (of so iets).

Leon Schuster het jare gelede sy petroltenk vol water getap, 'n pilletjie bygegooi, en ten aanskoue van 'n verdwaasde petroljoggie fluit-fluit weggery. Almal het geweet dis snert en het lekker vir die joggie se liggelowigheid gelag.

Ek los my Mercedes in die hande van 'n opgeleide Mercedes-Benz-meganikus, ek los my hart in die hande van 'n opgeleide kardiotoraksale sjirurg en my beleggings (?) in die hande van 'n opgeleide finansiële adviseur. Net so, gaan ek hierdie dodelike virus in die hande van opgeleide mediese spesialiste plaas.

Slegs enkele mense is (miskien) dood as gevolg van die inenting. Daar is altyd 'n risiko. Miljoene der miljoene der miljoene is nie dood na die inenting nie.

Laat jouself inënt!

Regstelling: Ek stel voor dat jy jou laat inent.

(Ontleen aan Facebook met toestemming van die outeur.)

Kommentaar

Republikein 2025-12-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer