Let op jou gedagtes

[email protected]
Leandrea Louw
Leandrea Louw – Dis ’n nuwe jaar en ons almal het seker al ’n paar voornemens opgeskryf om na te kom.

Daar is een ding wat ek graag wil hê julle moet op jul lysies sit en dit is om na jou gedagtes op te let.

Die brein is ’n wonderlike ding. Op een oomblik kan jy ’n kompleks Wiskunde-som aanpak en die regte antwoord kry en die volgende oomblik kan jy nie onthou hoekom jy jouself in die kombuis bevind nie.

Die menslike brein bevat ongeveer honderd miljard neurone. Volgens die National Science Foundation in die VSA het die gemiddelde persoon ongeveer 12 000 tot 60 000 gedagtes per dag. Hiervan is 95% presies dieselfde herhalende gedagtes as die vorige dag – en ongeveer 80% is negatief.

Nou hoe wonderlik is ons nie geskape nie?

Baie van ons, het op ons Nuwejaarsvoornemens besluit om dalk te kyk na wat ons eet; minder Coca Cola te drink, minder sjokolade te eet of wat ook al.

Maar hoeveel van ons het besluit om te kyk na wat ons dink. Ons gedagtes. Dit is so maklik om ‘n negatiewe reaksie te hê as daar dalk iets gebeur by die werk.

Ons is so gou om kwaad te word as ‘n familie lid of ’n vriend iets sê waarvan jy nie hou nie. Maar ons moet onthou, die volgende persoon se opinie definieer jou nie.

Spreuke 23 vers 7 sê ook vir ons, “Want soos hy in sy siel bereken, so is hy. . . ”

As jy net negatiewe gedagtes het soos “ek is nooit goed genoeg”, “ek is te dom, of te vet of te wat ook al”, hoe verwag jy dat dinge moet beter raak?

Jy, liewe leser, is uniek geskape. Daar is net een soos jy. So kyk na jouself en begin by jou gedagtes.

Dinge het handomkeer verander in ’n oogwink, maar ons almal het so baie om voor dankbaar te wees.

So kom ons dink net positiewe, mooi en goeie dinge. Die slim dokters sê positiewe denke lei tot ’n goeie selfbeeld en daar is ook bewys dat dit effektief is in die verbetering van ons bui, gesondheid en die vermoë om probleme op te los.

Kommentaar

Republikein 2026-06-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer