La Niña-reën kom dalk eers Januarie

Al het die reënseisoen nog nie presteer soos weerkenners verwag nie, dui statistiek aan dat La Niña-seisoene gewoonlik eers reën vanaf Desember, maar veral in Januarie tot Maart bring.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Daar is nie vooruitsigte vir reën oor die sentrale tot suidelike dele van Namibië vir ten minste die volgende twee tot vier weke nie, hoewel enkele buie moontlik vanaf die derde week van Desember kan voorkom.

Tog is die verwagting steeds dat die reënseisoen oor die algemeen gunstig gaan eindig – al gaan dit waarskynlik nie reeds in Desember gebeur nie.

Só sê mnr. Johan van den Berg, 'n konsultant-landbouweerkundige, oor wanneer die res van Namibië se reën gaan kom.

“Die meeste reën oor die afgelope tien matige tot sterk La Niña-seisoene het vanaf Desember, maar veral in Januarie tot Maart voorgekom.

“Dit is veral van toepassing oor Namibië se sentrale tot westelike dele,” het hy gesê.

Dit volg nadat goeie reënneerslae reeds die afgelope naweek oor veral die noordooste van die land voor­gekom het, terwyl die res van die land steeds hoopvol wag.

“Toestande vir reën verbeter vir die noordelike en noordoostelike dele van Namibië vanaf ongeveer die tweede week in Desember. Dan behoort meer verspreide reënbuie voor te kom. Dit is veral goeie nuus vir die mielieboere in die Noorde,” het hy gister aan Republikein gesê.

Van den Berg voeg by dat ­snikhete temperature egter oor veral die Suide in die eerste helfte van Desember verwag word.

“Die huidige La Niña-weerverskynsel het nog nie die verwagte uitwerking gehad nie, hoewel daar kolle en gebiede in Suid-Afrika is wat al goeie reënneerslae ontvang het.

“Dit is ook die geval in ­Australië, waar daar al plek-plek swaarder neerslae voorgekom het, maar ook nog nie soos verwag nie,” het Van den Berg gesê.



piek

Hy sê die La Niña-­weerverskynsel het intussen byna volwassenheid bereik.

“Tog is die voorspelling dat die piek eers in Desember of Januarie bereik gaan word. Dit is steeds op pad om 'n matige tot sterk La Niña-weerverskynsel te word – dalk net effens swakker as die een van 2010-'11.

“Die see-oppervlaktemperature in al die Niño-gebiede is tussen 0,7°C en 1,5°C koeler as normaal, wat 'n matige tot sterk La Niña verteenwoordig,” het hy gesê.

Van den Berg sê reënvoorspellings bly baie positief en gegewe ook die minder as verwagte reën wat tot op hede voorgekom het, kan daar tydens die tweede deel van die seisoen swaarder neerslae verwag word.

Minder goeie nuus is dat die Indiese Oseaan-dipool (IOD) indeks tans stewig in die neutrale band gevestig het en nie meer na negatief neig nie.

“Dit kan dalk die reënvooruitsigte ietwat demp, maar met die La Niña steeds teenwoordig, behoort die tweede deel van die seisoen steeds positief te wees.”

“La Niña is in volle swang en dit is moontlik dat sy werklike invloed op die reën eers in die tweede deel van die seisoen gesien sal word,” het hy gesê.



TRAE WEGSPRING

Namibië se amptelike reënsyfers vir Oktober dui aan dat die reënseisoen uitsonderlik traag begin het.

Volgens die Namibië ­Meteorologiese Diens was Oktober se reën ver ­ondergemiddeld oor die ­grootste dele van die land en het ook nie ­wydverspreid voorgekom nie.

Die grootste enkele bui reën in die maand was 16,3 mm by die Huttenhof-weerstasie in die Otjozondjupastreek, terwyl die reën in die eerste maand van die nuwe reën­seisoen hoofsaaklik oor die Zambezi-, Ohangwena-, Oshikoto-, Otjozondjupa- en die grens tussen Omaheke- en die Khomasstreek gesentreer was.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer