• Tuisblad
  • Afrika
  • 'Koalisieregering SA se voorland ná 2024-verkiesing'

'Koalisieregering SA se voorland ná 2024-verkiesing'

Politieke ontleders meen gebeure ná die plaaslike owerheidsverkiesings op 1 November in Suid-Afrika, toon koalisieregering is die buurland se voorland in die toekoms.
Ronelle Rademeyer
Alle aanduidings is daar dat Suid-Arika met die nasionale en provinsiale verkiesing in 2024 nasionaal op ’n koalisieregering kan afstuur.

Dit is die geval al het politieke partye met die afgelope dae se “aardskuddende” politieke magsverskuiwings in van die grootste metro’s en munisipaliteite landwyd gewys hulle is nog nie gereed vir koalisieregerings nie.

’n Nasionale koalisieregering wat reeds suksesvol in verskeie lande in Europa is, kan ná die nasionale en provinsiale verkiesings in 2024 – “ ’n noodwendigheid” in Suid-Arika word, sê politieke ontleders. Dit kan die geval wees omdat kiesers partye gaan dwing om ook op nasionale vlak koalisies te vorm.

Politieke ontleders het dié mening uitgespreek nadat pres. Cyril Ramaphosa se regerende ANC se nasionale steun in 1 November se plaaslike verkiesings die eerste keer nog tot onder 50% gedaal het.

Dit kom ook nadat politieke partye Maandag minderheidskoalisieregerings in onder meer Johannesburg en Ekurhuleni in Gauteng ingestem het sonder om eers formele koalisie-ooreenkomste aan te gaan.

Fikile Mbalula, ANC-verkiesingshoof en minister van vervoer, het Woensdag in reaksie op die ANC se verkiesingsloesings getwiet dat “die hernuwing van die ANC nog nooit so werklik en dringend was nie”.

“Hierdie proses sal die revolusionêres van die kansvatters in die ANC onderskei. Dit is noodsaaklik.”

John Steenhuisen, DA-leier, het egter ná sy party se dramatiese verowering van dié metro’s en ander munisipaliteite landwyd van die ANC gesê die belangrike “sielkundige” drempel wat Suid-Arika daarmee oorgesteek het, is dat die ANC in verkiesings geklop kan word.

Prof. Zwelinzima Ndevu, politieke ontleder aan die Universiteit Stellenbosch, sê as die huidige ernstige landsprobleme nie daadwerklik opgelos word nie en kiesers verdere vertroue in die ANC verloor, is ’n nasionale koalisieregering in 2024 Suid-Afrika se voorland.

Hy glo die onverwagse magsverskuiwings in veral Johannesburg en Ekurhuleni wys dat “ons nie gereed is om op enige regeringsvlak” koalisieregerings te vorm nie.

“Dit omdat dieselfde rolspelers wat by daardie koalisiegesprekke betrokke was en wat geen ooreenkoms vooraf kon sluit nie, ook op nasionale vlak betrokke sal wees. Hoewel politieke partye nog nie gereed is nie, gaan kiesers hulle al hoe meer met verkiesingsuitslae dwing om saam te werk. Dit gaan in 2024 ook gebeur.”

Tessa Dooms, politieke ontleder en direkteur van Jasoro Consultancy, het Woensdag gesê die uitslae waarvolgens die ANC se nasionale steun die eerste keer tot onder 50% landwyd gedaal het, het die moontlikheid van ’n nasionale koalisieregering meer waarskynlik as ooit gemaak.

Sy voel sulke nasionale koalisieregerings is reeds suksesvol in Europa en veral Duitsland en kan in Suid-Afrika ook werk. Dit is omdat die Europese politieke partystelsel nie veel van Suid-Arika s’n verskil nie.

“Die beginsels van koalisies daar is ook dieselfde, behalwe die ongeskrewe reël dat die party met die meeste stemme gewoonlik die kanselierspos kry. Koalisie-onderhandelinge daar kan ook vir tot ses maande duur vergeleke met die twee weke in Suid-Afrika.”

Die Vereniging vir Plaaslike Regerings (Salga) het onlangs in die parlement gesê daar word tans gesprek gevoer oor planne om koalisieregerings in Suid-Afrika wetlik te reguleer.

Intussen het prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, ook bevestig dat koalisiepolitiek ondanks die probleme wat tans in Suid-Afrika daarmee ondervind word, in 2024 “ ’n noodwendigheid” gaan word.

Dit is omdat die tekens van hoe bevrydigingsbewegings in Suider-Afrika tot niet gaan oor die 30 jaar wat hulle regeer, al hoe duideliker in die ANC sigbaar is.

”Die geskiedenis wys dit is ’n onomkeerbare proses. As sulke bewegings begin val, val dit. Eers in die stede soos met die ANC nou, dan in die landelike gebiede. Met ons groter stedelike bevolking gaan die ANC se termyn nog korter wees. Die ANC gaan in 2024 in die moeilikheid wees.” - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-02-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer