Jong spelers kan visier op Indië stel

Krieket
Tielman van Lill
Tielman van Lill







Krieket Namibië (KN) kon nog nie sy strategiese plan vir die 2021 T20 Wêreldbeker finaliseer nie, want hy wag nog op die Internasionale Krieketraad (ICC) om ’n opgedateerde skedule vir die ontwrigte 50-beurt Wêreldkrieketliga 2 reeks te verskaf.

KN het dié inligting nodig om sy voorbereiding vir die T20 WB by die nuwe datums van die reeks driehoekige eendagtoernooie aan te pas.

Indien die Eagles byvoorbeeld vanjaar of volgende jaar aan ’n 50-beurttoernooi in Dubai sou deelneem, kan die nasionale groep ’n paar dae langer in die Verenigde Arabiese Emirate vertoef om in soortgelyke toestande as in Indië ’n klompie T20-wedstryde ter voor bereiding vir die Wêreldbeker te speel.

Die nasionale oefengroep, tans bestaande uit 20 spelers, is egter nie in yster gegiet nie.

Pierre de Bruyn, nasionale hoofafrigter, en KN voel daar is genoegsame talent in die land wat vroegtydig vir Indië ontgin kan word. De Bruyn en KN oorweeg dus nie enige onlangs uitgetrede nasionale spelers nie.

Mnr. Johan Muller, uitvoerende hoof van KN, sê: “Om na ouer spelers te kyk, is nie noodwendig deel van ons planne nie. Die uitstel van die T20 WB gee ons juis ’n ekstra jaar om ons jonger spelers reg te kry, want die jong manne kwyt hulle besonder goed van hul taak.

“Die Eagles oefen professioneel drie tot vier ure per dag en ek kan eerlikwaar nie sien hoe ’n speler wat lank buite aksie was, op dieselfde peil kan kom nie.

“Ons is tans besig met uitnodigings waar bykomende spelers genooi word om saam met die nasionale span te oefen. Wanneer die (Covid-19) regulasies ons toelaat, sal hierdie uitnodigingswedstryde wees waar die genooide spelers hul vernuf kan ten toon stel.

“Ons het ook aktiewe o.19- en o.16-hoëprestasieprogramme in Windhoek en die kus waar spelers geslyp word. Die ontwikkeling van ons voedingsbron is ’n hoë prioriteit in KN se visie om ons internasionale eendagstatus te behou.”

Muller het vertel hoe die onlangse T10-toernooi van WHS Old Boys-krieketklub by FNB Vegkop by KN se ideale inskakel.

“Die T10-toernooi was ’n ongelooflike vertoonvenster vir ons krieket. Behalwe vir die aksie op die veld waar ons uitstekende boul- en kolfwerk gesien het, was die atmosfeer op die pawiljoene net die regte medisyne vir krieketliefhebbers.

“Die hele Old Boys-komitee het terselfdertyd ’n geldsinsameling gehou wat baie positief is. KN gee voortaan nie meer bloot geld aan klubs nie, maar sal vir elke dollar wat hulle self insamel, hul inkomste met 50 persent verdubbel.

“Dit mag nie ’n borgskap wees nie en die inisiatief moet van die krieketklub se kant kom om geld in te samel. Ons glo dit sal ’n aansporing vir klubs wees om hul eie geldsinsamelingsprojekte soos diá van Old Boys te loods. Dit sal die klubs help om selfonderhoudend te word en hul gemeenskap te betrek, wat op die lange duur meer spelers aan die klubs kan lewer.

“Op die veld was die kolwers se baltrefvermoë fenomenaal. Dit was regtig lekker om te sien hoe skoolseuns hul man teen die nasionale boulers staan en lopies maak. Dieselfde kan van die jong boulers gesê word wat na kolwers soos Zane Green, Gerhard Erasmus en Craig Williams geboul en beslis hul stempel afgedruk het.

“Die kolfblad het met die laaste paar wedstryde stadiger geword en die bal het nie meer so lekker vinnig na die kolwers deurgeskiet nie. Dit is tipiese Indiese toestande. Waar die kolwers die eerste deel van die kompetisie oorheers het, het die boulers in die laaste botsing weer hul stempel afgedruk. Dit is presies wat ons nodig het om vir die T20 WB voor te berei.

“Omrede kolfblaaie so goed voorberei word, gaan dié in Indië die eerste twee tot drie weke nie anders as enige ander blad ter wêreld wees nie. Dit kan in die Indiese Premierliga (IPL) gesien word. Ons verwag dat die blaaie daar ’n bietjie stadiger sal wees en die bal ietwat laer na die kolwer sal deurkom soos dit maar op die subkontinent is.

“Die realiteit van ’n kompetisie soos die Wêreldbeker maak dit bykans onmoontlik vir die gasheer om ’n blad ten gunste van sy eie spelers voor te berei soos wanneer een land in ’n reeks teen ’n ander land speel. Die velde is wel ’n bietjie kleiner, wat ons beslis kan help, want ons is van die lande wat die hoogste persentasie grenshoue slaan.

“Die feit dat die 2021 T20 Wêreldbeker van Australië na Indië verskuif is, maak dat ons nou ’n heel ander benadering vir ons voorbereiding moet volg.

“Die lugdruk is wel baie anders as plaaslik, dus sal ons daarvoor moet beplan. Groter skares en ’n vreemde vogtiger tipe klimaat maak omstandighede ’n uitdaging vir die Eagles, asook vir ander lande se spanne,” het Muller gesê.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer