Headspring Investments sê oor boorpermitte

Ronelle Rademeyer
Headspring Investments lig sy boorkontrakteurs gereeld oor permitvoorwaardes in en die kontrak met kontrakteurs sluit klousules in wat bepaal hulle moet oor die registrasies en permitte beskik wat deur die reguleringsowerheid vereis.
Verder word van boorkontrakteurs vereis om alle omgewingsvereistes en -spesifikasies na te kom.
So sê dié mynboumaatskappy in reaksie op die ministerie van landbou, water en grondhervorming se besluit om sy permitte vir die boor van geohidrologiese en eksplorasieboorgate naby Leonardville te kanselleer.
Dit is vroeër vandeesmaand met onmiddellike effek gedoen nadat ’n ondersoek deur kundiges na die booraktiwiteite van Headspring Investments getoon het dit het nie geskied in ooreenstemming met die voorwaardes waaronder twee boorpermitte op 30 Maart vanjaar vir dié doeleindes uitgereik is nie.
Headspring Investments is die Namibiese filiaal van Uranium One, mynbou-arm van die Russiese staatsbeheerde kernreus, Rosatom.
Volgens Andrey Shutov, president van Uranium One, is Headspring Investments deur die boorkontrakteur verseker alle boorwerk op die terrein geskied in streng nakoming van Namibiese wetgewing.

Kommentaar

Republikein 2025-12-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer