Gruwelflieks is niemand se speelmaat

[email protected]
Yandi Du Plessis
Indien enige iemand my ooit sou vra, sou ek sonder om te huiwer, sê ek is eintlik die wêreld se grootste bangbroek.

Ek skrik soms vir my eie skaduwee, dus gee dit jou 'n redelike idee van waar ek op die bangbroekskaal lê.

Hou ek daarvan om mense skrik te maak? Natuurlik. Skrik ek meer as hulle? Absoluut.

Ongelukkig is ek deel van 'n familie wat rillers en grillers hopeloos te veel geniet.

Vir my ma se verjaardag belowe ek toe ek sal saam met haar een van daardie gruwelflieks kyk wat jou nekhare laat rys.

So sit ons die fliek dié vreeslose aand aan – gerat met springmielies, komberse, koffie en alles.

Met die eerste musieknote besef ek reeds hier is fout, vanaand gaan ek nie 'n oog toemaak nie. Hoe langer ons kyk, hoe meer besef ek ek is in die diepkant ingegooi.

Ek klim al hoe dieper onder die komberse in, en probeer op my selfoon besig bly, maar ek kan nie ophou kyk nie. Ná die fliek is my ma so koel soos 'n komkommer en sê dit was eintlik simpel en heel onrealisties.

Ek bewe in my broek, maar ek hou my braaf. “Ja-nee, dit was só stupid. Ek is nie eers 'n bietjie bang nie.”

Ek sê ek wil nog vir 'n rukkie televisie kyk, want êrens moet ons mos Friends aansit, want hoe sal ek kan slaap met daardie gruwels in my gedagtes?

Ná so vier episodes voel ek gereed om in die bed te klim. Ek staan aan die begin van die gang, gereed om die lig af te sit toe die gang skielik onmenslik lank begin lyk én donkerder as die donkerste donker.

Ek skat die afstand tussen my kamer en die begin van die gang, want die skakelaar sit aan die begin van die gang, en my kamer so te sê aan die einde. Die lig afsit en my hardloop was een beweging.

Ek hardloop vinniger as menslik moontlik, want ek is vas oortuig iets jaag my. Ek haal die kamer net-net. Ek voel toe eintlik heel simpel, want natuurlik is daar mos nie iets soos spoke en goggas nie.

Ek klim in die bed en skakel die lig af, en toe weet ek ek sal nie kan slaap nie. Alles lyk soos een of ander iets wat my wil gryp. Ek hoor klanke in die gang, hoor die wind huil en verbeel my ek hoor iets in die gang beweeg.

Al wat ek bly dink is: “Mariselle, jy is amper 25. Nee man, word groot. Dit is net 'n fliek.”

Maar ek kan myself nie help nie; ek is diep bang.

Soos ek opkyk, sien ek 'n vorm voor die gordyn wat beslis nie menslik is nie.

My hart spring uit my borskas, en al weet ek ek moet gil, weet ek ook dit sal nie help nie. Die ding begin al hoe groter lyk, en ek is dadelik terug onder die komberse in.

Ek loer onder die kombers uit, en ”dit” staan nog daar. Dit kyk vir my en kan sekerlik my vrees ruik.

Ek besef só sal ek nie kan lê nie, en besluit my veggees moet tog sterker as my vluginstink wees. Ek voel-voel langs my bed, en kry 'n paar visplakkies langs my bed wat ek seker 20 jaar gelede gekoop het. Wat ek gedink het ek sal kan regkry met die paar verskonings vir plakkies weet ek self nie, maar ek was reg om my man te staan.

Gewapen met my plakkie in die hand, klim ek uit die bed, en besluit dit is nou of nooit. Ek gooi die plakkie met mening na die voorwerp toe en skakel die lig in dieselfde beweging aan.

Ek hoor een hengse slag, en in die lig sien ek die gemors wat my lewe is. Die “vreeslike monster” was my truie wat ek van luigeid oor die stoel gegooi het.

Die slag was die glas wat ek met die patetiese visplakkie stukkend gegooi het.

Ek bekyk die spul so, en met die omdraai staan Bella, ons hond, en my ma in die deur, en die oordeel in hulle oë was so duidelik soos daglig.

My ma vra toe so ewe: “So Sellie, jy sê jy is nie bang nie, né?”

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer