‘Grootste satiriese digter in Afrikaans’ sterf
Die Afrikaanse digter, satirikus, dramaturg en skrywer M.M. Walters is vroeg Dinsdagoggend oorlede.
Matthys (Thys) Michielse Walters (91) is in ’n versorgingsoord vir bejaardes in Vishoek oorlede.
Volgens ’n jarelange vriend, die afgetrede akademikus Gunther Pakendorf, het Walters se gesondheid die afgelope maande agteruitgegaan nadat hy geval het.
Die afgelope drie dae het hy verder verswak voordat hy dood is. Hy het vroeër na die oord verhuis nadat hy jare lank op sy eie in Simonstad gewoon het.
Walters se laaste digbundel, Braille-briewe, het in 2011 verskyn. Die digter Daniel Hugo het hom in ’n vorige skrywe beskryf as dié “grootste (letterlik en figuurlik) satiriese digter in Afrikaans” en as iemand wat “sy lewe lank al verbaas, verbysterd én diep ontsteld (lag) oor die domheid van selfvoldane mense: materialiste en teoloë, nasionaliste en liberaliste”.
Walters was jare lank ’n dosent in die Afrikaanse letterkunde aan die onderwyskolleges van Graaff-Reinet en die Paarl, en aan die Universiteit van Kaapstad.
Volgens Hugo word Walters onder die Sestigers gereken omdat hy in daardie dekade van literêre vernuwing gedebuteer het. Walters is in 2015 in die Tuin van Digters gehuldig vir sy lewensbydrae.
Hugo noem Walters ook “die skerpste digterlike kastyder van die NG Kerk en die Afrikaner” in ’n skryfstuk wat in Hugo se Vers & Kapittel (Kraal, 2018) verskyn het.
Die destydse moderator van die NG Kerk dr. Koot Vorster (broer van die eerste minister John Vorster), het Walters ’n vyand van die volk genoem en kon nie verstaan waarom die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hom vir sy debuutbundel, Cabala (1967), bekroon het nie, aldus Hugo.
Walters se gedigte toon ’n verbluffende kennis van die Noorse, Griekse en Romeinse mitologie en hy is ook bekend om sy natuurgedigte en diepe belangstelling in die Oosterse filosofie.
Hy is ook bekend om sy historiese en allegoriese dramas, skryf Hugo.
’n Koffietafelboek saam met die fotograaf Siegfried Behm getiteld Die Weskus van die Kaap het ook uit sy pen verskyn.
Walters is op 23 Januarie 1929 op Moorreesburg gebore. Vandaar het hy in die Groot-Karoo, Boland en Kaapstad gewoon. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie