Gewigstoter van VSA verbeter wêreldrekord

Atletiek
Wim Pretorius – Om ’n wêreldrekord te oortref in ’n Olimpiese jaar is die ideale hupstoot vir enige atleet wat groot drome oor wêreldsport se grootste skouspel koester.
Dít is presies waarmee die Amerikaner Ryan Crouser sy seisoen begin het toe hy Sondag in Fayetteville die binnenshuise wêreldrekord in gewigstoot met ’n allemintige 16 cm oortref het.
Die verdedigende Olimpiese kampioen het op ’n ligabyeenkoms die maatband tot 22.82 m laat rek vir ’n merkwaardige begin tot Wêreldatletiek se binnenshuise-seisoen.
Hy het die rekord met sy heel eerste mededingende gooi van 2021 verbeter.
Crouser het homself reeds as een van die beste veldatlete van alle tye onderskei. Hy kan spog dat hy die gewigstootbal al meer kere as enige ander atleet in die geskiedenis verby die 22 m-merk gegooi het.
Crouser moes ’n paar minute sy asem ophou terwyl die beamptes die afstand van sy gooi gemeet en bevestig het. Ekstra matte is daarna bygevoeg vir ingeval hy die bal nóg verder kon slinger. Daardie yslike eerste gooi het juis net-net op die mat geland.
Die ekstra matte was uiteindelik onnodig. Die Amerikaner het sy rekord-poging opgevolg met afstande van 21.03 m, 22.70 en 22.48, met twee onwettige pogings tussendeur.
Sy derde gooi het óók die vorige wêreldrekord van 22.66 (wat 32 jaar lank agter sy landgenoot Randy Barnes se naam gestaan het) oortref, terwyl die derde ’n afstand is wat net twee ander atlete al binnenshuis kon verbysteek.
“Dit was ’n goeie begin tot 2021,” het Crouser gesê.
Binnenshuis trek die gewigstoot-bal nie so ver soos in die buitelug nie, soos onderstreep word deur die feit dat ’n 22.90 op die (buitemuurse) wêreldbyeenkoms van 2019 in Doha net genoeg vir ’n silwermedalje was.
In 2016 in Rio de Janeiro het hy met ’n afstand van 22.52 goud verower.
Vanjaar se Olimpiese Spele is tans nog veronderstel om op 23 Julie in Tokio te begin.
– Netwerk24


FOTO
Ryan Crouser van die VSA spog nou met die binnenshuise wêreldrekord in die gewigstoot agter sy naam. Foto Getty Images

Kommentaar

Republikein 2025-12-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer