Gesonde Rustyd
Vars seelug spoel deur die vensters van Tiger Reef terwyl ‘n paartjie sorgeloos hand-aan-hand op die strand stap met die skemer-son wat ‘n romantiese raam om hulle trek. Kinders speel vir oulaas in die breekwater terwyl hulle ouers ‘n ogie vanaf ‘n afstand hou. Hulle sit op ‘n kombers, tone in die sand en met ‘n glasie vonkelwyn in die hande. Nog vriende kom sluit by hulle aan en ek kan aflei dat hulle sommer direk van die viswater af gekom het. Hulle handgebare stuur seine uit van ‘n grote wat aan wal gebring is. ‘n Paar manne wat by ‘n tafel langs ons gesit het, het ook stil geword en probeer lippe lees om te probeer vasstel of hulle die koördinate van die dag se vangs kan bepaal.
‘n Kelnerin plaas ‘n koppie moerkoffie voor my neer en die aroma verskerp my sintuie. Emosies van vreugde wel in my op, want ek het vanmiddag my kantoordeur toegetrek tot volgende jaar. Ons sak weg in die leunstoele terwyl ek my koffie geniet as voorloper tot ‘n rooiwyntjie. Hoe dan nou anders! My vrou het solank die eerste glasie geskink om seker te maak dat dit waardig is vir die res van die aand.
Dit is mos die tyd van die jaar wanneer die binneland na Swakopmund migreer om verskeie vakansie-aktiwiteite te geniet soos om tentpenne in te slaan by verskeie gewilde kampplekke langs ons kuslyn, om lui-lekker in die son te lê en bak, om potjiekos op ‘n Boesman-oondjie op die strand te maak, om Langstrand se duine te troef, om saans saam met vriende te skater-lag asook om Hentiesbaai se raakrugby en die jaarlikse Vasbyt in die duinegordel te ondersteun. Dan is daar die visvang-bonanza, die Kersmark, Kersliedere by die amfiteater en dan kan die jong-klomp uitsien na verskeie kunstenaars wat hulle gaan vermaak. Vir die sport-entoesiaste is daar ‘n muurbaltoernooi, sokkertoernooie, valskermspring, branderplankry, knortjorre, en vele meer. Daar word deurlopend gesmul aan unieke geregte en verskeie nuwe drankies word beproef. Dit is ‘n feestyd waar mense hulle sorge tuis laat en vir ‘n maand net kan afskakel en wegbreek van bekommernisse.
Navorsing het egter bevind dat vakansie nie noodwendig altyd sinoniem met gesonde rus is nie. Ons emosies gedurende vakansie het ‘n bepalende impak op die kwaliteit van ons vakansie en het ‘n direkte impak op ons gesondheid. Gewoonlik ervaar ons verskillende emosies wanneer ons reis, tyd saam met die familie spandeer, geskenke moet koop, moet besluit by watter ouers die jaar Kersfees spandeer moet word, asook wanneer ons reëlings moet tref vir familie-kuiertjies. Hierdie emosies kan wissel vanaf vreugde tot ongeluk, afhangende van elke familie se unieke omstandighede. Ons primêre doelwit moet wees om emosies van geluk en vreugde te ontsluit, want dit het ‘n direkte impak op ons geestes- en fisiese gesondheid. Ons moet probeer om situasies wat negatiewe emosies kan ontsluit, te vermy of om dit positief te probeer stem. Ons moet juis tyd saam met mense spandeer wat ons laat glimlag, lag of vreugde laat ervaar want dit verminder spanning en versterk die immuunstelsel. Indien ons spanning en negatiewe emosies ervaar, verhoog dit bloeddruk, kan lei tot hartsiektes, kan ‘n impak op suikervlakke in die bloed hê en kan ons immuunstelsel so verswak dat ons vatbaar raak vir verskeie siektes wanneer ons weer vir werk aanklop in die nuwe jaar.
Julle sal seker met my saamstem dat dit byna onmoontlik is om negatiewe emosies te vermy veral wanneer daar met familie en vriende omgegaan word, maar die idee is dat die positiewe emosies die negatiewe emosies met ten minste 80 persent moet oorskadu want dan sal ons ‘n kwaliteit rustyd ervaar wat ons geestelik en verstandelik sal reg voorberei vir 2018.
Dus, maak tyd om op die strand te gaan stap met die branders wat oor jou voete spoel en die vars seelug wat jou sintuie verskerp. Moenie skuldig voel om mense en situasies te vermy wat jou emosioneel negatief kan stem nie. Onthou, die jaar was lank en jy verdien dit om net aandag aan jouself en die familie te skenk; om sorgeloos en gelukkig te wees.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie