Geen geringe ‘jop’

Swapo het vir die eerste keer geen lede in die bestuurskomitee van die Windhoek-stadsraad nie.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die leier van die Affirmative Repositioning (AR), dr. Job Amupanda, is gister sonder teenstand as die nuutverkose burgemeester van die Windhoekse munisipaliteit (CoW) aanvaar.

In ’n geskiedkundige oomblik in die politieke leierskap van die hoofstad is die regerende party nie meer in beheer van die Windhoek-munisipaliteit nie.

Amupanda het dit as “’n pragtige vertoning van verandering” en “’n bepalende oomblik” in sy aanvaardingstoespraak genoem.

Simbolies het Amupanda geweier om die seremoniële ketting om sy nek te laat plaas.

“Die ketting is ’n ideologiese kwessie vir my en ek het dit nie nodig om behuising te voorsien nie,” het hy gesê.

Amupanda is vasbeslote dat die skeiding tussen mense van belang en gewone inwoners van Windhoek iets van die verlede moet wees.

“Selfs die goewerneur (me. Laura McLeod-Katjirua) wat hier agter my sit se water moet afgesny word as sy nie betaal nie.”

Sy boodskap is met spesifieke voorbeelde tuisgebring.

“Daar is 600 skoonmakers wat die munisipaliteit weier om aan te stel. Hoekom het ons dan ’n tender uitgereik vir die was van munisipale busse?” vra hy.

Hy belowe ’n beter toekoms vir die lae-inkomstewerkers van die hoofstad.

Amupanda sê munisipale beamptes sal die raad se leierskap nou moet aanvaar.

“Beleidsbesluite en -rigting word deur hierdie raad bepaal. Ons ontwerp die program en sê waarheen ons beweeg. Van vandag af is daar ’n nuwe beleidsrigting. Julle het nou met ander mense te doen,” het hy die munisipale beamptes laat weet.

Amupanda het gesê sy hoofdoel is behuising. “As dit in die verlede 50 dae geneem het om dienste aan 100 erwe te lewer, moet dit nou 25 dae neem,” dring hy aan.

Volgens die AR-leier is behuising ’n dringende noodsaaklikheid aangesien dit verwag word dat die hoofstad se bevolking in die volgende 19 jaar met amper 500 000 sal toeneem. Hy stel voor dat die jaarlikse Jazz-fees vir 2021 gekanselleer word en die geld eerder gebruik word vir ’n behuisingsfonds.

Amupanda het gewaarsku dat die oorwinning deur die samewerking van verskeie opposisiepartye gekom het en dat niemand moet gewoond raak aan hom as die burgemeester nie. Die amp van burgemeester sal roteer tussen dié partye.

“Die sal werklik ’n gesamentlike leierskap wees,” sê hy.

“Ons is almal in beheer,” sê Amupanda.

Volgens hom was die Landless People's Movement (LPM), Popular Democratic Movement (PDM), National Unity Democratic Organisation (Nudo) en die Independent Patriots for Change (IPC) betrokke om die opposisie te verenig.

“Aan die jong mans en vroue van die rooi ster, julle het ’n suksesvolle veldtog gevoer,” het hy gesê toe trane by sy wange begin afloop het.

“Miskien is dit die beste model vir die land sodat daar geen strafloosheid is nie,” het hy van die gesamentlike leierskap gesê. “Windhoek is nou so spesiaal en ons lei nou Namibië vanaf Windhoek.”

Die onderburgemeester is me. Clemencia Hanases van die PDM. Die ander bestuurskomiteelede is ook uit opposisiegeledere saamgestel. Hulle is mnr. Joseph Uapingene van Nudo, me. Desiree Davids van die IPC, me. Sade Gawanas van die LPM, me. Ilse Keister (AR) en mnr. Ndeshihafela Larandje van die IPC.

Die ander raadslede is:

Filemon Hambuda (IPC)

Fransina Kahungu (Swapo)

Queen Kamati (Swapo)

Austin Kwenani (Swapo)

Sam Nujoma (Swapo)

Magdalena Pienaar-Lombardt (Swapo)

Ivan Skrywer (LPM) en

Bernadus Araeb (IPC). - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer