Fietsry in Afrika steier: NTT hernu nie kontrak

Fietsry
Marnus Kok – Die voortbestaan van die Suid-Afrikaanse NTT-beroepsfietsryspan hang aan ’n dun draadjie nadat sy titelborg aangedui het dat hy nie sy borgskap ná 2020 gaan hernu nie.
NTT het die nuus Maandag in ’n verklaring aangekondig en ook gesê dat alles moontlik gedoen word om die span se toekoms te verseker. Dit bring ’n einde aan die borg se verbintenis van ses jaar met die span. Vir plaaslike fietsry is die nuus ’n reuse-terugslag.
Die span was meer as ’n dekade gelede die geesteskind van Douglas Ryder, wat tans die spanhoof is. Hy het dit van ’n kontinentale span in 2008 tot ’n Wêreldtoer-span in 2016 laat vorder.
Dit maak dit die enigste span van Afrika wat op topvlak meeding. Die span het in 2016 as Dimension Data bekend gestaan, met die naam wat laat in 2019 na NTT verander is.
Van Suid-Afrika se voorste ryers soos Louis Meintjes, Nicholas Dlamini, Ryan Gibbons en Reinardt Janse van Rensburg is almal op die span se boeke. Sou die span nie daarin slaag om ’n borg te bekom nie, kan dit hul loopbane as beroepsryers in die weegskaal plaas.
Die span het boonop ryers van die kontinent soos Daniel Teklehaimanot en Merhawi Kudus, albei van Eritrea, die afgelope paar jaar die geleentheid gegee om op die hoogste vlak deel te neem. Hulle was suksesvol en ’n getuigskrif dat ryers van Afrika saam met die groot honde kan blaf.
In 2015 was MTN-Qhubeka, soos die span destyds bekend gestaan het, as promotorkeuse, die eerste span van Afrika wat aan die prestigeryke Tour de France deelgeneem het. En die lig het aanvanklik helder geskyn met ’n skofsege daardie eerste jaar en sommer vyf in 2016.
In die huidige ekonomiese klimaat kan Ryder-hulle dit moeilik vind om ’n borgskap te beklink. Die realiteit is dat borge blootstelling soek en dat die SA span se laaste skofsege in die Tour in 2017 was.
Boonop het NTT vanjaar 20ste uit 22 in die spankompetisie klaargemaak – wat beslis nie moontlike beleggers oor hul voete sal laat val om hul beursies oop te maak nie.
– Netwerk24



FOTO
Drie ryers van NTT in die Tour Down Under vroeg in 2019. Van links is Giacomo Nizzolo (Italië), Ryan Gibbons (Suid-Afrika) en Samuele Battistella (Italië). Foto Getty Images

Kommentaar

Republikein 2025-05-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer