Enigiets moontlik in laaste ronde

Klubrugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Vyf uit die agt spanne in die Namibië Rugby-unie (NRU) se premierliga het nog ’n lewendige aanspraak om ’n plek in die semifinaal voor die laaste naweek van 2021 se kompetisie, wat oor ’n enkelronde beslis is.

Van al die spanne is FNB Universiteit van Namibië, die voorloper wat verlede naweek sy eerste nederlaag gely het, die enigste wat nie sy plek in die halfeindronde kan verloor nie.

Die gevolg is dat elkeen van die vier wedstryde se uitslae môre die samestelling van die uitklopfase kan beïnvloed. Die gewigtige spankeuses is moontlik ’n faktor waarom die meeste afrigters teen gisteraand se oefentyd nog nie hul wedstrydgroepe aangekondig het nie, tesame met die monitering van moontlike beserings laas naweek.

By die Unam-stadion word spanne nommer een en twee, Unam en FNB Western Suburbs, opgeweeg in een van die opwindende kragmetings van die seisoen.

Sedert die post-Covid-hervatting het Suburbs twee indrukwekkende seges behaal en het sy losskakel Justin Nel met 16 uit 17 skoppe pale toe geslaag. Die Khomasdallers behoort op papier hou vir hou met die studentespan saam te gesels en enigiets is moontlik.

• FNB Wanderers, ter viering van sy 100ste bestaansjaar wat verlede jaar nie behoorlik gedenk kon word nie, het in sy jaarlikse derby teen Trustco United alles in sy guns – insluitend die oorwig van ranglysposisies (derde teen agtste, 22 ligapunte teen vyf).

Die Wit Hingste het laas naweek invloedryke spelers soos JC Greyling, Thomasau Forbes, Darryl de la Harpe en waarskynlik hul speler van die wedstryd teen Unam, Obert Nortjé in sy arsenaal bygevoeg – maar sal lugtig wees vir die derby-tradisie dat vooraf gunstelinge al dikwels bloedneus gekry het.
Afrigter Rohan Kitshoff het net een verandering aangebring aan sy span wat Unam laas naweek met 27-25 gebêre het. JC Greyling skuif van linkervleuel na die middelveld langs Rico Lategan, terwyl Bernie Hugo op die reserwebank gereed sal sit.

• Op Rehoboth is ewe veel afwagting vir hul eie derby.

FNB Reho Falcon het laas naweek met net drie punte (35-32) teen Suburbs verloor en opnuut beklemtoon dat hy met groot respek benader moet word. Die swarttruie het vier drieë (deur haker Lwando Maxeke, flank Toby van Wyk, agtsteman Freginald Africa en skrumskakel Miquel Busch) teen Suburbs se vyf gedruk.

Vir môre het Falcon sy span onveranderd gelaat; net by die reserwes neem Aldo Loxton die plek van Patrick Waggie.

FNB Rehoboth het egter ook sy stempel afgedruk met ’n tuissege teen FNB Grootfontein (31-14).

“Dit was nie ons beste vertoning nie, maar ons het vasgebyt en ons was doeltreffend om punte te kry wanneer die kans hom voorgedoen het. Grootfontein was rustyd nog 14-10 voor, maar toe hulle moeg raak, het ons die bal vinnig en wyd gespeel en gouer by die breekpunte opgedaag,” was afrigter Johann Wohler se opsomming.
Rehoboth se spanlys: 1 Delano Coetzee, 2 Udo Mall, 3 Carl-William Freygang , 4 Conwill Draghoender, 5 Francois Visagie, 6 Titus Matias, 7 Chase Diergaardt, 8 Cameron McNab, 9 Sémile Loubser, 10 Ascher Coetzee, 11 Brandon Dentlinger, 12 Henrique Olivier (k), 13 Hillian Beukes, 14 Xauvier van Wyk, 15 Jeandre Loubser.
Reserwes: 16 Jeandre Cloete, 18 Gershwin Majiedt, 20 Diego Loubser, 21 Keaton Freygang, 22 Gurtley Beukes en nog twee uit die tweede span.
• Grootfontein het ook môre die tuisvoordeel en die motivering dat hy vanuit die vyfde posisie waarskynlik twee bonuspunte sal moet behaal in sy wedstryd teen Kudus. Die noordespan kan ’n goeie seisoen in die uitklopfase afsluit, maar die Walvisbaaiers (wat laas naweek volpunte teen United gekry het) kan nie meer deurdring nie.

Hierdie wedstryd word môre vanaf 15:00 deur NMH se span op die Facebook-blad van Republikein gebeeldsend.

Kommentaar

Republikein 2026-06-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer