Ek wonder nie meer nie

Otis Daniels_Finck
Otis Finck - As kinders was die duine aan die buitewyke van die lokasie ons speelpark. Daar het ons sandbord gery, kampe gebou, verkenningstogte aangepak en kon ons sommer net kind wees.

Destyds was die nou verlate en eens Suid-Afrikaanse militêre basis tussen Duin 7 en ons dorpie geleë, verbode terrein vir almal.

Gerugte van wat glo agter die hoë heining en onder die grond aan die gang was, het almal se verbeelding aangegryp.

Toe ek Saterdagoggend vroeg my voordeur oopmaak, word ek deur ’n toneel begroet wat my vinnig laat terugdeins na die veilige beskutting van die mure van my woning. Ek loer deur ’n skrefie. Dit lyk dan nou asof die straat voor my huis tjokkenblok vol staan met vreemde karre.

Ek stap na die sitkamervenster en trek die gordyn effens oop net om seker te maak my oë bedrieg my nie. Is die president dan hier? wonder ek vir ’n oomblik.

My nuuskierigheid kry die oorhand en ek glip na buite om van nader ondersoek in te stel.

“Nee, nee, nee!” hoor ek ’n baie belangrike persoon wie se stem ek onmiddellik herken, sê. “Ons sal met die mense moet praat. Ek ken die mense en ons kan nie dinge sommer net so doen nie,” gaan die persoon voort.

Toe ek oor my ringmuur loer om te kyk wat eintlik aan die gaan is, slaan die groep belangrike persone rigting duine in. In die verte sien ek hoe daar verduidelik en met die hande beduie word.

So vinnig as wat die groep mense hier aangekom het, verdwyn hulle ook weer.

Ek slaag net-net daarin om een van hulle onkant te betrap voor hy ook die hasepad kies. “Môre meester. Waaroor gaan die bohaai? ” probeer ek beskaafd ’n gesprek aanknoop.

“Ons gaan die nuwe begraafplaas hier begin bou,” kom die haastige antwoord wat saam-saam met die vinnige wegtrek van die voertuig gepaard gaan.

Sondagoggend is daar weer karre in die straat voor my huis, maar die keer is daar minder mense. Daar word weer duine se kant toe gestap en ek sien hoe slaan hulle plek-plek penne in die grond.

Maandagoggend vroeg bars daar ’n hewige lawaai los. ’n Vreemde alarm pluk my uit die bed. Die oorsaak is ’n padskraper wat besig is om ’n hoop sand heen en weer gelyk te stoot.

Ek staan nader. “Wat maak julle?” vra ek vir die operateur. “Ons bou ’n pad na die nuwe begraafplaas,” laat weet hy uit sy kajuit.

Trokke kom laai later vragte gips af. Die eens verlate en stil area is nou ’n miernes van bedrywighede.

Toe daar weer ’n groep munisipale amptenare verskyn, besluit ek om hulle trompop te konfronteer.

“Julle is besig,” skiet ek die eerste skoot. “Ja, ons moet wikkel want hulle gaan mense wat dood aan corona hier kom begrawe by julle,” deel een my mee.

Ek dink nie ek het verder geluister nie, of dit kon die wind wees wat sy woorde die wye woestyn in en weg gewaai het.

Dinsdag laatmiddag kom daar ’n stoet die straat af. Daar is mense met wit oorpakke aan. Soldate staan ook plek-plek rond. Ek ontdek die eerste persoon wat in Namibië dood is aan Covid word ongeveer ’n kilometer van my huis ter aarde bestel.

Ander inwoners van die buurt het die affêre met verwondering aanskou.

’n Sombere gedoente, reg op ons voorstoep.

Kommentaar

Republikein 2026-07-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer