Ek haat my vrou-humor is gemeen

Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt
“Ek slaap skaars want my vrou snork soos ’n John Deere-trekker,” of ’n soortgelyk sêding het ons almal al gehoor en ek gaan dit sê – dit is rêrig nie snaaks nie.

Ek haat my vrou-humor is die onsmaaklikste humor wat bestaan en nog meer moet jou arme eggenoot dit verduur.

Ek is die eerste om speel-speel ’n paar woorde aan iemand te rig en ons almal weet dat donker humor die beste humor is, maar jy het met jou eggenoot getrou omdat hulle vir jou ’n veilige hawe weg van ’n deurmekaar wêreld is. Hulle het om dié rede ook ewige trou aan jou belowe. Hoekom moet hierdie veilige hawe versteur word met ’n belediging hier en ’n bietjie afkraak daar?

Jou liewe vrou het vet geword; sy lyk nie meer soos wat sy gelyk het nie. Haar heupe is nie meer so ferms soos toe julle getroud is nie, maar het jy net met haar getrou vir haar figuur? Ek hoop nie so nie.

Jou vrou snork en jy kan nie meer ’n bed met haar deel nie; gaan slaap in die spaarkamer.

Jou huwelik is nie op die rotse omdat jy ’n besluit vir jou eie gesondheid neem nie. Slaap in jou eie bed en maak haar die volgende oggend wakker met ’n soen en ’n koppie koffie. Alles hoef nie altyd ’n probleem te wees nie.

Die huwelik is ’n voorreg; dit is nie veronderstel om net nog iets op ’n perfektelewe-lysie te wees nie. Jy is bevoorreg om iemand lief te hê en om daardie liefde terug te ontvang.

Jou vrou mag dalk soms ’n kopseer wees, maar dieselfde geld vir jou ook – so trek maar die Panado’s nader, want trou is nie perdekoop nie.

As tiener was ek alewig Aspoestertjie wat alleen by die huis moes sit omdat seuns hulle nie veel aan my gesteur het nie (ek ook nie aan hulle nie). My vriendinne het egter talle keuses gehad en dit ten volle gebruik.

“Ek moet ’n boyfriend kry,” het ’n vriendin vier dae ná die beëindiging van ’n verhouding vir my gesê.

“Hoekom?” het ek gevra. “Ek weet nie, sommer maar net.”

So lief soos ek hierdie vriendin het, sal ek haar – wanneer sy ewige trou aan haar toekomstige man belowe – haar uitjou as sy in haar troubelofte sê: “Ek weet nie, sommer maar net.”

Die huwelik is nie ’n ‘sommer maar net’-saak nie. Hierdie persoon moet waarde in jou lewe bysit anders mors jy net jou tyd.

As jou huwelik nie geluk bring nie, dan is daar iets met jou huwelik verkeerd. As jou huwelik geluk bring, maar John Deere is nie die beste klankbaan om jou te laat slaap nie, maak die nodige verandering om jou huwelik ’n gelukkige hawe te maak.

Vrywaring: Die skrywer is jonk en ongetroud

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer