Eensaam is nie kerksaam

Dani Booysen
NIE-UIT-EIE-KEUSE-EENKANT SKRYF:

Ek is moedeloos en raad-op.

By ons parogie is daar nie orde nie. Enige mens doen net wat hy/sy wil.

Mense is nou desperaat om geld in te samel en 'n "komitee" is blykbaar "gekies" wat hierdie sake hanteer. Hulle is besig met sensusopnames en koevertjies.

Waar en wanneer is hulle deur wie gekies? Ek is so hartseer oor ons parogie wat so agteruitgaan. Ons grootmense moet maar met die stroom saamgaan. Ander lede van die gemeente wat met beter idees, voorstelle en gedagtes kan help, word verby gekyk.

Daar is selfs 'n "page" wat die naam van die gemeente dra, maar net sekere mense is daarop. Op so 'n "page" moet al die gemeentelede gelaai word sodat ons in hierdie kritieke tyd met mekaar kan kommunikeer en besluite gesamentlik kan neem.

By ons word dinge heel anders gedoen. Praat jy, is jy die opsteker!

By die ander gemeentes word dinge so mooi gedoen, maar by ons wil mense seker as die bestes gesien word. Tot wanneer moet dit so aangaan? Ek is jammer dat ek ons sake in 'n koerant bespreek, maar ek weet nie na wie om te gaan nie. Die kerkleiding en die kringleiding is bewus van hierdie abnormale toestand wat nou jare aankom, maar daar word niks aan gedoen nie. Hulle weet ook wie hierdie groepie mense is maar daar word niks gedoen nie.

Al wat nou vir my oorbly, is om ernstig te bid vir ons gemeente. Ek moet ernstig bid dat die Here ingryp, want dit rêrig nou Sy tyd sodat hierdie mense tog kan ophou, sodat ons tog vrede en eensgesindheid in ons gemeente moet terugkry. Ek bid ook dat die grootmense wat in die parogieraad is hul monde moet begin oopmaak en dinge aanspreek wat nie reg is nie en ophou saamspeel. My God sal my gebede verhoor.

Maar iemand moet tog ook kom en hierdie mense tot orde roep. Daar moet nie draaie geloop word nie. Hulle moet reguit gesê word om hierdie baasskap te stop. Eintlik moet die hele parogieraad van hul pligte onthef en vervang word.

Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer