Domisiliesaak onder vergrootglas

Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith – Immmigrasie-owerhede en hul hantering van ‘n domisiliesaak is gister tydens 'n appèlverhoor in die hooggeregshof onder ‘n mikroskoop geplaas deur drie van die hoogste regters in Namibië.

Hoofregter Peter Shivute, adjunkhoofregter Petrus Damaseb, en hooggeregshofregter Dave Smuts het die ministerie van binnelandse sake se regspan onder kruisverhoor geneem oor die ministerie se domisilieprosedures en die behandeling van mnr. Guillermo Delgado – ‘n Mexikaanse burger wat in Januarie 2020 belet is om na Namibië terug te keer sonder vooraf waarskuwing en sonder dat die behoorlike kanale gevolg is.

Smuts het die behandeling wat Delgado ontvang het as “buitengewoon afgryslik” beskryf en gesê die omstandighede rondom Delgado se ervarings met immigrasiebeamptes “herinner aan die vorige orde van hierdie land in die manier waarop burokrasie andersdenkendes in die apartheidsjare behandel het”.

Shivute het die optrede teenoor Delgado as “fel” beskryf en kritiek uitgespreek oor die feit dat hy nie ‘n kans gegun is “om gehoor te word” voordat hy summier uitgeskop is nie.

Die hoofregter het benadruk dat Delgado op die tydstip toe hy toegang geweier is, wettiglik in Namibië gewoon het.

UIT

Grensamptenare se skielike weiering om Delgado terug in die land toe te laat, kom nadat hy om 'n verlenging van 'n artikel 38-sertifikaat aansoek gedoen het, wat in 2018 aan hom toegestaan is ná 'n aansoek om domisilie, en wat vir een jaar geldig is.

Delgado se regspan het aangevoer domisilie is aan hom verleen en die sertifikaat is daarna uitgereik.

Toe hy met sy terugkeer in Januarie 2020 meegedeel is dat 'n aansoek om die sertifikaat te hernu of te verleng, geweier is op grond van sy huwelik met mnr. Phillip Lühl, ‘n Namibiese burger, moes hy hom tot die hooggeregshof wend vir ‘n geleentheid om sy gesin te verenig.

Delgado se aansoek om binnelandse sake se besluit om nié die sertifikaat te hernu nie tersyde te stel, is in Februarie vanjaar deur hoërhofregter Thomas Masuku van die hand gewys.

REGVERDIGE PROSES

Me. Uno Katjipuka-Sibolile, ‘n prokureur, het Maandag in die hof aangevoer die ministerie van binnelandse sake het 'n algemene praktyk ontwikkel om die betrokke sertifikate aan persone uit te reik wat in Namibië woonagtig is.

Sy het verder aangevoer die sertifikaat self kan – indien dit van die hand gewys word – nie die domisiliestatus verander nie, veral nie sonder om die billike proses wat aan die persoon verskuldig is, te volg nie.

Damaseb het gister gesê dit wil voorkom asof “die regering domisilie aan hom verleen het; en as hulle dit wegneem, het hy die reg om op te tree. Dit is die kern van die probleem in hierdie geval”.

Hy het voorts gesê die regering se praktyk om die sertifikate aan persone met domisilie uit te reik, kan nie op 'n ad hoc-basis geskied nie.

“Ons kan nie die regering carte blanche gee om te besluit wanneer ‘n persoon domisilie het of nie. Die publiek het sekerheid nodig.”

Shivute het daarop gewys dat “die praktyk op voetsoolvlak is dat jy wanneer jy om hierdie sertifikaat aansoek doen, doen jy aansoek om domisilie” – volgens amptelike dokumente wat by die hof ingedien is.

Mnr. Thandazani Griffits Madonsela, ’n advokaat wat aangestel is om die ministerie te verteenwoordig, het aangevoer die artikel 38-sertifikaat is nie ‘n bewys of erkenning van domisilie nie.

Smuts het op sy beurt die immigrasiehoof se bewering in amptelike hofstukke dat Delgado vir immigrasie-owerhede gelieg het oor sy huwelik met Lühl, gekritiseer.

Smuts het gesê die bewering was “duidelik verkeerd. Daar was geen vals inligting nie” en het gesê die verklaring deur die immigrasiebeampte is kommerwekkend en “nogal ‘n bevooroordeelde benadering deur die ministerie”.

DISKRIMINASIE

Katjipuka-Sibolile het aangevoer enige persoon wat met 'n Namibiër getroud is, kan op grond van die huwelik domisilie verkry.

Sy het opgemerk dat hoewel die ministerie van binnelandse sake nie selfdegeslaghuwelike erken nie, is die regte wat die Grondwet aan Namibiërs waarborg nie net op heteroseksuele persone van toepassing nie.

Sy het verder aangevoer die Grondwet kan nie op die standaarde en tradisies van die verlede geïnterpreteer word nie.

“Ons Grondwet is duidelik gebaseer op die beginsels van inherente waardigheid, gelykheid en die konsep van nie-diskriminasie.”

Sy het gesê om sekere regte slegs aan heteroseksuele persone te verleen, “maar nie aan homoseksuele persone nie, is diskriminasie. Dit is ongrondwetlik”.

Die uitspraak is voorbehou en geen datum waarop uitspraak gelewer kan word, is bekend gemaak nie.

Die Delgado-Lühl-gesin sal ook vandeesmaand hoor of die hoërhof die ministerie van binnelandse sake sal dwing om burgerskap op grond van herkoms aan hul seun Yona – en gevolglik hul tweelingdogters – toe te staan. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer