Dis amptelik: Pieter-Steph bly in SA

Rugby
Stephen Nell – Dis nou amptelik: Wêreldrugby se Speler van die Jaar, Pieter-Steph du Toit, bly in die Westelike Provinsie.

Du Toit (27) kon soos elke ander Suid-Afrikaanse speler die opsie uitoefen om tydens ’n grasietydperk van 21 dae sy kontrak op te sê ten gunste van ’n aanbod van ’n oorsese klub, maar het daarteen besluit. Die spertyd vir die grasietydperk is Donderdag (vandag).

Die WP Rugbyunie (WPRU) het wel die geldigheid van daardie klousule betwis, maar hoe dit ook al sy, gaan dit wat Du Toit betref nie op ’n twis neerkom nie.

“Ek is vanoggend in kennis gestel dat Pieter-Steph bly. Hy gaan dieselfde salarisvermindering as almal anders aanvaar. Hy’s deur en deur ’n spanman,” het André van der Veen, wat op die WPRU se bestuurskomitee dien, Donderdag aan Netwerk24 gesê.

“Die proses vir Pieter-Steph om by hierdie punt uit te kom, was anders as vir ander mense. Dis omdat hy ’n ander tipe persoon is. Hy praat nie baie nie en is nie ’n persoon wat in die media gaan opstaan en dinge sê nie.

“Dis nie sy rol in die span nie. As jy kyk hoe hy rugby speel, hy’s nie ’n ou wat ná die tyd hoef te praat nie, want dít wat hy op die veld doen, sê alles.”

Die 21-dae-klousule het gevolg op onderhandelinge tussen MyPlayers, die organisasie wat Suid-Afrika se beroepspelers verteenwoordig, en Suid-Afrikaanse rugby se werkgewers oor ’n besparingsplan waarvolgens spelers salarisverminderings moes aanvaar.

Du Toit sal waarskynlik sowat 40% van sy inkomste inboet.

Daar is voorverlede week deur Rapport berig dat Du Toit ’n oorsese kontrak van R75 miljoen deur die Franse klub Montpellier aangebied is om nou oorsee te gaan, maar dít is ten sterkste ontken. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer