Dans in Afrikaans
Destyds in my Vertaal- en Tolkstudiesklas het ons van kultuur-spesifieke konsepte geleer. Dit is die woorde wat nie 'n ekwivalent in 'n ander taal of kultuur het nie, en is dus van die moeilikstes om te vertaal. Dié konsepte moet dikwels as 'n meer breedvoerige “verduideliking” vertaal word. Een van die woorde waarmee ons baie pret gehad het in die klas, was die Afrikaanse woord “sokkie”.
Nee, nie die sokkies wat jou broer oral in die huis laat rondlê wat só stink dat dit jou oë laat traan nie. Ek praat van die trots-Afrikaanse dans.
My getroue HAT beskryf “sokkie” as 'n “informele dans, oorspronklik op kouse gedoen”. Ek daag jou nou uit om die Engelse ekwivalent daarvan te vind. “Informal dance” sê dit net nie so lekker nie. Beide die woord en die daad is so Afrikaans soos wat jy kan kry. Nie in één fliek het ek al iets soortgelyk gesien nie. By dié skooldanse (wat by ons ook heel gepas “sokkies” genoem word), is hulle idee van vasdans om mekaar styf vas te hou en op een plek heen en weer te wieg. Dit lyk nie of dit juis enige dansvermoë verg nie. Dink jy egter aan 'n Afrikaanse skoolsokkie, dink jy dalk aan Kurt Darren, die Afrikaanse boyband Eden, two-step, allerlei snaakse tilte en draaie en 'n oorvol dansvloer.
Amper soos iets uit 'n fliek van die 1960's. En anders as die eentonige Amerikaanse slow dance is sokkie/langarm/boerewals – wat ook al jy dit wil noem, nogal 'n kuns om te bemeester.
Jy en jou dansmaat moet 'n voeling vir mekaar se ritme hê, anders gaan een of al twee se tone die volgende dag blou wees. Of julle gaan “stampkarretjies” speel met die ander paartjies op die dansvloer. En as jy nie die kenmerkende glide van sokkie bemeester het nie, lyk jy soos 'n idioot wat oor die dansvloer hop-hop.
As jy 'n meisie is, moet jy weet vir wie jy moet “ja” sê. Ek dink baie dames ken die gevoel. Jy stem in om met 'n ou te dans en jy kom agter jy is nou in die kloue van 'n hopper. Almal se oë is op jou en jy wens die vloer kan jou insluk. Of die optimis wat uiteindelik die moed bymekaarskraap om jou te vra, het sulke spaghetti-armpies en jy weet jy is veels te swaar vir dié arme skepsel. Ek is al op my kop laat val deur so 'n gogga wat my verseker het hy sal my kan “dip”.
Ek moes dit sien kom het, sy arms was dunner as myne. Dit is soms egter baie moeilik om “nee” te sê wanneer 'n outjie sy hand hoopvol uitsteek. Ongelukkig is dit ook so dat meeste van die verantwoordelikheid op die ouens se skouers rus. As jy nie leiding kan neem nie, gaan jy én die arme meisie redelik simpel op die dansvloer lyk.
Jy moet jou ook voorberei vir die meer intieme deel van die dans, waar jy dalk gaan asem moet ophou wanneer jou dansmaat se vrot asem in jou gesig nie ontduik kan word nie.
Party dansmaats is soms effens oorentoesiasties en ruk byna jou arms uit hulle potjies. Jy kan jouself ook op lyfseer voorberei, want sokkie is 'n propperse oefensessie. Dikwels die enigste oefening wat studente weekliks inkry. Ek het die afgelope naweek vir die eerste keer in 'n lang tyd weer op die dansvloer beland, en ek dink ek het dit verkeerd gedoen, want my maagspiere is seer. Maar genade, dit was lekker om weer vir 'n slag my skoene uit te skop en in Afrikaans te dans!

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie