Cran verloor stryd teen MTC

Cran sê hy is finansieel afhanklik van die inkomste wat deur ­heffings gegenereer word en kan daarsonder nie as 'n onafhanklike en doeltreffende reguleerder funksioneer nie.
Andrew Poolman
Marc Springer



Die hoërhof het die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie in Namibië (Cran) verbied om sy besluit van 23 Maart 2021 uit te voer, wat bepaal het dat Mobile Tele­communications Limited (MTC) se aansoek om 'n spektrumlisensie nie oorweeg sou word voordat laasgenoemde nie die N$100 miljoen in uitstaande heffings betaal wat glo aan die reguleerder verskuldig is nie.

Hoewel die hoërhof dié heffings deur Cran drie jaar gelede as ongrondwetlik verklaar het, duur die regstryd oor die tariewe voort. Hierdie keer gaan die geskil oor die vraag of die nietigverklaring van die heffings slegs geldig is vanaf die datum van die uitspraak, of terugwerkend moet wees.

Cran voer aan die nietigverklaring van die heffings geplaas op die 56 telekommunikasieverskaffers, radiostasies en TV-instellings wat by die reguleerder geregistreer is, het eers op die dag van die uitspraak (11 Junie 2018) van krag geword.

As sodanig dring die reguleerder daarop aan dat Telecom en MTC onderskeidelik steeds N$67 miljoen en N$100 miljoen skuld, wat glo uitstaande was op die datum waarop die heffings nietig verklaar is.

Gevolglik het die Cran-direksie op 23 Maart vanjaar 'n algemene besluit geneem dat geen lisensie-aansoek deur enige van die geregistreerde instansies oorweeg sal word voordat al hul uitstaande heffings op die uitspraakdatum ten volle betaal is nie.

Ingevolge dié besluit het die reguleerder 'n versoek om 'n spektrumlisensie (vaste satellietdienste) wat MTC in 2020 ingedien het, van die hand gewys en verklaar dat die applikante steeds N$100 miljoen skuld en dus nie 'n goeie verhouding met Cran het nie.



DRINGENDE APPèLAANSOEK

MTC het 'n dringende ­appèlaansoek teen die besluit ingedien, wat Dinsdag deur regter Harald Geier goedgekeur is. In 'n beëdigde verklaring wat by die hoërhof ingedien is, het die maatskappy se regsbeampte, me. Patience Kanalelo, daarop gewys dat Cran se besluit “onreël­matig, onregverdig en onredelik” was. Veral as in ag geneem word dat MTC in 'n afsonderlike regsgeding Cran se gesag uitdaag om die beweerde uitstaande N$100 miljoen te eis.

Kanalelo het daarop gewys dat MTC tussen Februarie 2018 en Februarie 2021 minstens 30 aansoeke by Cran ingedien het, wat almal goedgekeur is.

Hoewel die geskil oor beweerde uitstaande lisensiegeld nog gedurende die tweejaarperiode aan die gang was, het Cran “nooit hierdie dwangbenadering gevolg wat hy onlangs gebruik het nie, en nie een keer was die heersende beskouing dat MTC nie in hul goeie boekies is nie”.



'HEFFINGS IS ONGRONDWETLIK'

Sy het verder benadruk daar is tans geen uitspraak wat Cran se standpunt ondersteun nie, naamlik dat die skrapping van die heffings geen terugwerkende effek gehad het nie en dat MTC dus steeds aanspreeklik was vir alle uitstaande gelde.

Die hooggeregshof het beslis die heffings is ongrondwetlik en het aangevoer Cran mag nie 'n heffing plaas wat gelykstaande is aan 1,5% van die omset van al die geregistreerde lisensiehouers nie. Dié uitspraak was die gevolg van 'n regsgeding deur Telecom waarin die staatsonderneming aangevoer het die heffing kan nie gekoppel word aan die omset van individuele kommunikasieverskaffers nie, aangesien almal gebaat het by die regulerende werk wat Cran gedoen het en almal moet dus dieselfde bedrag betaal.

Cran het die argument teengestaan en gesê die onderneming is ­finansieel afhanklik van die inkomste wat deur heffings gegenereer word en kan daarsonder nie as 'n onafhanklike en doeltreffende reguleerder funksioneer nie. Hulle het sedertdien herhaaldelik gesê sonder die inkomste uit heffingsgeld het sy finansiële situasie tot só 'n mate verswak dat hy bykans nie meer die diens kan lewer wat van die onderneming vereis word nie.

Mnr. Sisa Namandje het Cran verteenwoordig, en mnr. Elias Shikongo vir MTC. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer