Covid-golf stuit hospitaalbesoeke

Dani Booysen
Henriette Lamprecht, Yandi du Plessis en Tanja Bause

Met nog ‘n nuwe Covid-19-rekord wat gister in Namibië aangekondig is, het staatshospitale reeds teen die afgelope naweek hul deure vir besoekers gesluit.

Die Windhoek Sentrale Hospitaal het op 18 Desember kennis gegee besoektye word tot verdere kennisgewing vanaf 19 Desember opgeskort weens die styging in Covid-19-gevalle.

Die Lady Pohamba Private Hospitaal het ook op 17 Desember aangekondig pasiënte kan nie meer besoekers ontvang nie. “Die gesondheid en veiligheid van ons pasiënte, besoekers, personeel en gemeenskap bly die topprioriteit by Lady Pohamba,” lui die rede vir die besluit.

Die uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, mnr. Ben Nangombe, het gister bevestig besoektye is by alle staatsgeriewe verbied om die verspreiding van die coronavirus te probeer beperk.

“Ons wil so ver as moontlik die beweging na en vanaf gesondheidsfasiliteite beperk. Eerstens om die risiko te beperk dat besoekers met die virus geïnfekteer kan word, en tweedens om te verhoed dat besoekers ander siektes by die hospitale inbring,” het Nangombe verduidelik.

MediClinic in Windhoek laat wel beperkte besoeke toe.

“Ons kyk na die behoeftes van ons pasiënte en laat een besoeker per dag toe. Ons vat dit dag vir dag en sal besluite neem soos dit nodig word. Ons het baie goeie toegangsbeheer en net een persoon word per dag per pasiënt toegelaat vir ’n bepaalde tyd,” het me. Dezne Colmer, bestuurder van pasiëntervarings, gesê.

NUWE SYFERS

Gister is 585 nuwe gevalle aangekondig. Die data is vir Sondag.

Nog drie Covid-19-verwante sterftes, almal op 20 Desember, stoot die dodetol op tot 180. Die sterfgevalle is twee 40-jarige vroue van Windhoek sonder enige onderliggende mediese toestande en 'n 55-jarige vrou van Karasburg wat wel ander siektes onder lede gehad het.

Nuwe gevalle per distrik: Windhoek 342, Opuwo 79, Swakopmund 34, Walvisbaai 30, Otjiwarongo 23, Oshakati 11, Grootfontein 8, 6 elk op Usakos, Okahandja, Rehoboth, Mariental en Rundu, 7 elk op Karasburg en Keetmanshoop, Tsumeb 5, Gobabis 3, 2 elk op Okakarara en Lüderitz en 1 geval op beide Outjo en Katima Mulilo.

‘n Totaal van 164 pasiënte was in die hospitaal en 30 van hulle in intensiewesorgeenhede.

Die herstelsyfer het met 74 mense tot 16 041 aangegroei.

Kommentaar

Republikein 2025-12-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer