Borg ná 'tref-en-trap'; oorledene uitgeken

Leandrea Louw
Leandrea Louw – 'n Vrou (34) wat daarvan beskuldig word dat sy in 'n tref-en-trap-ongeluk op die B2-hoofpad tussen Walvisbaai en Swakopmund betrokke was, is op borgtog van N$10 000 vrygelaat.

Me. Charlet de Bruyn het borg gekry 'n week nadat sy haar eerste verskyning in die landdroshof op Walvisbaai gemaak het.

Volgens adj.komm. Erastus Iikuyu, koördineerder van misdaadondersoeke in die Erongostreek, is sy aangekla vir strafbare manslag, versuim om die beseerde se toestand te bepaal en dat sy van die ongelukstoneel gevlug het.

“De Bruyn het op 2 Februarie omstreeks 20:50 in 'n Ford Ranger-dubbelkajuitbakkie van Walvisbaai na Langstrand gery.

Sy het na bewering 'n ongeïdentifiseerde middeljarige man gestamp wat vermoedelik die pad wou oorsteek. Die man is op die toneel dood,” het hy gesê.

Iikuyu het gesê die beskuldigde het van die toneel gevlug en is later by haar huis in hegtenis geneem.

Die man se ma het op 5 Februarie hom as mnr. Willdrew Visagie (30) van Narraville op Walvisbaai geïdentifiseer.

De Bruyn het haar tweede hofverskyning voor landdros Vicky Nicolaidis gemaak en haar regsverteenwoordiger is mnr. Ray Rukoro.

Tydens die verhoor het die staatsaanklaer Tuihaleni Hilikuete gesê die ondersoek duur voort en borgtog mag toegestaan word met voorwaardes.

Die voorwaarde sluit in dat De Bruyn haar paspoort aan die ondersoekbeampte oorhandig en sy nie vir 'n nuwe een mag aansoek doen voor die hofsaak afgehandel is nie.

De Bruyn met ook elke Vrydag tussen 07:00 en 17:00 by die Yanni Savva-polisiekantoor aanmeld.

Sy is voorheen deur me. Llana Fourie verteenwoordig. Die saak is tot 25 Maart vir verdere ondersoek uitgestel.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer