AR steun Ipinge se ingrype

Kabinet verwerp die Walvisbaai-raadslid se bevel dat twee besighede moet sluit.
Denver Kisting
Denver Kisting, en Augetto Graig – Mnr. Job Amupanda van die Regstellende Herposisioneringsbeweging (AR) dring aan dat die raadslid vir die Walvisbaai- stedelike kiesafdeling, mnr. Knowledge Ipinge, reg was om spoedig in die belang van die Walvisbaaise gemeenskap op te tree. Dít nadat die minister van inligting en kommunikasietegnologie, dr. Peya Mushelenga, gesê het Ipinge het nie die reg om te gelas ’n handelsbank en ’n vragmotordepot moet sluit nie. Ipinge se aankondiging het gekom nadat ’n vragmotorbestuurder langs die kus positief getoets het vir die coronavirus, en onder meer dié twee besighede besoek het.

Mushelenga sê die kabinet het Maandag oor die kwessie beraadslaag en beslis Ipinge se aankondiging is ongeldig. Die minister het gister dié besluit by die Covid-19-kommunikasiesentrum (CCC) bekend gemaak. Standard Bank het in 'n verklaring gesê hul Walvisbaai-tak is intussen ontsmet en die personeellede wat tydens die vragmotorbestuurder se besoek aan diens was, is tans in selfkwarantyn.

Amupanda sê Ipinge neem sedert die uitbreking van die siekte die voortou en dat die politici in die hoofstad bloot jaloers is op die seëvierende jong onafhanklike kandidaat.

“In plaas daarvan om op Covid-19 te konsentreer, veral in die lig van die daaglikse nuwe gevalle, is die politici besig met ’n magstryd. Walvisbaaiers is nie besorg oor ’n magstryd nie, hulle is bly dat 'n 34-jarige raadslid betyds en beslissend opgetree het om hulle te beskerm,” sê hy.

“Ons doen 'n beroep op alle inwoners van Walvisbaai om saam met hul sorgsame aktivisraadslid te staan,” sê Amupanda en, “ons waarsku die bose politici om op hul hoede te wees en nie die jong leiers wat deur God gekies is, aan te raak nie. Daar is gevolge,” sê hy. – [email protected]/[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer