‘Aanvaller’ van bejaarde kry nie borg

’n Man wat daarvan beskuldig word dat hy ’n 82-jarige vrou in haar huis op Swakopmund aangeval en beroof het, bly agter tralies.
Adolf Kaure
Adolf Kaure op Swakopmund – Mnr. Timoteus Haimbodi, wat tereg staan op diefstal met verswarende omstandighede, het Donderdag sy eerste verskyning in die landdroshof op Swakopmund gemaak.

Die beskuldigde het na bewering 'n 82-jarige vrou op Donderdag 20 Mei op Swakopmund aangeval en beroof.

Volgens die polisie se woordvoerder in die Erongostreek, insp. Ileni Shapumba, het Haimbodi eiendom ter waarde van N$33 500 gesteel. Dit sluit onder meer vyf goue ringe, ’n goue halssnoer en ’n selfoon in.

“Na bewering het Haimbodi in me. Herma Emmerich se erf gegaan terwyl sy haar grasperk natgelei het. Hy het haar gegryp en haar binne-in die huis gesleep waarna hy haar met 'n kledingstuk probeer verwurg het. Sy is in ’n stabiele toestand gevind,” het Shapumba gesê.

Haimbodi is Woensdag 26 Mei in hegtenis geneem en van die gesteelde goedere is teruggevind.

BORGTOG TEENGESTAAN

Hy het tydens sy eerste verskyning voor landdros Nelao Brown, onskuldig gepleit.

Die staatsaanklaer, mnr. Johannes Shangadi, het borgtog teengestaan weens die erns van die oortreding en die feit dat Haimbodi 'n herhaalde oortreder is.

“Dit is nie in openbare belang of regspleging om borgtog aan hom toe te staan nie, veral nie in die lig van die onlangse toename in rooftogte en moorde op bejaardes in die gegoede deel van Swakopmund nie,” het Shangadi gesê.

Brown het die beskuldigdes se reg om aansoek te doen vir regshulp sowel as borgtog aan hom verduidelik.

Die saak is tot 14 Julie vir verdere ondersoek uitgestel. Haimbodi bly in aanhouding by die Swakopmund-polisieselle. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer