20 jaar gelede

Andrew Poolman
Maandag 15 Januarie 2001

• ’n Geskatte meer as 27 000 hektaar weiding is in veldbrande in die Outjo-omgewing vernietig midde-in verspreide donderbuie wat die naweek oor die meeste dele van die land voorgekom het.

• Op die vooraand van môre se skoolheropening vir sowat 500 000 leerlinge van alle grade moes talle hoopvolle ouers wat sedert Donderdag nog hul kinders by Windhoekse skole probeer inskryf het onverrigter sake omdraai.

• Regterpresident Pio Teek het hom van die opspraakwekkende Sikunda-geding onttrek.

• Die owerhede doen ’n ernstige beroep op instansies en individue wat petrol en diesel in groot maat koop om ingevolge nuwe regulasies om lisensies aansoek te doen.

Dinsdag 16 Januarie 2001

• Die eerste brandstofprysaanpassings van die nuwe jaar word vannag om middernag gedoen. Vroeë aanduidinge is dat die Namibiese landbou- akkerbou-, vis-, en mynboubedryf veral hard getref gaan word deur ’n verwagte drastiese verhoging in die pryse van diesel, wat die afgelope sowat 18 maande reeds bykans verdubbel het.

• Nagenoeg 156 vroue het die afgelope agt jaar aan die hand van hul liefmans of eggenote omgekom.

• Sake-ondernemings wat gekruiste tjeks van die Belastinggaarder gewissel het, gaan ’n dure les geleer word. Die Bank van Namibië het opdrag van die Ministerie van Finansies gekry om dit nie voortaan uit te betaal nie.

• Weens stygende lewenskoste sal Namibiërs vanjaar, ondanks ’n verwagte stabiele rentekoers, hul rieme dunner moet sny.

Woensdag 17 Januarie 2001

• Sidderinge oor die skerp verhoogde dieselprys het gister deur die vernaamste ekonomiese sektore getrek met waarnemers wat gemaan het dat die jongste styging ’n reële inkorting van sowat N$100 miljoen per jaar in die bydrae van dié sektore tot die landsekonomie kan meebring.

• Die prys van diesel is vanoggend met meer as 9 persent opgestoot met ’n styging van 0,55 persent in die prys van loodvrye brandstof. ’n Troos in die nuwe jaar vir motorryers is dat loodryke brandstof se prys met 1,15 persent gedaal het.

• Die eerste skooldag van 2001 was vir baie ouers, leerlinge en verskeie skole ’n opdraande stryd. Weens die geraap en skraap na ekstra plek, is by sommige hoërskole in Katutura nie gister by onderrig uitgekom nie.

Donderdag 18 Januarie 2001

• Namibiese troepe sal nie weens die sluipmoord op pres. Laurent Kabila en politieke onstabiliteit in die Demokratiese Republiek van Kongo (DRK) aan dié land onttrek word nie, maar die gebeure van die afgelope 24 uur kan nuwe lewe in die Lusaka-vredesproses blaas.

• Vlugte met Air Namibia se twee Boeing 737-vliegtuie is Maandag geherskeduleer nadat een weens tegniese probleme nie in Kaapstad kon opstyg nie.

• Ernstige spanning heers weer tussen die Omitaraplakkersgemeenskap en kommersiëke boere in die omgewing nadat laasgenoemde se aansoek om uitsetting deur die Hoërhof toegestaan is.

Vrydag 19 Januarie 2001

• Die moontlike permanente aanstelling van die 31-jarige genl. Joseph Kabila in die plek van sy vermoorde pa as president van die Demokratiese Republiek van Kongo (DRK) kan ’n ongemaklike situasie vir die DRK-bondgenote, insluitende Namibië, skep.

• ’n Voorstel dat heffings op visvangkwotas onmiddelik drasties verhoog word, sal nog ’n skokgolf deur Namibië se reeds sukkelende visbedryf stuur indien die Regering dit aanvaar.

• Volskaalse lugwoede deur passasiers was die slotsom van Air Namibia se twyfelagtige hantering van ’n besprekingsfiasko vroeër vandeesmaand toe meer as honderd passasiers op pad na Duitsland in Windhoek gestrand was.

Kommentaar

Republikein 2025-12-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer