Liefde by die Nam: Die fees wat Windhoek laat dans

Francouis Pretorius
Windhoek het hierdie naweek geborrle van die energie toe Liefde by die Nam 2025 die Vegkop-stadion in ’n fees van kleur, musiek en pure goeie vibes omskep het.

Duisende jong mense het in die hoofstad saamgedrom en vinnig was dit duitdelik: Hierdie is nie sommer net ’n fees nie – dit is ’n beweging!

Die dag het al 11:30 begin toe die hekke geopen het, en jy kon die opgewondenheid voel soos die son oor die stad beweeg het. Mense met koelsakke vol water het saam met familie en vriende ingestroom, gereed om hul stories en TikTok-video’s deur die loop van dag te deel.

Die Namibiese sanger Lin-Mari het om 12:30 die verrigting begin en almal in ’n goeie luim geplaas met haar vrolike klanke. Toe Vaughn Ahrens en Johnny Crash ingestap het, het die skare behoorlik losgebreek – plaaslike musiektalent wat jou in die hart tref.

Teen 14:00 het Bernice West en Sagarias Tsam die massa se energie na ’n ander vlak geneem. Selfone was oral in die lug, en die gehoor het duidelik harder as die klankstelsel teruggeklap.

Daarna het legendes soos Koos Kombuis, Appel, Kurt Darren en Robbie Wessels almal een ding bewys: oud of jonk, goeie musiek bring generasies saam.

Teen sonsondergang het Die Heuwels Fantasties ’n “goue-uur”-atmosfeer geskep wat perfek in die aand oorgeloop het. Toe Francois van Coke, Early B en Jack Parow die verhoog oorneem, was dit regtig die hoogtepunt. Parow het letterlik die laaste woord gehad, en sy rap- en rockenergie het die skare laat ontplof.

En dan kan ons nie van Schalk Bezuidenhout vergeet nie, wat tussen die optredes die skare met sy grappies aan die lag gehou het. Dis daai soort humor wat die gehoor lus gemaak het vir die volgende set.

Met borge soos Flying Fish, WeBuyCars, kykNET, KWV, Jameson en Coca-Cola was alles perfek gereël - van klank en ligte tot die atmosfeer by die stalletjies.

Maar wat hierdie dag regtig spesiaal gemaak het, was die gevoel van saamhorigheid. Liefde by die Nam is nie net ’n fees nie; dit is ’n viering van wie ons is: jong, trots en altyd gereed om musiek en liefde groter as onsself te maak.

Vir almal wat daar was, is dit ’n herinnering wat jou gaan bybly; die dag toe Windhoek bewys het dat liefde, musiek en goeie vibes altyd saamhoort.

Kommentaar

Republikein 2025-10-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer