Herlewingslandboudag fokus op hoëdigtheid-beweiding in Namibië

Plaaslike en buitelandse kundigheid
Boere kom op Gobabis byeen om te leer hoe om hoëdigtheid-beweiding toe te pas vir volhoubare veeboerdery.
Jacques du Toit
Boere en landbou-entoesiaste kry binnekort die geleentheid om hul kennis oor herlewingslandbou uit te brei tydens die Herlewingslandboudag wat op Saterdag 27 September 2025 op die Plaas Neu-Otjisororindi naby Gobabis aangebied sal word.

Die dag se tema is “Die implementering van hoëdigtheid-beweiding onder Namibiese toestande”, met ’n sterk klem op praktiese toepassing en plaaslike ervarings.

Herlewingslandbou het die afgelope paar jaar in Namibië veld gewen namate produsente toenemend op soek is na alternatiewe vir volhoubare veeproduksie. Hoëdigtheid- of hoëdrukbeweiding is ’n kernbeginsel van dié benadering: Diere word vir kort tydperke in kleiner kampe aangehou om die veld meer eenvormig te bewei en herstel te bevorder.



PLAASLIKE, BUITELANDSE SPREKERS

Die program vir die dag is sorgvuldig saamgestel om beide teorie en praktyk aan te spreek.

Dr. Christian Lichtenberg, wat self hoëdigtheid-beweiding op sy plaas toepas, sal die geleentheid om 08:30 open.

Daarna gee Gerrit van Zyl van HanZyl Bonsmaras in Suid-Afrika ’n oorsig oor die koste en voordele van praktiese implementering. ’n Paneelbespreking met ervare plaaslike produsente, gelei deur Colin Nott, bied waardevolle plaaslike perspektief. Boere soos Detlev Rösemann, Christoph Knye en Danie Visser deel hul ervarings van uitdagings en suksesverhale uit die veld.



PRAKTIESE INSIGTE, VELDTOEPASSING

Ná ’n verversingsbreek volg ’n praktiese kraalbespreking deur Pikkie Uys, ’n Drakensberger-boer van Suid-Afrika.

Hy fokus op die kenmerke van ’n funksioneel doeltreffende bees wat optimaal aanpas onder hoëdruk-beweidingstoestande.

Die middagprogram sluit ’n veldbesoek in waar deelnemers self kan sien hoe die stelsel op Neu-Otjisororindi toegepas word. Hierdie demonstrasie, aangebied deur Lichtenberg, bied ’n tasbare kykie na die potensiaal van herlewingslandbou in Namibië.

Registrasie begin reeds om 07:30, met ’n fooi van N$100 indien vooraf bespreek word, of N$150 by die hek. Belangstellendes kan aanlyn by www.nau.com.na/events/herlewingslandbou-dag registreer of Henda Marais by 082 409 9320 kontak vir meer inligting.

QR CODE WEB LINK: https://q.my.na/8U3M

QR CODE IMAGE: https://q.my.na/uploads/images/8U3M.png

QR CODE CAPTION: Skandeer vir meer inligting en om die program te sien.

Kommentaar

Republikein 2025-08-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer