Vrou neem glo foto pas voor sy sterf
Net voordat Rachel Frans (39 Vrydag binne haar huis in Havana doodgeskiet is, het sy glo haar selfoon gebruik om ’n foto te neem van die man wat haar familie sê kort daarna die sneller sou trek.
Daardie foto, volgens haar oudste seun, Aron Sondag Aron (20), wys haar kêrel van sewe jaar en die pa van hul sewejarige dogter, die 41-jarige Benong Urikhob, wat ’n vuurwapen op haar rig.
Aron sê die Namibiese polisie het sedertdien beslag op die selfoon gelê om die moordsaak te ondersoek.
Frans se nederige, netjiese sinkhuis in Havana was stil toe Republikein dit gister besoek het – drie dae nadat sy binne-in doodgeskiet is.
Aron, wat by sy pa bly, het by sy ma se huis met Republikein gesels oor Frans se 14-jarige dogter wat haar ma se lewelose liggaam afgekom het nadat sy van die skool af huis toe gekom het.
Die tiener het glo onmiddellik hulp gaan by ’n buurvrou en nabye familievriend gaan soek wat saam met haar terug huis toe gegaan het.
“Die meisie het na my toe gekom en gesê haar ma reageer nie,” het die buurvrou onthou.
“Ek het saam met haar ingegaan en Rachel op die vloer sien lê. Aanvanklik het ek gedink sy het flou geword, want daar was nie baie bloed nie.
Toe ek van nader bekyk, het ek besef sy is in die bors geskiet.”
Die buurvrou het gesê sy het die sigbaar geskokte tiener vinnig buite toe gevat voordat sy teruggegaan het in die moordhuis toe om hulp te ontbied.
“Ek het Rachel se foon gaan haal sodat ek die ambulans kon bel en die familie kon inlig. Ek het die foon vir haar dogter gegee om dit te ontsluit.
“Terwyl ek dit gebruik, het ek op ’n foto afgekom van Benong wat ’n vuurwapen op Rachel rig,” het sy beweer.
“Ek sê dit sonder enige vrees: Hy het haar vermoor. Hy het gedreig om dit te doen en hy het daardie dreigement uitgevoer.
“Ek weet hy het dit gedoen. Hy het my Rachel van my weggeneem.
“Sy het nooit iemand gepla nie. Sy was vriendelik met almal. Sy het nie haar tyd by sjebiens deurgebring of alkohol gedrink nie.
Wanneer ek niks gehad het om te eet nie, het Rachel altyd gesorg dat ek iets het. Dis die soort mens wat sy was.”
Urikhob is intussen in hegtenis geneem en het gister sy eerste verskyning in die Katutura-landdroshof in Windhoek op aanklagte van moord en die besit van ’n vuurwapen en ammunisie sonder ’n lisensie gemaak.
Landdros Olivia van der Byl het die saak tot 8 September vir ’n formele borgtogaansoek uitgestel en die beskuldigde bly in aanhouding.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie