Vrese vir bek-en-klouseer langs Oranjerivier
Beweerde oorgrens-smokkelary
Vermoedens bestaan dat die gebied aan die suidelike grensgebied 'n smokkelnes is van vee, dwelms en perlemoen, asook mensehandel.
Die Namibiese polisie (Nampol) het Maandagaand een verdagte by ’n jare lange sogenaamde besettingskamp langs die Oranjerivier in hegtenis geneem, asook ’n daggaplant en ammunisie gevind.
Volgens die bekende wildveearts en bewaringslegende, dr. Pete Morkel, die eienaar van die eiendomme Pelgrimsrust 100 en Kambreek 104, is 350 ongemerkte bokke (waarvan 150 jong bokke was), agt kalwers en sewe ongemerkte beeste ook by die kamp gevind.
Die verdagte is na die Warmbad-polisiekantoor geneem waar hy steeds in aanhouding is. Volgens Nampol in die ||Kharasstreek sal hy vandag in die landdroshof op Karasburg op ’n klag van die onwettige besit van ’n daggaplant verskyn.
Morkel is moedeloos met die sogenaamde besetting op sy grond van meer as 15 jaar waarmee hy al vir vyf jaar in ’n regsgeding met die Basson-familie gewikkel is.
Sy vrese vir die uitbreking van bek-en-klouseer langs die Oranjerivier groei met “sowat 50 beeste en 150 bokke – almal ongemerk, ongeregistreerd en met ’n onbekende siektestatus – wat by die Basson-kamp naby die rivier is”.
Verskeie briewe is al aan die direktoraat veeartsenydienste (DVS) in die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming geskryf om die kwessie te takel. Republikein is by al die e-posse aan die voormalige veeartsenydirekteur, dr. Johannes Shoopala, en ander belanghebbendes ingesluit. Verlede week is dr. Kenneth Shoombe, as die nuwe veeartsenydirekteur aangekondig, effektief vanaf 1 Augustus.
Morkel het verlede week in nóg ’n amptelike brief aan veeartseny geskryf waarin hy verklaar dat hy nie toestemming gee vir enige vee wat nie ten volle voldoen aan die Namibiese diere-identifikasie-, registrasie-, bewegings- en gesondheidsregulasies soos voorgeskryf in die betrokke wet nie, om Pelgrimsrust 100 binne te gaan of oor te steek nie.
“Suid-Afrika is verklaar en gelys as ’n bek-en-klouseer- (BKS) besmette land en Namibië is verplig om die Europese Unie se regulasies en riglyne in hierdie verband te eerbiedig,” lui sy brief.
“Met inagneming van die veiligheid en welstand van ons eie diere, ons bure se diere en die diere in die res van Namibië, is dit nie ’n opsie om potensieel BKS-besmette vee na Pelgrimsrust te bring sodat DVS hierdie diere kan inspekteer en moontlike tekortkominge wat gevind word in die nakoming van ons land se regulasies en dié van ons uitvoervennote, kan regstel nie. DVS sal alternatiewe oplossings moet vind.”
Volgens Morkel het die dieregesondheidstegnikus, Pax Mwanawina van die Karasburg DVS-kantoor verlede week na Pelgrimsrust 100 gekom om die plaasinspeksie te doen soos uiteengesit in die brief van DVS gedateer 11 Augustus 2025.
“Mwanawina lyk gretig om die moeilike uitdagings vir dieresiektebeheer hier naby die grens met Suid-Afrika aan te pak. Hy het die situasie op Pelgrimsrust 100 geëvalueer, maar kon nie aandag gee aan Kambreek 104 nie.
“Die brief van u kantoor het duidelik verklaar dat die inspeksie vir Kambreek was (nie Pelgrimsrust nie) en dat daar 80% kraalinspeksie van alle vee sou wees,” het Morkel verlede week aan DVS geskryf.
Hy sê Mwanawina was dus nie op Kambreek nie en hy het geen vee gesien nie, alhoewel daar ongeveer 50 beeste en 150 bokke (almal ongemerk, ongeregistreerd en met ’n onbekende siektestatus) by die Basson-kamp op Kambreek naby die Oranjerivier is.
“Toe ek hom hieroor vra, het hy gesê hulle sal volgende maand na Pelgrimsrust gebring word vir inspeksie. Dit bevestig wat ons werknemer, Mathias Matjayi, [verlede] Maandag deur die drie mans by die Bassons se kamp, wat vir die vee sorg, meegedeel is.”
Morkel wil twee punte uitlig: “Dit is heeltemal onaanvaarbaar om toevallig, nadat ons met die Bassons se veewagters gepraat het, uit te vind dat reëlings getref is om vee na ons eiendom te bring vir inspeksie. Dit is die tweede keer dat ons langs hierdie roete uitvind en maak asseblief seker dat dit nooit weer gebeur nie.”
Morkel benadruk hy weier om toe te laat dat vee wat ongemerk, ongeregistreer, met ’n onbekende siektestatus is, en wat vrylik met Suid-Afrikaanse vee met gesplete hoewe langs die Oranjerivier gemeng het, na sy eiendom gebring word.
“Die risiko’s hieraan verbonde vir ons diere, vee wat aan plaaslike boere behoort en vee in die res van Namibië is onberekenbaar, en dit kan nie toegelaat word nie, veral met die verslegtende bek-en-klouseer-situasie in Suid-Afrika.”
Morkel bevraagteken ook waarom Suid-Afrikaanse brandysters by die kamp gehou word.
Maandagaand se arrestasie volg nadat Mwanawina, vergesel van ’n Nampol-beampte die kamp besoek het. Vermoedens bestaan dat die gebied ’n smokkelnes is van vee, dwelms en perlemoen, asook mensehandel.
PERLEMOENSAAK
Intussen het drie vermeende perlemoensmokkelaars einde Julie weer in die Karasburg-landdroshof verskyn nadat hulle glo perlemoen ter waarde van sowat N$1,7 miljoen oor die Oranjerivier gesmokkel het.
Bekende inwoners van Warmbad, Laurentius Basson, Petrus Alexander Bock en Mannetjie Harold Schultz se saak is weer net tot einde Oktober uitgestel.
Die beskuldigdes word onder meer daarvan aangekla dat hulle in Julie 2022 Chinese burgers gehelp het om 407 kg perlemoen oor die Oranjerivier te smokkel. Hulle staan ook tereg op aanklagte van ontvoering en die oortreding van die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad (Poca).
Volgens inligting het die beskuldigdes na bewering twee Chinese burgers, Xiaohui Wu en Xinda Li, bygestaan om die perlemoen met ’n opblaasboot oor die Oranjerivier te smokkel, terwyl ten minste een ander Chinese burger wat betrokke was, glo aan die Suid-Afrikaanse oewer van die Oranjerivier by Witbank agtergebly het. Die twee Chinese is op 19 Julie 2022 op Warmbad in hegtenis geneem.
“’n Bakkie wat aan Basson behoort is na verneem word gebruik om die perlemoen van die Oranjerivier na Warmbad te vervoer en beslag is daarop gelê,” het ’n betroubare bron gesê.
“Die Chinese burgers het glo ’n tydelike behandelingsfasiliteit opgerig om die perlemoen uit te droog by Rooikoppies aan die buitewyke van Warmbad by ’n gebou wat deur Bock besit word.”
Die Namibiese polisie het glo die paspoorte van die Chinese burgers by Basson se huis gevind en aangesien die Chinese geen stempels in hul paspoorte of visums vir Namibië gehad het nie, is hulle as onwettig in die land verklaar, aangekla en gedeporteer.
Die Nampol se afdeling vir beskermde hulpbronne van Oranjemund was destyds aktief by die saak betrokke en die gekonfiskeerde perlemoen is aan die destydse ministerie van visserye en mariene hulpbronne oorhandig.
Namibië het ’n deurgangsroete geword vir perlemoensmokkelary vanuit Suid-Afrika na China. ’n Verslag van 2022 oor wildbeskerming en wetstoepassing in Namibië het bevestig ’n groot oorgrens-smokkeloperasie is in 2022 by Warmbad oopgevlek terwyl groot besendings in vorige jare by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako en ander doeanepunte onderskep is.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie