Toeriste word glo by padblokkade omgekoop

'Vrot appels' word glo nie vervang
Padblokkadebeamptes op die Kupferbergpad skrik glo buitelandse toeriste af deur hul met arrestasie te dreig en omkoopgeld te eis.
Francoise Steynberg
Boere, lodge- en gasteplaaseienaars op die Kupferbergpad beweer Namibiese polisiebeamptes by die padblokkade oos van Windhoek trek nie vee- en wilddiewe vas nie, maar teister, intimideer en koop glo buitelandse toeriste om.

Verskeie voorvalle by die padblokkade op die C-26-roete na Sossusvlei is aan Republikein gerapporteer, maar volgens die Namibiese polisie (Nampol) se bevelvoerder van die Khomasstreek, kommissaris Willem Steenkamp, is nog nie een skriftelike klagte teen ‘n padblokkadebeampte amptelik aanhangig gemaak nie.

“Jy moet ‘n klag lê sodat dit ondersoek kan word. Ek sal uit my pad uit gaan om ‘n polisieman op omkopery te arresteer, want ons het hulle nie nodig nie,” het hy benadruk.

“Ons sal saam met gemeenskap hand en tand veg om korrupte polsiiemanne uit te roei. Hulle hoort nie in die mag nie. Ons is veronderstel om die voorbeeld te wees, om bekamping van misdaad ernstig op te neem.”

Steenkamp het heftig bygevoeg: “Ek gaan nie mooi broodjies bak nie, ek sal enige tyd teen ‘n korrupte polisiebeampte optree.”

‘MAG NIE IN DONKER RY’

Van die beweerde voorvalle is toeriste aan wie glo gesê word dat daar nie in die donker op die pad gery mag word nie, of eise van vertalings van rybewyse en dreigemente van arrestasie. Daar is glo tot toeriste van wie vereis is om hul kontaklense te verwyder.

Ses toeriste van Tahiti was gaste van Steinheim se gesogte Leopard’s View Mountain Villa, geleë 40 km uit Windhoek op die Kupferbergpad (C26). Die toeriste moes glo op 22 Julie glo omkoopgeld betaal om die deur die padblokkade daarheen terug te keer nadat hulle vir die dag in Windhoek was.

“Die beampte aan diens het gese hulle mag nie in die donker ry nie. Ná hulle ‘n bedrag betaal het, kon hulle voortgaan,” lui ‘n brief van 'n bekommerde boervrou.

“Die volgende aand was die omkoopbedrag hoër en die gaste geweier om dit te betaal. Die padblokkadebeampte het hulle laat omdraai en hulle moes terugkeer na Windhoek, alhoewel hulle op Steinheim ingeboek was en al hulle tasse en klere nog daar was.”

Republikein is in besit van die WhatsApp-boodskappe wat die toeriste aan die eienaars van Steinheim, Jacques en Barbara Steenkamp, gestuur het. Barbara het gesê ondanks hierdie voorval al die eerste aand by Nampol aangemeld is, is die beampte nie by die padblokkade vervang nie.

"Jacques het beslis 'n klag ingedien met al die besonderhede en die toeris het 'n skriftelike verslag geskryf oor die gebeure," het sy bevestig.

Barbara is een van twee persone wat die kameras van die Gamsberg-buurtwag monitor. Agri Monitor het in Maart ‘n onderhoud met haar gehad oor die uitdagings wat hulle het met vee- en wilddiefstal. Kyk na die onderhoud by https://q.my.na/H4QC.

Fanie Steenkamp van die plaas Prospect, voorsitter van die Gamsberg-boerevereniging en broer van Jacques, sê “dit is ‘n sistemiese probleem wat ons en potensieel ook ander geneenskappe ervaar oor viktimisasie en teistering van ons toeriste by die padblokkades."

Hy sê dit is besig om die oorhand op hul pad te kry en dit nadat baie hoëvlakgesprekke oor die probleem met die topbestuur van polisie gehou is.

“Dit is ‘n tendens wat al ‘n lank tyd kom. Hulle sien dis ‘n toeristekar op die hoofroete Sossusvlei toe. Hulle kom met stories jou lisensie moet vertaal wees, moet ‘n boete betaal en mag nie in die nag ry nie. Die toeriste word omgekoop en moet N$2 000 betaal.”

Fanie sê die beamptes maak die toeriste se lewens hel, hulle is intimiderend en “hulle doen alles wat in die reëlboek van omkopery is”.

Hy voel meen dat die padblokkade net ‘n platform vir korrupsie is. “Hulle vang niemand vir vee- en wilddiefstal nie. Hul positiewe bydrae is minimaal, maar die impak is baie negatief, veral in die toerismebedryf.”

Leon Smit wat die eienaar van die eerste plaas naas die padblokkade is, het ook voorbeelde van Duitse en Portugese toeriste genoem wat glo tot N$4 000 moes opdok.

Op ‘n vraag of dit dieselfde beampte(s) is wat die toeriste omkoop, het hy gesê hulle is ‘n groep van tien beamptes en “daar kom altyd net nuwes by”.

Volgens Smit moes Duitse toeriste N$4 000 opdok en dit was glo ‘n vroulike beampte wat by die Portugese toeriste betrokke was.

Hy stel voor dat kameras by die padblokkade opgesit moet word: “Dis soos om ‘n kamera by die kassier in ‘n winkel op te sit om te sorg dat daar nie geld uit die geldlaai verdwyn nie,” het hy verduidelik.

“Ons wil nie ons goeie verhouding met die polisie belemmer nie, want ons het geensins ‘n probleem met die topbestuur van die polisie nie, maar daar is ‘n groepe ondertoe wat die vrot appels is.”

SELFOON UIT HAND GEGRYP

Boervrou Laurenza van der Merwe was sterk op pad om ‘n klagte van aanranding van ‘n beampte aanhangig te maak wat haar selfoon uit haar hand geruk het toe sy ‘n video van hom geneem het. Republikein is in besit van die video.

Sy was by die polisiekantoor om ‘n klag aanhangig te maak, maar het daarteen besluit omdat hofsake traumaties is. "Die beampte is ingeroep en daar is aan my verseker dat hy nie gou bevordering na ‘n hoër rang sal kry nie,” het Van der Merwe Vrydag aan Republikein gesê.

Die streekbevelvoerder het ‘n beroep gedoen op wedersydse respek dat die probleem opgelos kan word. “Kapps Farm het ook baie boere, maar hulle het nie soveel klagtes oor hul padblokkade nie.

“Hoe kan ons saamstaan om probleem te takel? In plaas van beskuldigings, kom ons kyk liewer na oplossings.”

Hy is ook van mening dat die oprig van kameras deur die gemeenskap ‘n goeie bekampingsmiddel is.

Die kommissaris gee die versekering dat lede by die padblokkade geruil word en Nampol gereeld vergaderings met die gemeenskap hou. Oor die kwessie van vee- en wilddiefstal is, sê hy "as jy ‘n dief is en het vleis gesteel sal jy nie sommer deur padblokkade ry nie, want jy weet jy sal gestop word.

"Jy sal agterpaaie vind om padblokkade te vermy."

Elders was ‘n Nederlandse gesin op 30 Julie op pad suid tussen Otjiwarongo en Kalkfeld. Die bestuurder was die ma van vier volwasse kinders, en haar man was die mede-bestuurder. Sy is deur ‘n “mollige” polisiebeampte afgetrek en moes glo ‘n boete van N$2 000 op die toneel betaal en het geen kwitansie ontvang nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer