Toenemende wreedheid in vee- en wilddiefstal
Kommersiële en kommunale boere in die Omahekestreek, veral in die omgewing van Witvlei, ly reuseverliese aan die hand van veediewe, met toenemende wreedheid in die slag van beeste en selfs perde en donkies. .
Volgens lede van die Witvlei Boerevereniging, wat onlangs hul eeufees gevier het en as die Namibië Landbou-unie (NLU) se braaikonings van die NLU Agribraai op Gobabis gekroon is, het veediewe die afgelope maande weer met mening toegeslaan.
Volgens die voorsitter van die oostelike misdaadvoorkomingsforum (NCPF) van die NLU, Jan Pienaar, is tussen Oktober 2025 en Mei 2026 agt beeste op een plaas geslag. Sommige van die agt koeie was dragtig en een het ’n kalf gehad.
“Een van die dragtige koeie moes van haar lyding verlos en geskiet word, want haar been was afgeslaan,” het die boer by wie die agt beeste geslag is, in ’n WhatsApp-boodskap geskryf.
Boere se name en plaasname word beskerm sodat hulle nie deur vee- en wilddiewe geteiken word nie.
Hy het bygevoeg dat nog ’n bees vasgemaak in die veld gekry is.
“Daar was sterk bewyse van ’n moontlike verdagte voertuig, maar die polisie het tot nou nog geen poging aangewend om dit op te volg nie.”
Op 21 Mei is twee koeie se hakskeensenings van hul agterbene glo deur beesslagters op die plaas afgesny.
“Die twee koeie is met toue gevang en toe met afgesnyde bene ’n ent tot by die pad op hul stompies aangejaag en geslag.”
Hy sê die koeie wat op 21 Mei geslag is, se karkasse en vleis is net so in die veld gelos en dit het vrot geword weens die onweer.
Tydens die mees onlangse geval is die stoethings van ’n bekende perdeteler geslag.
“Hulle begin slag nou perde ook,” het ’n jong boer gesê.
Pienaar het bygevoeg dat ses donkies op een kommunale plaas geslag is, waarvan net twee karkasse se vleis deur die donkiediewe gevat is.
Boonop is sewe sonpompe vanaf Desember verlede jaar tot April vanjaar op een plaas suid van Witvlei gesteel.
Pienaar het beklemtoon dat dit nie net kommersiële boere in die Omahekestreek is wat deurloop nie, maar ook kommunale boere en dat boere ook onder wilddiewe en kubermisdadigers deurloop wat hulle met slenters probeer vang.
Hy sê kubermisdaad neem erg toe met kuberkrakers wat hulle as polisiemanne voordoen en boere dreig dat hulle toegesluit sal word as hulle nie geld opdok nie.
Pienaar beklemtoon samewerking tussen boere, NCPF’s, die teenstropingseenhede (PRU’s) en die Namibiese polisie is goed om vee- en wilddiefstal hok te slaan.
Tog sê ’n boer: “In Witvlei se geval is daar min tot geen samewerking nie en die polisie moet rondgery word op die belastingbetalers se rekening, omdat hulle nooit ’n voertuig het nie.”
Na bewering het die polisie ná ’n huisbraak en diefstal van onder andere vuurwapens suid van Witvlei op ’n plaas eers byna 48 uur nadat die saak aangemeld is, met behulp van die NCPF se voertuig by die plaas opgedaag.
Lede van die publiek het glo self ondersoek ingestel en vir die polisie die verdagtes se name en blyplek in Okahandja uitgewys.
“Daar het ook nog niks van gekom nie,” sê die boer.
“Dit is belangrik om te beklemtoon dat samewerking van die polisie in die meeste gevalle goed is, maar die howe die probleem is. Die regstelsel laat ons in die steek.”
Van die klagtes is dat van die sake al vier tot vyf jaar sloer en die beskuldiges ontsnap uit die polisiekantoor onder toesig van polisie.
“Dit is tydmors om hof toe te gaan en sake word net weer uitgestel.”
Van die boere meen dit is hoekom Omaheke ’n lae diefstalrekord het.
“Ons meld dit net nie meer aan nie, omrede niks gebeur nie.”


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie