Die bevelvoerder van die Omusatistreek, kommissaris Ismael Basson. Foto argief
Die bevelvoerder van die Omusatistreek, kommissaris Ismael Basson. Foto argief

Tienerseun verkrag glo drie seuns in veld

Tuyeimo Haidula
Die saak van die tienerseun wat in die Omusatistreek in hegtenis geneem is vir die beweerde verkragting van drie minderjarige seuns tussen sewe en agt jaar oud, is tot 27 Oktober vir verdere polisie-ondersoek uitgestel.

Die voorval het glo plaasgevind terwyl vier seuns beeste in die Oshilemba-nedersetting in die Tsandi-kiesafdeling opgepas het.

Die streekbevelvoerder van die Namibiese polisie, kommissaris Ismael Basson, het bevestig die 14-jarige verdagte het verlede week in die hof verskyn en is in die sorg van sy ouers vrygelaat. Volgens Basson het die verdagte na bewering drie van die vier seuns verkrag terwyl hulle beeste uit die weiveld gaan haal het.

“Na bewering het die oortreder drie van die seuns – twee van sewe en een van agt jaar oud – een vir een gevang, hul onderklere uitgetrek en anaal verkrag.

“Die vierde seun het, nadat hy die dade gesien het, huis toe gehardloop en sy ouers ingelig, wat die saak by die polisie aangemeld het,” het hy gesê.

Basson het gesê die verdagte is ’n oom van een van die vermeende slagoffers, maar hy deel nie dieselfde woning met enige van die vermeende slagoffers nie, maar hy is wel ’n buurman.

Twee van die vermeende slagoffers is broers van een huis en die derde bly langs hulle.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer