Stryd teen korrupsie teen slakkepas
Namibië maak vordering teen korrupsie, maar nie teen die pas, skaal of die sigbaarheid wat burgers wil sien nie.
Só het die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (UNDP) se verteenwoordiger in Namibië, Amanda Serumaga, Woensdag by die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) by ’n vergadering van die bestuurskomitee oor die nasionale teenkorrupsiestrategie en plan van aksie (NACSAP) gesê.
Sy het oor die vordering teen korrupsie gesê: “Burgers wil dit voel.”
Serumaga sê stelsels is belangrik, maar aanspreeklikheid beteken meer.
“Implementering was ongelyk,” sê sy in verband met die tweede plan van aksie wat aan die einde van hierdie maand tot einde kom en vanaf 2021 van toepassing was.
“Monitering en evaluering is nie waar dit moet wees nie,” voeg sy by en bendruk dat openbare vertroue afhang van die regverdige en voorspelbare afdwinging van wetgewing teen korrupsie.
Serumaga verwys na die 2025-indeks op korrupsiepersepsies waarin Namibië ’n telling van 46 uit 100 bereik het en 65ste uit 180 lande gelys is. Dit is ’n terugslag in vergelyking van 2024 tot Namibië 59ste op die indeks was.
“Dit is ’n wekroep. Hervorming is aan die gang maar burgers en beleggers voel nog nie die verskil nie,” het sy gesê.
Saam met befondsing van die Europese Unie (EU) sal die Verenigde Nasies (VN) voortgaan om Namibië se stryd teen korrupsie te ondersteun, veral deur die goeie bestuursprojek wat verlede jaar van stapel gestuur is, benadruk Serumaga.
Die bystand is spesifiek daarop gemik om Namibië se voorneme in optrede te omskep en om kapasiteit en inklusiwiteit in die stryd teen korrupsie te bou, sê sy.
“Die Teenkorrupsiekommissie kan nie slaag sonder die betrokkenheid van burgers nie,” dring sy aan en sê dat Namibië se pogings teen korrupsie meer sigbaar moet wees om geloofwaardigheid te versterk.
Eerste minister Elijah Ngurare was die eregas by die geleentheid en hoewel hy vroeg moes vertrek om ’n belangrike vergadering by Staatshuis by te woon, is sy toespraak voorgelees. Hy sê die ontwikkeling van die derde NACSAP vir 2026 tot 2030 sal ’n konsultasieproses vandeesmaand in al 14 streke behels.
“Dit is ’n nasionale strategie wat ondersteuning van alle sektore van die samelewing vereis. Ons almal het ’n belang daarin,” benadruk hy.
Volgens Ngurare ken korrupsie geen status of titel nie.
“As ons dit nie doeltreffend kan takel nie, sal dit die ekonomiese winste wat tot dusver gemaak is, vernietig en ons word almal die uiteindelike slagoffers van korrupsie. Soos ek al voorheen gesê het, kan korrupsie dienslewering ondermyn, ongelykheid vergroot, vertroue van burgers in openbare instellings verswak en uiteindelik die toekoms van die hele nasie in gevaar stel,” sê die eerste minister.
“Die regering bly verbind tot die bekamping van korrupsie. Dit bly ewe verbind tot die verskaffing van die nodige ondersteuning aan instellings wat die mandaat het om korrupsie te voorkom en te bestry.”


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie