SA aktivis stig regshulpfonds vir Wilhelm

Groeiende steun vir Fokshof se vroueboer
Fokshof se vroueboer is reeds tien dae in die tronk, met familielede wat beweer sy is erg getraumatiseer.
Elvira Hattingh
Terwyl dit nog onduidelik is wanneer die 65-jarige me. Marieta Wilhelm se formele aansoek om borgtog in die Grootfonteinse landdroshof aangehoor sal word, word daar klaarblyklik al hoe meer steun vir haar in die sosiale media gewerf.

In die jongste geval het die Suid-Afrikaanse aktivis teen plaasaanvalle, Willem Petzer, ‘n regshulpfonds gestig waarvoor bydraes gevra word. Dit kom nadat haar broer, mnr. Christo Wilhelm, ook ‘n bankrekening oopgemaak het omdat haar regskoste na verwagting redelik hoog kan wees.

Petzer sê Wilhelm sit in die tronk en het dringend mediese hulp nodig, en dat borgtog aanvanklik aan haar geweier is.

Hy meen sy moet dringend op borgtog vrygelaat word, waarna haar moordsaak gewen moet word. Daarna sal “‘n reuse- siviele eis” glo teen die staat ingestel word.

Daarbenewens het die Suid-Afrikaanse mediahuis, Find-it nuus, ook oor Wilhelm berig, terwyl die Namibië Landbou-unie (NLU) in sy jongste nuusbrief gesê het die unie “betreur die aanslag op ‘n bejaarde alleenvrou op ‘n plaas” en in dieselfde asem landbouers daaraan herinner oor hoe om hul plaaswonings te beveilig.

“Ons neem met kommer kennis van die voorval en is bewus daarvan dat as gevolg van werkloosheid en toenemende armoede, insidente soos dié meer mag voorkom. Daar is egter geen regverdiging vir aanvalle op bejaarde, weerlose of enige ander mense nie,” het die NLU gesê.

Wilhelm is na bewering op 15 Maart op haar plaas Fokshof aangerand, waartydens sy die dood van haar vermeende aanvaller, die 31-jarige Sakaria Kaandje, veroorsaak het. ‘n Klag van moord is teen haar aanhangig gemaak en sy is aanvanklik op 24 Maart borgtog geweier, nadat die staatsaanklaer borgtog teengestaan het weens die erns van die oortreding.

Sy moet voorts ‘n formele aansoek om borgtog met die hulp van ‘n regsverteenwoordiger indien. Intussen word Wilhelm, wat volgens haar familie erg getraumatiseer is, sedert 20 Maart in die aanhoudingselle op Otavi aangehou.

AGTERGROND

Verskeie vriende en familie met wie Republikein in gesprek was, sê buiten dat Wilhelm vantevore op haar plaas aangeval is, asook twee pogings om haar aan te val, leef sy voortdurend in vrees.

Sy het glo doodsdreigemente ontvang en word voortdurend geteister.

Wilhelm het aan die koerant gesê sy dra haar vuurwapen oral saam met haar.

Die Namibiese polisie se adj.komm. Kauna Shikwambi het vroeër ‘n voorlopige polisieverslag aan Republikein verskaf, waarvolgens Kaandje die perseel van Wilhelm se plaashuis met “onduidelike bedoelings betree het en probeer het om haar met ‘n stok aan te val.”

Die polisie sê Wilhelm het die oorledende verskeie kere met ‘n pistool geskiet en hom teen die kop met ‘n hamer geslaan, wat tot sy dood gelei het.

Wilhelm se weergawe van die gebeure verskil aansienlik. Sy sê Kaandje het haar langs haar huis ingewag en met ‘n houtstomp oraloor haar liggaam geslaan totdat sy geval het, waarna sy blindelings op hom begin skiet het.

Sy beweer sy kon nie mooi sien nie, weens al die bloed wat in haar oë geloop het. Sy sê nadat hy met ‘n hamer op haar afgepeil het, het sy dit by hom afgeneem en hóm daarmee teen die kop geslaan. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer