Phala Phala-diefstal het Namibië by ondersoek ingesleep
Die diefstal van US$580 000 in Februarie 2020 by Suid-Afrikaanse president Cyril Ramaphosa se plaas Phala Phala het die Namibiese polisie (Nampol) by ’n oorgrens ondersoek betrek wat later deur die buurland se onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) bevind is om onwettige optrede deur beamptes van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in te sluit.
Die verdagtes – Immanuela Natangwe David, Froliana Joseph en haar jonger breoer, Ndilinasho David Joseph – is Namibiese burgers, van wie sommige glo ná die diefstal oor die grens gevlug het.
Hul beweging na Namibië het oorgrens betrokkenheid ontketen, met SAPD-beamptes wat Nampol-lede by “niemandsland” naby Noordoewer ontmoet het om operasionele inligting uit te ruil.
Die Suid-Afrikaanse openbare beskermer se verslag van 249 bladsye bevestig dat die gesteelde geld die opbrengs van ’n buffeltransaksie was wat as kontant op die plaas in die Limpopo-provinsie gehou is. Die verslag lui die ondersoek het deur informele polisiekoördinering na Namibië verskuif.
Die Opod-verslag van 14 bladsye beweer egter dat Suid-Afrikaanse beamptes op 19 Junie 2020 by “niemandsland” ’n naamlose Namibiese polisiekommissaris ontmoet het, waar die saak as sensitief beskryf is en in staat om politieke nagevolge te veroorsaak, hoewel dit nie as ’n amptelike bevinding bevestig is nie.
Ten spyte hiervan het informele oorgrens koördinering voortgeduur, selfs terwyl formele regsprosesse vasgeval het. Die verslag verwys ook na die onwettige oorsteek oor die grens, omkopery van verdagtes om gebeure te verberg en die gebruik van polisiehulpbronne op maniere wat op “vrugtelose en verkwistende uitgawes” neergekom het.
Die verdoemende Opod-verslag wat reeds in 2023 uitgereik is, is aanvanklik as “hoogs vertroulik” geklassifiseer, maar is in Februarie gedeklassifiseer.
Die Opod-verslag lui speurwerk en insameling van inligting was op individue gemik, insluitend David, Simon Hidjapo en Shooya Eerki Shikongo. Ten spyte van die omvang van die voorval het Opod bevind dat die diefstal nooit in SAPD se misdaadstatistiek of jaarverslag aangeteken is nie.
Die verslag beweer dat verdagtes moontlik in Namibië in hegtenis geneem en buite formele prosesse na Suid-Afrika geneem is, hoewel dit nie voldoende bewys is nie.
Die openbare beskermer se verslag toon verder dat Namibië formele regsameswerking begin het en op 3 September 2020 deur sy hoëkommissariaat in Pretoria ’n versoek om wedersydse regshulp ingedien het. Die versoek is op 16 September 2020 aangestuur, in Maart 2021 beoordeel en in Augustus 2021 formeel van die hand gewys, omdat dit nie aan regsvereistes voldoen het nie, met geen hersiene indiening daarna nie.
Dieselfde verslag maak geen bevindings teen Namibiese owerhede nie, maar plaas Namibië in die middelpunt van die oorgrens dimensie van die saak sonder om te bepaal of informele polisiekoördinering aan regsprosedures voldoen het.
NASIONALE VEILIGHEID
Die openbare beskermer bevestig ook dat Suid-Afrikaanse beamptes, insluitend generaal-majoor Wally Rhoode en die presidensiële gesant vir Afrika, dr. Bejani Chauke, gedurende die tydperk na Namibië gereis het, hoewel die besoek amptelik aan nasionale veiligheid gekoppel is en nie direk aan die diefstalondersoek nie.
Opod maak egter sterker bevindings oor die optrede van die SAPD. Volgens Opod het die saak begin met die versuim om ’n misdaad aan te meld nadat Rampahosa vir Rhoode ingelig het dat kontant uit die verkoopstransaksie van diere van die plaas gesteel is. Geen saakdossier is geopen nie en die aangeleentheid is nie deur amptelike polisiekanele verwerk nie.
Opod het bevind dat Rhoode versuim het om die destydse nasionale polisiekommissaris, generaal Khehla John Sitole, in kennis te stel, wat eers ná sy aftrede deur mediaberigte van die voorval bewus geword het, in stryd met Artikel 13(2) van die SAPD-wet, wat vereis dat enige beampte wat van ’n voorgeskrewe oortreding bewus is, dit moet aanmeld.
Die verslag lui verder dat SAPD-lede, insluitend dié van die presidensiële beskermingseenheid, ’n onwettige, parallelle ondersoek met staatsbronne van stapel gestuur het om verdagtes op te spoor en geld terug te kry wat gekoppel is aan wat dit as ’n private aangeleentheid beskryf wat die president se geld betref.
“Die verslag stel dat Rhoode se eie weergawe neerkom op ’n erkenning dat hy op ’n onwettige opdrag opgetree het, maar tog voortgegaan het sonder om die saak deur behoorlike bevelstrukture te lei.
“Lede het die misdaad van huisbraak en diefstal van kontant by die president se plaas verberg en versuim om die saak by ’n polisiekantoor aan te meld in ooreenstemming met SAPD-prosedures,” sê Opod.
Opod identifiseer Rhoode en konstabel Hlulani Rekhoto as hoofrolspelers in die operasie, wat toesig, opsporing van verdagtes en reis onder valse voorwendsels ingesluit het. Volgens Opod het beamptes reisdoeleindes verkeerd voorgestel, amptelike rekords vervals en staatsbronne misbruik, insluitend die ontplooiing van Rekhoto na Kaapstad onder die voorwendsel van amptelike vergaderings terwyl leidrade wat met die diefstal verband hou, nagejaag is.
ONWETTIGE INHEGTENISNEMING
Die verslag toon dat die ontplooiing op inligting van ’n bron gekoppel aan die verdagtes gebaseer was, maar geen bewys van die beweerde vergaderings is gelewer nie.
Onder die ernstigste bevindings, sê Opod, is verdagtes onwettig in hegtenis geneem, ondervra en in sommige gevalle ontvoer, met individue wat na die plaas gebring en buite formele regsprosedures ondervra is.
Opod beskryf dat een verdagte ingebring is met sy hande agter sy rug met kabelbinders vasgebind terwyl ondervraging aan die gang was, wat bevindings van onwettige inhegtenisneming versterk.
Die verslag beskryf verder dat ondervragings buite formele prosesse plaasgevind het, insluitend sessies by Phala Phala sonder saakregistrasie of prosedurele waarborge, wat dui op ’n gekoördineerde operasie buite wettige polisieraamwerke.
Opod verbind ook lede van die operasie met die Bela-Bela-ontvoeringsaak (CAS 78/03/2020), waar lede van die Joseph-familie aanvanklik ’n saak aanhangig het, maar dit later onder onduidelike omstandighede teruggetrek het.
Opod kom tot die gevolgtrekking dat hierdie optrede – insluitend die inhegtenisneming, vervoer en ondervraging buite amptelike regskanale – deel gevorm het van ’n ongeregistreerde ondersoek wat gevestigde strafregprosedures omseil het.
Die verdagtes in die diefstalsaak het reeds verskeie kere in die Modimolle-streekhof verskyn. Die saak duur voort.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie