Pauline se storie gee hoop

Siklus van verwerping, geweld
'n Slagoffer van geslagsgeweld wat skuldig bevind is aan die moord op haar baba, doen 'n beroep op Namibiërs om op te hou om van die land se krisis van geweld teen vroue en kinders weg te draai.
Tuyeimo Haidula
Die saal is aanvanklik stil. Honderde vroue uit alle sfere van die samelewing kyk hoe ’n tengerige, saggesproke figuur die podium bestyg.

Dan, soos Paulina Nghipunya begin praat, maak die stilte plek vir ’n vloedgolf van emosie. Een vir een begin die trane biggel oor die vroue in die gehoor se wange.

Met ’n misdaad wat sy in Oktober 2013 op die ouderdom van 23 jaar gepleeg het wat haar soos ’n skaduwee volg, sukkel sy om die trane te keer wanneer sy begin praat. Haar stem bewe met die pyn wat steeds rou is oor die misdaad waarvoor sy tronkstraf uitdien en wat sy vandag glo voorkom kon gewees het.

Paulina was een van die sprekers by die tweede Nasionale Vrouekonferensie in Helao Nafidi in die Ohangwenastreek wat die naweek plaasgevind het. Sy draai nie doekies om nie en is rou en eerlik oor haar misdaad wat talle byna onbegryplik vind.

Vir haar was die moord op haar drie weke oue seun nie ’n skielike, sinnelose daad nie – dit was die verwoestende klimaks van ’n lewe van verlating, mishandeling en meedoënlose verwerping wat diep littekens gelaat het.

Die 35-jarige Paulina van die Ohakafiya-nedersetting se tuiste is die afgelope paar jaar ’n sel en die mure van die Windhoek-vrouegevangenis waar sy tronkstraf van tien jaar uitdien.



VROEë WONDE

Haar getuienis is geensins ’n poging om haar optrede te verskoon nie, maar ’n dringende pleidooi vir die samelewing om in te gryp voordat desperaatheid dodelike gevolge het, sê Paulina.

“My ma het my verlaat toe ek net twee weke oud was,” vertel sy en stop vir ’n oomblik om die trane te probeer keer.

“Selfs vandag wil sy steeds niks met my te doen hê nie. Ek het al baie nagte lank myself afgevra hoekom sy my verwerp het. Ek het steeds nie ’n antwoord nie.”

Hierdie eerste, diep wond van verwerping deur die een persoon wat haar die meeste moes liefhê – sou die toon aangee vir haar kinderjare wat gekenmerk is deur onstabiliteit en geweld.

Paulina is grootgemaak deur haar tannie in ’n huis waar fisieke mishandeling meer dikwels as weinig aan die orde van die dag was.

“Soms was my tannie so ernstig beseer dat sy skaars kon beweeg,” onthou Paulina.

As ’n jong, weerlose kind het die versorging van haar jonger niggies en nefies op haar klein skouers geval terwyl sy self nooit die kans gegun is om net kind te wees nie.

Op die ouderdom van 15 gaan soek Paulina skuiling en ’n nuwe heenkome by haar ouma aan haar ma se kant. In plaas daarvan tref nog ’n golf van verwerping haar.

“Sy het my behandel asof ek nie daar hoort nie,” onthou Paulina.

“Sy het my nooit laat vergeet dat ek verwerp is nie. En dit was elke dag. Haar woorde maak my tot vandag toe seer.”



MISHANDEL

Haar desperate soeke na aanvaarding en om iewers te behoort, maak dat sy in graad 9 die skool verlaat en Windhoek toe na haar biologiese ma trek. Sy word egter nie met ope arms verwelkom nie.

“Sy was koud teenoor my, daar was geen liefde nie,” onthou Paulina.

“In plaas daarvan om vir my om te gee en my te versorg, het sy probeer om my in verhoudings met mans te stoot. Dalk het sy gehoop een van hulle sou verantwoordelikheid vir my aanvaar,” sê sy.

Op die ouderdom van 17 is Paulina oortuig sy het uiteindelik liefde en sekuriteit gevind by ’n 32-jarige man wat op Walvisbaai woon. Sy verhuis kus toe en aan die begin gee hy om. Maar ná die geboorte van hul eerste seun begin die fisieke en emosionele mishandeling.

Die siklus van geweld waarvan sy as kind die getuie was, is nou ook haar volwasse werklikheid.

“Ek het vasgevang gevoel. Dit het gevoel asof ek my tannie se lewe weer van voor af herleef,” vertel Paulina.

Sy het probeer om weg te breek van die geweld en weer by haar ouma gaan bly. Maar uiteindelik maar weer teruggekeer na haar mishandelaar ná sy leë beloftes dat dinge (en hy) sal verander. Kort daarna was sy weer swanger met hul tweede kind en die mishandeling het voortgegaan.

“Hy sou my beledig en sê ‘jy is lelik. Jy eet net my kos’. Ek het heeltyd gehuil. Soms was dit my vierjarige seun wat my sou probeer troos.”



WANHOOP

Op 14 September 2013 skenk sy geboorte aan haar tweede kind en bel die kind se pa om vir hom te sê. Sy reaksie – sy moet ophou om hom te pla, hy het ’n ander vrou ontmoet en het aanbeweeg.

Skaars ’n maand later op 3 Oktober 2013 word sy uitgeskop uit haar ouma se huis. Met twee kinders – ’n vyfjarige en ’n pasgebore baba – beland sy op Ongwediva op straat en klop om hulp by Good Hope aan. Haar kinders se pa is nie ’n opsie nie, want hy het alle bande met hulle verbreek.

“Terwyl ek daar was, was my kop met donker gedagtes gevul. Ek was sonder enige hoop, verwerp en alleen,” sê Paulina.

“Ek het myself aanhou vra hoe het my lewe en ek hier opgeëindig. Hoekom selfs my eie ma my nie wou hê nie. Ek weet nie wat oor my gekom het nie,” onthou sy.

Op daardie noodlottige dag vertel Paulina hoe sy met haar twee kinders na ’n oop stuk veld tot by ’n dam water gestap het. Hier het sy haar babaseuntjie van drie weke voor sy ouer broer verdrink. Sy het haar baba in doeke toegedraai en hom in ’n vlak gat begrawe. Kort daarna is sy in hegtenis geneem.



GISTER, VANDAG EN MôRE

Vir jare het die skaamte van wat sy daardie dag gedoen het, swaar op haar gerus, maar sy het dit diep weggebêre en nie daaroor gepraat nie.

“Ek was te bang om die waarheid te vertel,” erken Paulina.

“Ek het ’n diep skaamte gevoel veral omdat ek my eie kind seergemaak het.

Stadig maar seker het sy egter begin om haar verlede weer te besoek. Sy het by programme vir die bewusmaking van geslagsgebaseerde geweld ingeskryf, waar sy meer geleer het oor mishandeling, gesonde verhoudings en waar om hulp te soek. Paulina het ’n Bybelstudieprogram “The Prisoner’s Journey” en ook ’n vrouebemagtigingsprogram voltooi, terwyl sy ook naaldwerkvaardighede in die gevangenis aangeleer het.

Haar hoop is dat wanneer sy vrygelaat word, sy haar lewe weer kan opbou met die vaardighede en die lesse wat sy tydens haar aanhouding geleer het. Paulina is vol hoop sy sal in staat kan wees om haarself te ondersteun en ’n onafhanklike vrou te kan wees wat nie van ’n man vir oorlewing afhanklik is nie.

Haar raad aan ouers is om hul kinders “lief te hê en te koester” en erken haar lewe in die tronk is nie maklik nie en sy mis haar seun elke dag.

“Ek wil hê my storie moet ’n ander vrou keer om te voel daar is geen uitweg nie. As ek geweet het daar is hulp beskikbaar, sou my baba dalk vandag nog geleef het,” sê Paulina.



’N LES

Die hoof van die Namibiese polisie, inspekteur-generaal Joseph Shikongo, het op sy beurt gesê Paulina se verhaal weerspieël ’n groter nasionale krisis.

Volgens hom is 4 089 voorvalle van geslagsgeweld (GBV) in die 2024-’25-boekjaar aangemeld, met 461 in die Ohangwenastreek. Tussen April en Mei vanjaar alleen is 647 GBV-voorvalle in die land aangemeld waarvan 79 in Ohangwena was. Algemene aanranding is boaan die lys met 2 047 voorvalle, gevolg deur aanranding met die doel om ernstig te beseer met 1 285 voorvalle.

“GBV is ’n skending van menseregte en ’n nasionale krisis,” het Shikongo beklemtoon.

“Hierdie misdade is voorkombaar en gewortel in skadelike normes van die samelewing. Ons moet dit verander,” het hy gemaan.

Shikongo het ’n beroep op vroue gedoen om te praat oor wat met hulle gebeur en op mans om bondgenote te word in die skep van veiliger huise, skole, werksplekke en openbare ruimtes.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer