Nog baie vrae oor Fishrot

Bewerings dat beskuldigdes voorgetrek word
Die uitlewering van Maren de Klerk en die drie Yslanders wat na bewering betrokke was in die korrupsieskandaal, is steeds aan die gang.
Kristien Kruger
Dit is al meer as vier jaar nadat die eerste Fishrot-beskuldigdes in hegtenis geneem is. Dit was die begin van ’n sage wat sedertdien ons land se howe met tientalle aansoeke oorval het en verskeie ander kwessies aan die lig gebring het.

Verskeie vrae bly egter steeds onbeantwoord: Kry die Fishrotters spesiale behandeling? Hoe pas die president in die prentjie? Sal die Yslanders uitgelewer word? Of selfs, wat van die slagoffers?

SKANDAAL OOPGEVLEK

Die korrupsieskandaal, wat nou as Fishrot bekendstaan, het in November 2019 op die lappe gekom nadat WikiLeaks ’n program met die naam Fishrot Files gepubliseer het. Dit het ’n versameling van dokumente en e-poskommunikasie bevat en is uitgelek deur ’n werknemer van een van Ysland se grootste visbedryfmaatskappye Samherji.

Die inligting het gewys dat die maatskappy miljoene aan hooggeplaaste politici en amptenare in Namibië betaal het met die doel om die land se visvangkwota te bekom.

Daarna het die voormalige hoofbestuurder van Samherji se bedrywighede in Namibië na vore gekom, naamlik Jóhannes Stefánsson – ’n naam wat destyds geweldig in plaaslike media verskyn het en nou bekendstaan as die hokaairoeper van die Fishrot-skandaal en moontlike sleutelgetuie in die Fishrot-verhoor.

Dit het gelei tot een van die mees omstrede gebeurtenisse in Namibië se geskiedenis. In November 2019 is twee ministers gedwing om uit hulle posisies te bedank op grond van hulle beweerde betrokkenheid in die skandaal. Dit was Bernard Esau, die destydse minister van visserye en mariene hulpbronne, en Sacky Shanghala, minister van justisie.

Dit het die bal aan die rol gesit en ’n reeks arrestasies met betrekking tot die skandaal het gevolg.

In Desember 2019 is Esau en Shanghala in hegtenis geneem asook vier ander beskuldigdes. Die groep word op daardie tyd in die media bestempel as die Fishrot-6. Dié ses het sedertdien gegroei na die tien Fishrot-beskuldigdes wie se verhoor verlede jaar begin het. Die Fishrot-verhoor het uiteindelik in Desember 2023 begin, ten spyte van die feit dat die beskuldigdes gekant was daarteen en later beweer het hulle is gedwing om te pleit sonder regsverteenwoordiging.

Die tien beskuldigdes is Esau, Shanghala, James Hatuikulipi, Tamson Hatuikulipi, Mike Nghipunya, Ricardo Gustavo, Nigel van Wyk, Otneel Shuudifonya, Pius Mwatulelo en Phillipus Mwapopi.

Ná talle borgtogaansoeke deur die Fishrot-beskuldigdes, is slegs een van hulle tans vry op borgtog naamlik Nigel van Wyk. Die res is in aanhouding in die Windhoek Sentrale Gevangenis.

WORD HULLE VOORGETREK?

Die Fishrot-beskuldigdes het sedert hulle inhegtenisname talle aansoeke by die hof gebring soos borgtogaansoeke, aansoeke dat regters van hulle verhoor moet onttrek en aansoeke dat van hulle gevriesde bates aan hulle beskikbaar gemaak moet word sodat hulle hul private regspanne kan betaal.

Een van die mees onlangste aansoeke was ’n dringende aansoek by die hoërhof in Windhoek wat gepoog het om te verhoed dat sommige van hulle vanuit enkelaanhoudingselle by Windhoek Sentrale Gevangenis, waarin hulle die afgelope vier jaar in aanhouding was, na gemeenskaplike selle geskuif word.

Dié gemeenskaplike afdeling van die tronk, genaamd die Echo-eenheid, is waar verhoorafwagtende gevangenes – beskuldigdes wie se verhore nog hangend is en wat nog nie skuldig bevind is nie – normaalweg aangehou word.

Die Fishrot-beskuldigdes was nooit in hierdie eenheid geplaas nie, maar is eerder reguit na die C-afdeling waar hulle enkelselle met televisie, goeie internetverbinding en ander voordele geniet het.

Volgens ’n verklaring van die kommissaris-generaal van die Namibiese Korrektiewe Dienste (NCS), Raphael Hamunyela, is die C-afdeling normaalweg gebruik om gevangenes te hou wat aansteeklike siektes het, wat studeer of vir ondersoek- en veiligheidsdoeleindes.

Die Fishrotters is volgens hom aanvanklik in die C-afdeling gehuisves op versoek van die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) wat destyds die saak ondersoek het. Die NCS is glo versoek om hulle te isoleer terwyl die ondersoek voortduur.

Volgens Hamunyela is die ACC se ondersoek nou afgehandel en is daar geen rede waarom die Fishrot-beskuldigdes steeds in hierdie eenheid aangehou moet word nie.

’n Duidelike prentjie is geskets oor die omstandighede waaraan die Fishrot-beskuldigdes die afgelope jare onderworpe was, deur ’n verklaring van James Hatuikulipi (Fishrot-beskuldigde) wat by die hof ingedien is.

Hy verduidelik dat die lywige dossier – wat deur die staat aan hulle bekendgemaak is om vir die verhoor voor te berei – in ’n onbesette sel in hierdie eenheid geplaas is vir hulle om enige tyd daartoe toegang te hê. Hy vertel verder dat hierdie eenheid ’n televisiekamer en rekenaars het.

Dit volg net ’n paar maande nadat 16 studente wat hul graadstudies in die Windhoek Sentrale Gevangenis probeer voltooi, die hof genader het met die bewering dat die NCS hul studies belemmer en die Fishrot-beskuldigdes spesiale behandeling kry.

“Die bevoordeling en voorkeurbehandeling wat nie eens weggesteek word nie, is skokkend,” het Rodney Shaningua, ’n gevangene en finalejaar-regstudent (LLB) aan Stadio in sy verklaring gesê.

Die studente het aangevoer dat hul lessenaars van hul weggeneem is en hulle gedwing word om op hul skote te werk, terwyl die Fishrot-beskuldigdes lessenaars en stoele in hul selle mag hê.

In reaksie hierop het Hamunyela ontken dat die Fishrotters voorgetrek word en verduidelik in sy verklaring dat geen gevangene gemagtig is om ’n lessenaar in sy sel te hê nie.

Dit is ten spyte van die feit dat Hatuikulipi in sy verklaring aangedui het dat hulle twee selle in die C-afdeling gebruik het vir voorbereiding vir hulle verhoor waar drie lessenaars en stoele vir hulle gesit is. Hy het ook gekla dat een van sy medebeskuldigdes nie ’n lessenaar het om by te sit wanneer hy op sy skootrekenaar werk nie.

Al die beskuldigdes, buiten vir die twee voormalige ministers (Esau en Shanghala) is op 1 Mei verskuif na die Echo-eenheid van die tronk en die hoërhof in Windhoek sal op 10 Junie uitspraak lewer op die dringende aansoek.

KWESSIE OOR HOFFOTO’S

’n Ander brandpunt vir veral lede van die media, was die feit dat hofowerhede joernaliste verbied het om foto’s van die Fishrot-beskuldigdes te neem toe hulle in Desember verlede jaar in die hoërhof in Windhoek verskyn het vir die begin van hul verhoor.

Joernaliste is glo met inhegtenisname gedreig indien hulle foto’s geneem het sonder spesiale toestemming.

Onder normale omstandighede word lede van die media toegelaat om foto’s van beskuldigdes te neem wanneer die hof nie in sitting is nie en wel binne en buite die hof.

Hoewel daar weekliks talle foto’s geneem word van beskuldigdes, was joernaliste op daardie dag verbied om dieselfde te doen met die Fishrot-beskuldigdes.

Nadat lede van die media hieroor gekla het, het die waarnemende hoofregistrateur van die hoërhof, Nicole Januarie, die volgende dag bevestig dat daar nie van lede van die media vereis word om spesiale toestemming te verkry om foto's binne en buite hofsale te neem, terwyl die hof nie in sitting is nie.

PRESIDENT MET HOF GEDREIG

Drie van die Fishrot-beskuldigdes het aan die begin van die jaar gedreig om president Nangolo Mbumba hof toe te sleep sou hy die ampstermyn van die Fishrot-verhoor se voorsittende regter, die Zimbabwies-gebore Moses Chinhengo, verleng.

Shanghala, en sy medebeskuldigdes, Hatuikulipi en Pius Mwatelulo, het in hul brief aan Mbumbadie beweer dat Chinhengo se aanstelling deur wyle president Hage Geingob ongrondwetlik was, aangesien hy glo te oud is. Chinhengo is 68 is en die voorgestelde aftree-ouderdom vir regters is 65.

Volgens hulle is sy aanstelling verder ook glo onwettig omdat hy nie ’n Namibiër of ’n dienende regter in Namibië is nie.

Chinhengo is as ’n waarnemende regter van die hoërhof vir die tydperk 18 September tot 31 Desember 2023 aangestel. Mbumba het nog nie sy besluit oor die verlenging van Chinhengo se termyn bekend gemaak nie.

Mbumba is ook onlangs in die parlement deur die leier van die Popular Democratic Movement (PDM), McHenry Venaani, gevra of hy in die Fishrot-verhoor sal getuig.

Mbumba is gelys as een van die staatsgetuies in die saak, omrede hy die voormalige sekretaris-generaal van Swapo was.

In reaksie hierop het Mbumba gesê hy het niks om weg te steek nie en sal bereid wees om te getuig indien die hof hom sou versoek.

Mbumba se opvolger by Swapo, Sophia Shaningwa, is ook op die lys van getuies.

WAT VAN DIE YSLANDERS?

Meer as vier jaar het reeds verloop sedert die Fishrot-skandaal oopgevlek is, en daar is steeds geen duidelikheid of die betrokke Yslanders uitgelewer sal word om in Namibië of in hulle eie land verhoor te word nie.

Volgens Namibië se uitleweringsverslag word drie Yslanders vir uitlewering gesoek, naamlik Aldalsteinn Helgason, Engill Helgi Arnason en Ingvar Júlíusson. Die drie mans was voormalige werknemers van Samherji.

Samherji het na bewering Namibiese amptenare en bestuurders van vissersmaatskappye omgekoop om toegang tot Namibië se visbedryf te verkry. Daar word beweer dat die beskuldigdes meer as N$300 miljoen ontvang het in ruil vir visvangkwotas.

In 2022 het die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing in Namibië (IPPR) en Transparency International Iceland 'n gesamentlike verklaring uitgereik waarin geëis word dat verdagtes in beide Ysland en Namibië wetlik aanspreeklik gehou moet word vir die Fishrot-korrupsieskandaal.

“Burgers van beide lande het deur middel van openbare betogings, nuusondersoeke en pogings van die burgerlike samelewing uitgespreek dat dit nie reg kan wees dat slegs Namibiese burgers wetlik aanspreeklik gehou word vir Fishrot, terwyl die korrupsieskandaal duidelik ook individue in Ysland betrek het nie,” het die verklaring gesê.

Die aanklaer-generaal van Namibië, Martha Imalwa, het in November verlede jaar in ’n verklaring gesê dat die ACC steeds besig is om ondersoeke uit te voer, voordat dit ’n versoek om uitlewering aan die Yslandse regering uitreik.

In Januarie vanjaar het ondersoekbeamptes van Ysland Namibië besoek om die rol van sy burgers in die Fishrot-korrupsieskandaal te ondersoek.

Die hoof van die ACC, Paulus Noa, het gesê die ondersoek is om bewyse te versamel en te verseker dat individue wat by die Fishrot-sage geïmpliseer word, vervolg word ongeag hul nasionaliteit.

"In hul eie land is hierdie korrupsiesaak ook 'n misdaad en as hulle bewyse vind wat hul eie burgers impliseer, sal hulle hulle beslis ook vervolg," het Noa destyds gesê.

’n Namibiese afvaardiging waarvan Imalwa en lede van die ACC deel was, is ook verlede jaar na Ysland gestuur vir konsultasies oor die uitlewering van die drie Yslanders.

SLAGOFFERS ‘MOET VERGOED WORD’

In Maart vanjaar het die IPPR ’n nuwe verklaring uitgereik wat eis dat Samherji moet erken dat hy ’n rol in die Fishrot-korrupsieskandaal gespeel het en dat dit Namibiese vissermanne wat hulle werk verloor het as gevolg daarvan, moet vergoed.

Talle vissermanne was op Samherji-vaartuie Saga Seafood, Geysir en Heinaste in diens toe die vaartuie oornag vertrek het.

Ná die bekendstelling van die verslag, het die uitvoerende direkteur van die IPPR, Graham Hopwood, gesê dat die impak van korrupsie op werkers in die visbedryf 'n dringende bekommernis is en dat daar ’n behoefte is aan 'n saak vir regstelling en restitusie. Hy het ook voorgestel dat 'n trust of stigting vir vergoeding gestig word.

Die skandaal het daartoe gelei dat talle werkers hul werk verloor het weens groot dele van die land se visvangkwotas wat aan die staatsbeheerde Nasionale Visserykorporasie (FISHCOR) toegeken is, voordat dit aan Samherji verkoop is in ruil vir beweerde omkoopgeld.

Weens die verlies aan visvangkwotas moes sekere vismaatskappye werkers afdank. Toe die skandaal aan die lig kom, is nog meer werksgeleenthede verloor omdat Namibiese owerhede later Samherji-fabriekstreilers geskut het. 'n Impakstudie wat op menseregte fokus gaan ook deur die IPPR uitgevoer word met die oog om meer lig te werp op die lot van geraakte vissermanne.

WAAR IS MAREN DE KLERK?

Marèn de Klerk word sedert 2021 deur Namibiese owerhede gesoek vir sy beweerde rol as betaalmeester in die Fishrot-korrupsiesaak.

Terwyl hy in Suid-Afrika was, het De Klerk na bewering in Januarie verlede jaar sy naam van Marén na Michael verander.

In Junie verlede jaar is De Klerk in Suid-Afrika deur Interpol in hegtenis geneem, maar is later borgtog van N$50 000 in die Paarl-landdroshof toegestaan.

Die Suid-Afrikaanse weekblad Mail & Guardian het verlede jaar berig dat De Klerk sy onskuld in die hof volgehou het en gesê hy het onbewustelik deelgeneem aan die korrupsie wat sy medebeskuldigdes onderneem het.

Tydens De Klerk se getuienis in sy borgtogaansoek in Paarl, het hy gesê hy vrees vir sy lewe en sal nie 'n regverdige verhoor kry indien hy aan Namibië uitgelewer word nie. Die proses vir sy uitlewering is steeds aan die gang.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-06-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 9° | 27° Rundu: 10° | 26° Eenhana: 13° | 28° Oshakati: 13° | 27° Ruacana: 12° | 28° Tsumeb: 12° | 24° Otjiwarongo: 9° | 22° Omaruru: 11° | 25° Windhoek: 8° | 20° Gobabis: 8° | 21° Henties Bay: 17° | 31° Wind speed: 37km/h, Wind direction: E, Low tide: 10:52, High tide: 04:51, Low Tide: 23:20, High tide: 17:25 Swakopmund: 18° | 26° Wind speed: 33km/h, Wind direction: SE, Low tide: 10:50, High tide: 04:49, Low Tide: 23:18, High tide: 17:23 Walvis Bay: 19° | 32° Wind speed: 33km/h, Wind direction: SE, Low tide: 10:50, High tide: 04:48, Low Tide: 23:18, High tide: 17:22 Rehoboth: 7° | 21° Mariental: 10° | 23° Keetmanshoop: 12° | 23° Aranos: 9° | 22° Lüderitz: 15° | 31° Ariamsvlei: 12° | 24° Oranjemund: 12° | 19° Luanda: 21° | 23° Gaborone: 10° | 22° Lubumbashi: 9° | 25° Mbabane: 10° | 21° Maseru: 6° | 17° Antananarivo: 11° | 19° Lilongwe: 12° | 25° Maputo: 17° | 26° Windhoek: 8° | 20° Cape Town: 12° | 17° Durban: 14° | 23° Johannesburg: 10° | 18° Dar es Salaam: 21° | 28° Lusaka: 11° | 23° Harare: 10° | 22° Currency: GBP to NAD 22.95 | EUR to NAD 19.44 | CNY to NAD 2.5 | USD to NAD 18.13 | DZD to NAD 0.13 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.29 | EGP to NAD 0.37 | KES to NAD 0.14 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.7 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.35 | RUB to NAD 0.21 | INR to NAD 0.22 | USD to DZD 133.9 | USD to AOA 853.63 | USD to BWP 13.53 | USD to EGP 48.27 | USD to KES 127.98 | USD to NGN 1479.51 | USD to ZAR 18.13 | USD to ZMW 25.45 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index Same 0 | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1783.38 Down -0.16% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 13140.91 Up +0.02% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 27062.37 Up +2.44% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 330.96/OZ UP +0.50% | Copper US$ 4.42/lb UP +0.33% | Zinc US$ 2 854.40/T DOWN -0.41% | Brent Crude Oil US$ 85.99/BBP UP +1.50% | Platinum US$ 995.13/OZ UP +0.97% Sport results: Weather: Katima Mulilo: 9° | 27° Rundu: 10° | 26° Eenhana: 13° | 28° Oshakati: 13° | 27° Ruacana: 12° | 28° Tsumeb: 12° | 24° Otjiwarongo: 9° | 22° Omaruru: 11° | 25° Windhoek: 8° | 20° Gobabis: 8° | 21° Henties Bay: 17° | 31° Wind speed: 37km/h, Wind direction: E, Low tide: 10:52, High tide: 04:51, Low Tide: 23:20, High tide: 17:25 Swakopmund: 18° | 26° Wind speed: 33km/h, Wind direction: SE, Low tide: 10:50, High tide: 04:49, Low Tide: 23:18, High tide: 17:23 Walvis Bay: 19° | 32° Wind speed: 33km/h, Wind direction: SE, Low tide: 10:50, High tide: 04:48, Low Tide: 23:18, High tide: 17:22 Rehoboth: 7° | 21° Mariental: 10° | 23° Keetmanshoop: 12° | 23° Aranos: 9° | 22° Lüderitz: 15° | 31° Ariamsvlei: 12° | 24° Oranjemund: 12° | 19° Luanda: 21° | 23° Gaborone: 10° | 22° Lubumbashi: 9° | 25° Mbabane: 10° | 21° Maseru: 6° | 17° Antananarivo: 11° | 19° Lilongwe: 12° | 25° Maputo: 17° | 26° Windhoek: 8° | 20° Cape Town: 12° | 17° Durban: 14° | 23° Johannesburg: 10° | 18° Dar es Salaam: 21° | 28° Lusaka: 11° | 23° Harare: 10° | 22° Economic Indicators: Currency: GBP to NAD 22.95 | EUR to NAD 19.44 | CNY to NAD 2.5 | USD to NAD 18.13 | DZD to NAD 0.13 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.29 | EGP to NAD 0.37 | KES to NAD 0.14 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.7 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.35 | RUB to NAD 0.21 | INR to NAD 0.22 | USD to DZD 133.9 | USD to AOA 853.63 | USD to BWP 13.53 | USD to EGP 48.27 | USD to KES 127.98 | USD to NGN 1479.51 | USD to ZAR 18.13 | USD to ZMW 25.45 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index Same 0 | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1783.38 Down -0.16% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 13140.91 Up +0.02% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 27062.37 Up +2.44% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 330.96/OZ UP +0.50% | Copper US$ 4.42/lb UP +0.33% | Zinc US$ 2 854.40/T DOWN -0.41% | Brent Crude Oil US$ 85.99/BBP UP +1.50% | Platinum US$ 995.13/OZ UP +0.97%