Verblyfagent Emmanuel Shikukumwa. FOTO VERSKAF
Verblyfagent Emmanuel Shikukumwa. FOTO VERSKAF

Nampa konfiskeer verblyfagent se motor

‘Glyjakkals’ skuld glo N$29 000
Die Namibië Persagentskap het verkies om nie ’n strafsaak aanhangig te maak nadat ’n ooreenkoms oor terugbetaling bereik is nie.
Eliot Ipinge

Die Namibië Persagentskap (Nampa) hou ’n verblyfagent se voertuig as sekuriteit nadat die agentskap beweer het dat daar steeds N$29 000 verskuldig is.

Nampa se hoof van menslike hulpbronne, Samuel Petrus, moes na bewering N$13 500 uit sy eie sak betaal om te verhoed dat personeel tydens die spele vir staatsondernemings (SOE’s) op Rundu verlede maand op straat sit.

Nampa se hoof van menslike hulpbronne het aan Republikein gesê die agentskap het die verblyfagent, Emmanuel Shikukumwa, betaal om verblyf vir werknemers wat die spele bygewoon het, te reël. 

Toe sommige personeel egter by een van die eiendomme aankom, het die huiseienaar hulle na bewering gedreig om uit te sit en gesê hy het geen betaling ontvang nie, ondanks dat Nampa reeds die agent betaal het.

“Ek het my eie geld gevat om die eienaar te betaal. Ek dink dit was N$13 500, want die eienaar het ons mense uitgejaag,” het Petrus gesê.

Hy het gesê Shikukumwa het hom nie vergoed vir die geld wat hy persoonlik aan die huiseienaar betaal het nie. Hy het verder beweer dat die agent Nampa steeds N$29 000 skuld vir verblyfbetalings wat deur die agentskap gemaak is en wat na bewering nie aan ander eiendomseienaars oorbetaal is nie.

Petrus het gesê die partye het later ’n ooreenkoms vir terugbetaling onderteken waarvolgens Shikukumwa se Volkswagen Golf as sekuriteit oorhandig is totdat beide die geld wat persoonlik aan Petrus verskuldig is en die uitstaande bedrag wat na bewering aan Nampa verskuldig is, vereffen is.

Gevra of enige terugbetalings sedertdien gemaak is, het Petrus geantwoord: “Nee, hy het nie. Dis hoekom daardie motor nog by ons is en ons beplan om dit na Windhoek te laat insleep.”

Petrus het gesê Nampa het verkies om nie ’n strafsaak aanhangig te maak nadat die ooreenkom vir terugbetaling bereik is nie.

“Ons het nie ’n saak geopen nie, want ons het ’n ooreenkoms geskryf waarin hy sê hy gaan my terugbetaal en ook Nampa terugbetaal en dan kry hy daardie motor,” het hy gesê.

Petrus het verder beweer dat Shikukumwa, in plaas daarvan om die huiseienaars te betaal nadat hy die geld van Nampa ontvang het, die geld gebruik het om ’n voertuig te koop.

“Wat ek verstaan gebeur het, is toe die maatskappy hom betaal het, het hy nie gegaan en die huiseienaars betaal nie. Hy het gegaan om ’n voertuig te koop,” het Petrus beweer.

Hy het verder beweer dat ander organisasies moontlik ook slagoffers van die beweerde skema geword het.

“Ek dink drie of vier maatskappye is deur hom bedrieg,” het hy beweer.

Toe Shikukumwa vir kommentaar gekontak is, het hy ontken dat hy Nampa of enige ander organisasie bedrieg het. Hy het gesê die probleme het ontstaan weens ’n erge tekort aan verblyf op Rundu tydens die spele en verblyf wat op-die-nippertjie van deelnemende instellings gesoek is.

“’n Mens sou dit nie ’n bedrogspul noem nie, want wat gebeur het, is ja, hulle het geld inbetaal op soek na verblyf tydens die SOE-Spele. Daar was onvoorsiene omstandighede wat plaasgevind het,” het hy gesê.

Volgens Shikukumwa het Nampa verblyf wat reeds opgespoor is, verwerp en op beter gehalte akkommodasiegeriewe aangedring, ondanks dat hulle aangekom het toe die vraag na verblyf op sy hoogtepunt was.

“Hulle was ontevrede met die beskikbare verblyf en het aanhoudend die huise wat ons vir hulle gewys het, van die hand gewys terwyl ons op hul dag van aankoms rondgery het op soek na opsies,” het hy gesê.

Shikukumwa het erken dat hy geld wat van kliënte ontvang is, gebruik het om alternatiewe verblyf te verseker voordat dit deur ander kliënte bespreek is, omdat beskikbare geriewe vinnig opgeraap is.

“Ek moet erken, die geld wat ek betaal is, moes ek gebruik om vir beskikbare geriewe te betaal net om dit te verseker, want as jy dit misloop, gaan dit binne die volgende uur gaan na ander mense,” het hy gesê.

Shikukumwa het ook die bewerings van die hand gewys dat hy ’n voertuig met Nampa se geld gekoop het.

“Ek het die motor lank voor hulle gekom het gekoop. Ek weet nie waar hulle dit opgetel het nie, maar ek het dit met een van hul personeel bespreek,” het hy gesê.

Hy het bevestig dat Petrus beslag op sy voertuig in gelê het, maar gesê dit is vrywillig as sekuriteit oorhandig nadat Petrus sowat N$13 200 aan die huiseienaar betaal het om te verseker dat die werknemers by die eiendom kon aanbly.

“Hy het vrywillig aangebied om die dame te betaal en dan sou ek hom moes betaal. Hy het toe die motor as sekuriteit vir my gehou,” het Shikukumwa gesê.

Hy het ook erken dat hy Nampa nog geld skuld, maar die bedrag betwis en beweer die uitstaande balans is N$26 000, nie N$29 000 nie.

Shikukumwa het ook verduidelik dat die Nasionale Kommissie vir Navorsing, Wetenskap en Tegnologie (NCRST) die enigste ander organisasie was wat tydens die spele verblyfverwante uitdagings met hom ervaar het. Hy het volgehou dat die voorvalle uit verblyftekorte voortgespruit het eerder as enige bedoeling om kliënte te bedrieg.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-09-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer