‘’n Stukkie geskiedenis is weg’
’n Stukkie van Walvisbaai se geskiedenis is weg.
Só het geskokte inwoners aan die kus gereageer op die moord op die bekende Walvisbaaise kunstenaar en letterskilder Barbara Ruth Geschke.
Die 80-jarige Geschke se liggaam is volgens die polisie in die Erongostreek Dinsdag in haar huis in J.H de Waardt-straat naby die lagoon op Walvisbaai gevind. Sy is met oop wonde in ’n plas bloed in haar slaapkamer gevind.
Volgens die polisie word vermoed dat sy tussen Maandag om 15:00 en Dinsdag om 12:00 vermoor is toe haar liggaam deur een van haar bure ontdek is.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en die polisie het ’n beroep op die publiek gedoen vir enige inligting wat tot die inhegtenisneming van ’n moontlike verdagte kan lei.
Op ’n vraag oor ’n moontlike motief en of enigiets uit Geschke se huis gesteel is, het die polisie gesê die ondersoek duur voort.
’n Inwoner wat naby haar woon, sê die bejaarde Geschke was voorheen die slagoffer van inbrake by haar huis.
“Die bure het almal ingespring om die vensters reg te maak, deur dit met houtlatte toe te maak,” het die inwoner gesê.
Geschke is beskryf as iemand wat “meestal op haar eie gebly het”.
“Sy het ook nie veel in haar huis gehad nie – nie eens ’n stoof of ’n yskas nie. Dit verbaas my regtig wat hierdie bejaarde vrou moontlik kon gehad het, of watter bedreiging sy moontlik kon inhou, dat sy op so ’n gewelddadige manier vermoor is,” het nog ’n inwoner gesê.
’n Ander onthou Geschke as ’n jong skoolmeisie, waar sy op ’n stellasie besig was met ’n advertensie of naamskilderwerk op ’n gebou se mure.
’n Stukkie van Walvisbaai se geskiedenis is weg, het nog ’n inwoner hartseer gesê. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie