'Mesaanval' lei tot toesigstryd

Rita Kakelo
’n Inwoner van Grootfontein het ternouernood aan die dood ontkom toe sy voormalige lewensmaat na bewering probeer het om hom dood te maak deur sy keel te sny terwyl hy geslaap het.

“Ek het skielik omstreeks 04:00 wakker geword en haar bo-op my gekry, sy was besig om my aan te val.”

Die voorval, wat glo in Junie verlede jaar plaasgevind het, het na bewering 'n sny van 5 cm diep om die man se keel gelaat en daartoe gelei dat hy verminderde gevoel ervaar in die area bo die sny.

Die man het aan Republikein vertel dat die twee nou gewikkel is in wat hy beskryf het as ’n “finansieel stresvolle” hofstryd om toesig oor hul minderjarige dogter.

“Ek voel sy is nie geskik om vir ons dogter te sorg nie, en ek veg dus vir alleentoesig.”

Hoofinspekteur Elifas Kuwinga van die Namibiese polisie het bevestig dat ’n saak van poging tot moord teen die verdagte aanhangig gemaak is, wat tot haar inhegtenisneming gelei het.

Sy is egter daarna op borgtog vrygelaat hangende haar volgende hofverskyning. Die slagoffer het sy teleurstelling uitgespreek toe hy verneem het dat die verdagte op borgtog van N$6 000 vrygelaat is.

“Ek kan nie glo sy is vir so ’n klein bedrag vrygelaat nie,” het hy gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer