Lüderitz in opstand teen dwelms
’n Gemeenskapsaktivis van Lüderitz, Ndeshipanda Akwenye, het ’n aanlyn klagskrif van stapel gestuur waarin gevra word vir strenger ondersoeke na borgtogaansoeke van verdagtes wat herhaaldelik by dwelmverwante sake betrokke is.
“Wanneer individue wat herhaaldelik by dwelmverwante oortredings betrek word na ons gemeenskappe terugkeer nadat borgtog aan hulle toegestaan is, vra die gemeenskap homself af of die stelsel die kringloop van dwelmverspreiding doeltreffend onderbreek, en of dit bloot toelaat dat dit voortduur,” lui die petisie.
Ondertekenaars doen ’n beroep op die landdroskantoor in die hawedorp om die omstandighede van borgtogaansoeke – wat betrekking het op persone wat herhaaldelik in verband met dwelmverwante oortredings in hegtenis geneem is – binne die raamwerk van die Namibiese wetgewing te oorweeg.
“Ons versoek nederig dat die veiligheid en geldige bekommernisse van die breër gemeenskap in ag geneem word, asook of vorige borgvoorwaardes nagekom is en of streng borgvoorwaardes nodig is om die gemeenskap en die integriteit van die regsproses te beskerm.”
Akwenye het gesê die klagskrif, wat reeds 83 handtekeninge het nadat dit op 8 September van stapel gestuur is, is nie daarop gemik om die howe te ondermyn of te eis dat die wet geïgnoreer word nie.
“Dit vra of dit die vlak van beskerming en afskrikking lewer wat ons gemeenskap dringend nodig het,” het hy gesê.
Volgens Akwenye moet groter oorweging geskenk word aan die risiko’s wat verband hou met herhaalde oortredings terwyl oortreders vry op borgtog is.
Hy het beklemtoon die bekommerde inwoners respekteer die onafhanklikheid van die regbank en erken elke beskuldigde se grondwetlike reg op ’n behoorlike regsproses en ’n billike verhoor.
Volgens Akwenye is lede van die Lüderitz-gemeenskap besorg oor wat hulle beskou as die voortdurende toestaan van borgtog aan mense wat herhaaldelik in verband met dwelmverwante oortredings in hegtenis geneem word.
“As dieselfde mense herhaaldelik in hegtenis geneem en vrygelaat word en telkens na dieselfde omgewing terugkeer, moet ons die moed hê om te vra of die kringloop werklik verbreek word,” het hy gesê.
Hy het beklemtoon dwelmmisbruik het wyer gevolge vir die gemeenskap, veral vir kinders en jongmense.
Akwenye het verder gesê die gemeenskap het ’n verantwoordelikheid om te praat oor ’n situasie wat voortdurend “vrees, vernietiging en lyding onder ons families en, bowenal, ons kinders veroorsaak”.
Volgens hom is dit nie bloot ’n strafregkwessie nie, maar iets wat ook families, huwelike, skole, gemeenskapsveiligheid asook die maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling van Lüderitz raak.
Akwenye het ook kommer uitgespreek oor die druk op wetstoepassers en beperkte hulpbronne wat die hokslaan van dwelms op die dorp kortwiek.
“Wanneer beamptes mense deur harde werk agter tralies sit, en dan is dieselfde individue terug in die gemeenskap in wat lyk soos ’n oogwink, skep dit frustrasie – nie net vir wetstoepassers nie, maar ook vir die gemeenskap wat van hulle afhanklik is vir beskerming,” het hy gesê. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie