Foto ter illustrasie
Foto ter illustrasie

Kort nuus

Iréne-Mari van der Walt
Okahao

Bejaarde met krat aangeval, sterf

’n Man (26) het glo Vrydag omstreeks 14:00 ’n 64-jarige vrou, wat op ’n houtbankie gesit het, genader en haar sonder enige aanleiding of woordewisseling met ’n leë bierkrat oor die kop geslaan. Die vrou is volgens die polisie op die toneel dood en haar liggaam is na die Okahao-polisielykshuis vir ’n nadoodse ondersoek geneem. Die verdagte is in hegtenis geneem.

Windhoek

Argument oor drank lei glo tot moord

Vier mans, glo ’n groep vriende, het Saterdag omstreeks 01:00 van ’n kroeg in Katutura af teruggekeer huis toe en na bewering voor een vriend se huis oor alkohol begin stry.

Tydens die argument het ’n 19-jarige man in die groep glo ’n 31-jarige met ’n mes in die rug gesteek. Paramedici van Stad Windhoek het volgens die polisie die man omstreeks 02:56 dood verklaar. Die verdagte het na bewering die mes weggegooi, maar hy is in hegtenis geneem.

Osire

Ma sterf ‘toe sy haar gesig stoom’

’n Tienjarige seun het glo Sondagoggend op sy ma in haar slaapkamer afgekom, nadat sy na bewering gesterf het terwyl sy haar gesig gestoom het.

Die vrou se gesig was glo besig om te brand in ’n kastrol met water en kruie op ’n tuisgemaakte mbaula-stoof. Sy het volgens die polisie ’n kombers oor haar kop gehad.

Die seun het na bewering gehoor hoe sy ma skree en die vuur geblus voor hy sy ouer suster in kennis gestel en die suster gevolglik hulle ouma laat weet het. Die vrou het ernstige brandwonde aan haar bo- en onderlyf (insluitend haar arms en bene) opgedoen. Sy het glo die vorige aand van griepsimptome gekla. Sy was ’n 40-jarige Kongolese burger.

Onesi

Angolese tiener verkrag glo vrou

’n Sewentienjarige Angolees het na bewering Vrydag omstreeks 02:00 ’n 36-jarige Namibiese vrou tussen die Eunda-kliniek en die Omiikwadhambeli-nedersetting in die Omusatistreek verkrag toe sy op pad huis toe was. Die verdagte is in hegtenis geneem.

Ondobe

Motorongeluk eis vier lewens

Vier mense het in die omgewing van die Efidi-nedersetting in die Ondobe-distrik gesterf toe ’n wit bakkie en ’n sedanvoertuig gebots het. Die drie mans in die bakkie is almal na bewering in ’n stabiele toestand, maar slegs een van die insittendes in die sedan, ’n 39-jarige man, het die ongeluk met ernstige beserings oorleef. Hy is in ’n kritieke toestand. Die liggame van die oorledenes is na die staatshospitaal op Eenhana vir nadoodse ondersoeke geneem.

Die bakkie het in ’n oostelike rigting beweeg en die sedan in die teenoorgestelde rigting, volgens die polisie. Die polisie het ’n saak van strafbare manslag en roekelose bestuur aanhangig gemaak.

Katima Mulilo

Plaaslike vrou vas vir beweerde mensehandel

’n Namibiese vrou (35) is in hegtenis geneem nadat sy na bewering probeer het om ’n elfjarige Zambiese meisie vir mensehandel te werf. ’n Ondersoek is van stapel gestuur nadat ’n gemeenskaplid ’n saak van kindermishandeling aanhangig gemaak het.

Die meisie is van die “werkgewer” weggeneem en in ’n veilige hawe geplaas. Die meisie is glo sedert Februarie vanjaar “werksaam” en sou volgens haar getuienis aan die polisie N$500 ’n maand as betaling ontvang het. Sy het egter na bewering nooit hierdie betaling ontvang nie.

Die polisie verwag dat meer mense in verband met hierdie voorval in hegtenis geneem sal word. – Nuus uit polisieverslag

Kommentaar

Republikein 2025-09-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer