Khorixas-leerlinge in die sop oor dagga-muffins
Ses graad 10-leerlinge van die Cornelius Goreseb Hoërskool op Khorixas is verlede week deur die polisie ondervra nadat muffins wat na bewering met dagga gemeng is, in hul besit op die skoolterrein gevind is.
Die twee seuns en vier meisies wat met die voorval verbind word, is Donderdag geskors, het die skool bevestig.
Die bevelvoerder van die Khorixas-polisiestasie, hoofinspekteur Kavasuva Isack, het die voorval aan Network Media Hub (NMH) bevestig.
“Ses leerlinge is op verwysing van die skoolhoof na die polisiestasie gebring. Dit was muffins gemeng met dagga wat vir ’n verjaardag gemaak is,” het hy gesê.
Hy het gesê die leerlinge is later na ’n maatskaplike werker verwys nadat hul ouers na die polisiestasie ontbied is.
“Dit is die eerste geval van dagga-muffins in Khorixas,” het Isack gesê.
Later daardie dag is ander leerlinge wat glo van die muffins geëet het, ook na ’n maatskaplike werker vir berading verwys.
Isack het sy kommer uitgespreek oor die omstandighede rondom die voorval.
“In hierdie geval wys die voorval die kinders is los,” het hy gesê.
“Sommige het toestemming gevra om die koshuisperseel te verlaat om hierdie muffins te gaan bak.”
Isack het die skool aangespoor om sy beheermaatreëls te verskerp om soortgelyke voorvalle te voorkom.
Die skoolhoof, Kabajani Simataa, het gesê onderwysers het die muffins kort nadat leerlinge Donderdagoggend by die skool aangekom het, gevind.
“Hulle het die muffins gemeng met dagga skool toe gebring,” het Simataa verlede week aan NMH gesê.
“Hulle is dadelik gevang toe hulle by die skool aankom.”
Hy het gesê die voorval kan op ’n nuwe in die dorp dui.
“Dit kan ’n nuwe tendens in Khorixas wees,” het hy gewaarsku.
“Ons is bang vir wat in Khorixas gebeur. Dit raak buite beheer. Ons doen gereelde deursoekings by die skool,” het hy bygevoeg.
Simataa het gesê hulle vermoed die muffins is by die huis van een van die leerlinge se ouers gebak en was bedoel vir ’n verjaarsdagviering eerder as vir verspreiding by die skool.
Hy het bygevoeg dat een van die leerlinge glo die muffins skool toe gebring het, omdat hy bang was sy jonger boetie sou dit eet as dit by die huis gelos word.
“Ons moet oor ons kinders waak. Dwelms kom in verskillende vorme. Party koop dalk goed sonder om te weet,” het Simataa gesê.
Alhoewel sommige leerlinge en onderwysers beweer het dat die muffins op die skoolterrein verkoop is, het Simataa dit ontken. Hy het gesê die polisie beoog om die skool te besoek om met leerlinge te praat oor die gevare van dwelmgebruik.
GROEIENDE KOMMER
Die voorval volg op nog ’n dwelmverwante saak by die skool verlede jaar, toe ’n graad 10-leerling eksamen vanuit die polisieaanhoudingselle van Khorixas geskryf het nadat hy na bewering by die huis in die besit van dagga gevind is.
Cornelius Goreseb Hoërskool het sowat 550 leerlinge.
Die jongste voorval kom te midde van groeiende kommer onder Khorixas-inwoners oor dwelmmisbruik, met die kwessie wat gereeld op plaaslike radiostasies en sosialemediaplatforms geopper word.
’n Paar jaar gelede het leerlinge, jeuggroepe en die #Aodaman Tradisionele Owerheid ’n betoging gehou teen die toenemende dwelmprobleem op die dorp.
KAMPEERDERS OORVAL
Ook in die Kuneneestreek, is ’n paartjie na bewering verlede Vrydag omstreeks 22:30 by die Mountain Peak Lodge in die Outjo-omgewing beroof.
Die paartjie is glo in hul tent deur twee onbekende mans met balaklawas, handskoene, gewapen met ’n pistool en ’n ysterstaaf oorval.
Die verdagtes het glo geld, persoonlike besittings en die voertuigsleutel van die paartjie geëis, volgens die Namibiese polisie (Nampol) se misdaadverslag van die naweek.
“Die verdagtes het geld uit ’n tas wat in die voertuig was, gevat en daarna die paartjie vasgebind en in hul tent toegesluit voordat hulle van die toneel gevlug het,” lui die verklaring.
“Die slagoffers kon daarin slaag om hulself los te maak en die lodge-eienaar in kennis te stel. Die verdagtes het met kontant, mobiele toestelle, juweliersware en ander persoonlike items weggekom.”
Niemand is in hegtenis geneem nie, geen gesteelde items is teruggevind nie en die polisieondersoek duur voort.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie