Eiseb het dapper visie teen korrupsie
Hoofredaksie
Die inkomende direkteur-generaal van die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC), Bryan Eiseb, het ’n dapper visie vir Namibië se stryd teen korrupsie uiteengesit.
Hy het gesê sukses moet nie net aan arrestasies en vervolgings gemeet word nie, maar daaraan dat korrupsie voorkom word voordat dit gebeur en dat oortreders van enige geleentheid gestroop word om hul onregmatige winste te geniet.
In sy hoofrede by ’n opleidingsgeleentheid by die Afrika Ombudsman-navorsingsentrum Dinsdag in Windhoek, het Eiseb gesê korrupsie moet eerstens en veral as ’n diensleweringskrisis gesien word, eerder as bloot ’n strafregtelike kwessie.
“Om korrupsie te voorkom is doeltreffender, goedkoper en meer volhoubaar as om dit te beveg en af te dwing,” het hy aangevoer.
Hy het bygevoeg dat wetstoepassing ’n laaste uitweg moet bly, maar een wat sonder vrees of guns toegepas moet word.
“Die skuldiges [moet] die volle gevolge van die gereg in die gesig staar, ongeag hul sosiale status,” het Eiseb gesê.
Die opmerkings bied tot dusver die duidelikste aanduiding van die benadering wat Eiseb beoog om te volg sodra hy amptelik die leisels van die ACC oorneem, as opvolger van direkteur-generaal Paulus Noa, wie se termyn van twee dekades vandeesmaand tot ’n einde kom.
President Netumbo Nandi-Ndaitwah het Eiseb, die direkteur van die Finansiële Intelligensiesentrum (FIC), benoem om die teenkorrupsiewaghond vir ’n termyn van vyf jaar te lei, ’n benoeming wat daarna deur die parlement goedgekeur is.
Eiseb neem die leisels oor met ’n uitgebreide agtergrond in ondersoeke na finansiële misdaad en teengeldwassery.
Voor hy die FIC gelei het, het hy in senior poste by die Bank of Namibia (BoN) gedien, as uitvoerende direkteur in die voormalige ministerie van myne en energie waargeneem en verskeie openbare instellings gelei, ervaring wat wyd beskou word as iets wat hom toerus om toenemend gesofistikeerde finansiële misdade aan te pak.
Eiseb se aanstelling kom ook op ’n tydstip wanneer die ACC onder druk is om openbare vertroue te herstel ná jare se kritiek oor sy hantering van hoëprofiel-korrupsiesake. Tydens die parlementêre debat oor sy benoeming het verskeie wetgewers hom aangespoor om die instelling se geloofwaardigheid te herbou en die wet onpartydig toe te pas.
PUBLIEK ONTNEEM
In sy toespraak het Eiseb aangevoer dat korrupsie se grootste skade nie die geld is wat gesteel word nie, maar die openbare dienste wat aan burgers ontneem word. Hy het gesê die uiteindelike slagoffers van korrupsie is gewone Namibiërs, veral kwesbare groepe soos pensioenarisse, kwesbare en weeskinders.
“Wanneer ’n verkrygingskontrak gemanipuleer word, bly ’n skool of hospitaal ’n onvoltooide projek,” het hy gesê.
“Wanneer ’n staatsamptenaar ’n lisensie onbehoorlik toeken, word ’n ekonomiese geleentheid aan bona fide verdienstelike aansoekers ontsê. Wanneer openbare fondse verduister word, bly noodsaaklike dienste soos gesondheidsorg, water, behuising en onderwys net ’n idee, en laat dit die meeste burgers verarm,” het Eiseb beklemtoon.
Om dié rede, het hy aangevoer, behoort korrupsievoorkoming as ’n noodsaaklike instrument behandel te word om die gehalte, toeganklikheid en doeltreffendheid van openbare dienste te verbeter, eerder as bloot as ’n nakomingoefening.
OP DIE GELDSPOOR
Met verwysing na sy agtergrond in finansiële intelligensie het Eiseb aansienlike aandag gegee aan die skakel tussen korrupsie en geldwassery en die twee as onafskeidbaar beskryf.
“Elke korrupte transaksie skep ’n finansiële voordeel. . . die begunstigde moet uiteindelik ’n manier vind om die onwettige winste te verbloem en daarby baat te vind,” het hy gesê en bygevoeg dat sterker teengeldwassery-stelsels dit al hoe moeiliker maak vir korrupte individue om gesteelde bates weg te steek.
Hy het onverklaarde rykdom as een van die sterkste voorkomende instrumente beskryf wat ondersoekers tot hul beskikking het.
Waar ’n individu se leefstyl, uitgawes of bates nie redelikerwys deur wettige inkomste verklaar kan word nie, het hy gesê, behoort owerhede ’n eenvoudige maar kritieke vraag te vra: “Hoe is hierdie rykdom verkry?”
Hy sê as korrupte individue nie die opbrengs van hul misdade sonder vervolging kan geniet nie, word die aansporing om by korrupsie betrokke te raak aansienlik verminder.
AI AS ’N HULPMIDDEL
Eiseb het ook na kunsmatige intelligensie (AI) in die stryd teen korrupsie verwys as ’n hulpmiddel wat die spel kan verander.
Hy het gesê elke korrupte transaksie laat ’n digitale voetspoor in tenders, fakture en betalingsrekords, wat AI in staat stel om verdagte tenderpatrone, herhaalde kontraktoekennings en dubbele betalings op te spoor lank voordat openbare fondse verdwyn.
Sulke tegnologie, het hy aangevoer, sou regerings in staat stel om hoërisiko-projekte in reële tyd te monitor en ondersoekers na die gebiede van grootste kommer te stuur voordat verliese toeneem.
Hy het verder gevra vir sterker korrupsierisiko-assesserings in verkryging, werwing en lisensiëring, tesame met veilige fluitblaserstelsels en groter openbare deelname om wanpraktyke bloot te lê.
“Geen regsraamwerk, geen ondersoek en geen tegnologie kan etiese leierskap vervang nie,” het Eiseb gesê.
Hy het openbare instellings aangespoor om gedragskodes, integriteitsopleiding, bestuur van belangebotsings en finansiële openbaarmakingstelsels te versterk.
Ter afsluiting van sy toespraak het Eiseb openbare instellings uitgedaag om elke klagte as intelligensie te behandel, elke ondersoek as ’n geleentheid vir hervorming en elke digitale rekord as ’n instrument vir voorkoming.
“Wanneer korrupsie voorkom word, word openbare hulpbronne beskerm,” het hy gesê.
“Wanneer openbare hulpbronne beskerm word, verbeter dienslewering. Wanneer dienslewering verbeter, groei openbare vertroue, en demokrasie, aanspreeklikheid en die oppergesag van die reg word versterk.”


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie