'Brockerhoff is soos Houdini'

Vasgetrek vir poging tot renostertropery
'n Bekende gewoontemisdadiger wat op verskeie sake van onder meer wildstropery en veediefstal aangekla is en telkemale op borgtog vrygelaat word, is vir Kersfees agter tralies.
Francoise Steynberg
Die reeksmisdadiger Derrick Brockerhoff (49) wat al op verskeie sake skuldig bevind, weer aangekla en telkemale op borgtog vrygelaat is, is uiteindelik weer agter tralies.

Boere sê “ons kan nou rus met Kersfees” maar vra vir hoe lank gaan Brockerhoff agter tralies wees voor hy weer soos in die verlede ‘n vry man is en sy misdrywe van meestal wildstropery veediefstal en voortsit.

“Hy is gelukkiger as Houdini, of meer ‘connected’ as Trump,” het die Namibië Landbou-unie se voorsitter van die Windhoekstreek, Hennie Brisley aan Republikein gesê.

Brockerhoff is in April vanjaar op borgtog in die Windhoek-landdroshof vrygelaat op ’n aanklag van die onwettige jag van 'n koedoe en 'n gemsbok. Hy is in Februarie 2024 in hegtenis geneem nadat ’n bekende buurtwaglid en sekuriteitsbeampte hom en sy medepligtige, Markus Rooinasie, met ’n gemsbok- en koedoekarkas en ’n Remington-jaggeweer in die berge agter Windhoek se Eros-woonbuurt betrap het.

Brockerhoff het weer eens met die gereg gebots en is op 10 Desember omstreeks 19:30 by ‘n padblokkade by Kalkrand in hegtenis geneem - dié keer op ‘n ernstige klag van ‘n poging om ‘n renoster te stroop.

Volgens ‘n polisieverslag van die Blue Rhino-taakspan het polisiebeamptes 'n tydelike padblokkade opgestel om voertuie te stop en te deursoek.

Inittendes in “'n voertuig wat die padblokkade genader het, het die polisiebeamptes opgemerk, die voertuig van die pad afgetrek en die geweer uitgegooi,” lui die verslag.

Een jaggeweer, 13 patrone en jagtoerusting is gevind en die lisensieskyf op die voertuig het ook nie met die voertuig ooreengestem nie.

Brockerhoff en sy medepligtiges, Immanuel (Naughty Boy) Goseb van Usakos en Romeo (Romens) Gereseb van Windhoek het Vrydag in die Mariental-landdroshof verskyn. Hulle bly in aanhouding en die saak is tot 16 Februarie 2026 vir verdere polisieondersoek uitgestel.

Buiten die jongste saak, is daar volgens Brisley nóg 12 hangende sake teen Brockerhoff wat insluit veediefstal, wildstropery, onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, regsverydeling en roekelose bestuur.

SKIET GLO OP POLISIE

In November het Brockerhoff glo by die Rehoboth-padblokkade op polisiebeamptes geskiet toe hy en sy makkers inhegtenisneming probeer ontduik het. Tydens sy verskyning in die Windhoek-landdroshof het hy sy borgtog betaal en is vrygelaat.

Die gewoontemisdadiger is al op ernstige aanklagte in Swakopmund aangekla soos die onwettige besit en smokkel van kokaïen en is in reeds verskeie kere skuldig bevind aan oortredings van onwettige jag en daar is nog lasbriewe vir inhegtenisname teen hom uitstaande.

Sake van veediefstal en wildstropery strek oor gebiede van Windhoek, Daan Viljoen, Rehoboth, Groot Aub, Seeis, Klein Aub, Gobabis, Nauchas, Sesriem, Walvisbaai, Swakopmund, Omaruru en in die Namib-Naukluftpark.

In van die sake is klagte voorlopig teruggetrek, geen spesifieke hofdatums voorsien nie, dossiere het weggeraak of die beskuldigdes het borgtog betaal en is vrygelaat.

Brisley kom tot die gevolgtrekking: “Justisie se laksheid begin nou ‘n patroon in verskeie streke vorm.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer