Bejaarde egpaar tweede keer wreed aangerand
Met ’n toenemende golf van gewelddadige huisinbrake wat op bejaardes gemik is, leef inwoners van Windhoek se oudste woonbuurte in vrees.
Inwoners van Olympia, Academia, Pionierspark en Cimbebasia wys vingers na wat hulle glo dieselfde sindikaat van vyf mans is wat pensioenarisse teiken.
Die jongste aanval was Sondagoggend in Olympia waar ’n 84-jarige man en sy 82-jarige vrou, wreed in hul huis aangerand is nadat vyf gewapende mans glo op die erf gewag het voordat hulle die bejaarde egpaar oorval het.
Vir die familie is die gesteelde eiendom van minder belang as die geweld teenoor die twee brose pensioenarisse. Die voormalige parlementslid van die Rally for Democracy and Progress (RDP), Heiko Lucks, die egpaar se seun, het dit as berekende wreedheid beskryf.
“Vyf gewapende mans het die erf binnegekom, waarskynlik iewers gedurende die nag. Hulle het in die tuin weggekruip en omstreeks 09:00 het my pa die skuifdeur oopgemaak om buite toe te gaan.
“Die oomblik toe hy die deur oopmaak, het hulle hom oorrompel. Ons glo hulle het daar gewag, want teen 09:00 was dit reeds helder daglig,” het Lucks aan Republikein gesê.
Volgens hom was al vyf verdagtes met handwapens gewapen.
“Hulle het my pa oor die kop geslaan en hom vir ’n rukkie bewusteloos gelaat. Daarna het hulle die huis binnegegaan en al die gordyne toegetrek sodat niemand kon sien wat binne aangaan nie.”
Die egpaar is met skoenveters vasgebind voordat die aanvallers die huis begin deursoek het.
“My pa is 84 en my ma is 82, so albei is nogal broos. Hulle is erg geslaan en herhaaldelik geskop,” het Lucks gesê.
Hy het gesê sy pa met sy hande en voete vasgebind, is gedwing om strompelend deur die huis te beweeg om vir die rowers te wys waar waardevolle items in die kluis gehou word.
“Hulle het die hele huis omgekrap. Hulle het alles gesteel – van die televisie en rekenaar tot jaggewere, handwapens, juweliersware, klere, skoene, alkohol en selfs vleis uit die vrieskas.”
Die verdagtes het die gesteelde goed op sy pa se Nissan 1400-bakkie gelaai voordat hulle gevlug het. Lucks sê egter die familie se diepste trauma spruit uit die manier waarop sy ouers hanteer is. “Die ergste deel was hoe hulle my ouers behandel het. My ma kon skaars beweeg en elke keer as sy haar kop selfs net effens beweeg het, het hulle haar weer geskop. Sy is baie broos en kon niks doen om weerstand te bied nie, tog het hulle haar aaklig aangerand.”
Hy het gesê die verdagtes se gedrag het duidelik verskil: “Van die vyf mans was drie uiters aggressief.”
Hulle het sy ouers glo aanhoudend met die dood gedreig.
“Die ander twee was minder aggressief. Hulle het hulle nie juis getroos nie, maar toe my pa oor my ma bekommerd raak, het hulle vir hom gesê: ‘Nee, sy leef nog’”.
Sy pa is vir kopbeserings behandel en ontslaan ná hy steke gekry het, terwyl sy ma steeds in ’n private hospitaal opgeneem is, waar dokters haar vir moontlike interne beserings monitor.
Lucks glo die rooftog was sorgvuldig beplan nadat die verdagtes sy ouers se roetine dopgehou het.
“Hulle het die erf duidelik dopgehou. My pa volg elke oggend dieselfde roetine. Hy maak die deur op ’n sekere tyd oop en hulle het presies geweet hoe hy te werk gaan.”
Hy het ander inwoners, veral dié met bejaarde familielede, gewaarsku om waaksaam te bly. “Mense moet bewus wees dat individue dalk naby boupersele of oop areas kan sit terwyl hulle ’n huis dophou. Hulle kyk na roetines en bou ’n prentjie van wat aangaan.
“Dis waarna hulle soek – voorspelbare patrone. Bejaardes het veral dikwels vaste daaglikse roetines, wat hulle ongelukkig maklike teikens maak.”
Die Lucks-egpaar en hul bejaarde groep vriende is sewe jaar gelede op Farm Windhoek ook aangeval en aangerand toe hulle daar gestap het.
ACADEMIA
Sy waarskuwing eggo kommer wat reeds deur die Academia-inwoner Willie Grobbelaar geopper is ná nog ’n gewelddadige aanval op ’n bejaarde egpaar verlede maand. In ’n onderhoud met Republikein het Grobbelaar beskryf hoe ’n egpaar ouer as 75, by hul Academia-huis in ’n opvallend soortgelyke manier oorval is.
“Hulle het ’n bejaarde egpaar op presies dieselfde manier aangeval,” het Grobbelaar gesê.
Volgens hom het die verdagtes oor die grensmuur geklim met behulp van ’n lang paal wat daar naby weggegooi was, en toe binne die erf gewag.
“Hulle het ingekom nog voordat die egpaar hul dag begin het. Hulle het die ou man oorrompel die oomblik toe hy die alarm gedeaktiveer het en buite toe gestap het om in sy bakkie te klim.”
Die egpaar is vasgebind terwyl die verdagtes geld, juweliersware en gereedskap gesteel het, waarna hulle die items op die slagoffers se bakkie gelaai en gevlug het.
Grobbelaar het gewaarsku dat die groep se modus operandi blykbaar deeglik ingeoefen is.
“Die inbrekers kom jou erf binne nog voordat jy opgestaan het. Hulle slaan toe die oomblik wanneer jy die agterdeur oopsluit en die alarm afsit om die honde uit te laat.
“Hulle is gewelddadig en kan jou ernstig beseer. Bly op jou hoede,” maan Grobbelaar.
Misdaadverslae van die Namibiese polisie (Nampol) toon dat aanvalle op pensioenarisse oor die afgelope agt maande al hoe meer gereeld geword het. In Desember verlede jaar het vier verdagtes twee vroue by hul Academia-huis met skoenveters vasgebind voordat hulle vuurwapens, elektronika, kontant en ’n voertuig ter waarde van meer as N$1,3 miljoen in ’n rooftog gesteel.
In Januarie vanjaar het ses verdagtes met balaklawas inwoners in ’n huis in Ludwigsdorf van skootrekenaars, rekenaars, selfone en kontant beroof.
In Maart is ’n bejaarde egpaar in Platostraat in Academia met vuurwapens aangehou, met elektriese kabels vasgebind en in afsonderlike kamers toegesluit terwyl die rowers besittings ter waarde van sowat N$140 000 gesteel het.
Op 29 Mei het die polisie nog ’n rooftog in Academia aangeteken waar vyf verdagtes glo ’n elektriese heining geknip het, pensioenarisse as gyselaars aangehou het, hulle met skoenveters vasgebind en vuurwapens, ammunisie, elektronika en kontant gesteel het.
Al het die polisie die sake nie amptelik verbind nie, glo sommige inwoners van dié woonbuurte toenemend dat die aanvalle die kenmerke dra van een georganiseerde sindikaat wat bejaardes dophou, wag vir voorspelbare oggendroetines en uiters gewelddadig optree voordat huise van waardevolle items gestroop word.
Teen druktyd is geen inhegtenisnemings in verband met die jongste Olympia-aanval deur die polisie aangekondig nie, terwyl ondersoeke na verskeie soortgelyke rooftogte steeds aan die gang is.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie