'Agterstand in howe kritiek'
President Netumbo Nandi-Ndaitwah sê sy is bekommerd oor onlangse berigte van toenemende misdaad teen toeriste in Namibië, met sommige lande wat reeds begin het om die land as ’n onveilige bestemming vir hul burgers te klassifiseer.
Volgens haar hou hierdie tendens ’n ernstige risiko vir die toerismesektor in, wat steeds een van die voorste bydraers tot die bruto binnelandse roduk (BBP) en werkskepping is.
“Ons howe moet voortgaan om billike toegang tot geregtigheid vir almal te waarborg, ongeag nasionaliteit, en verseker dat dié wat misdaad pleeg, ingevolge die wet aanspreeklik gehou word.
"’n Betroubare en doeltreffende regstelsel versterk Namibië se beeld internasionaal as ’n veilige, betroubare en verwelkomende bestemming,” het die president gister tydens die opening van die regsjaar 2026 gesê.
“Ek neem ook met waardering kennis van die afhandeling van die onlangse kwessie rakende die staking van landdroste, wat regsdienste tydelik tot stilstand gebring het. Die herstel van normale geregtelike bedrywighede is noodsaaklik om openbare vertroue en institusionele stabiliteit te handhaaf,” het sy gesê.
WERKLAS NEEM TOE
Intussen het hoofregter Peter Shivute gesê dat ’n siviele bank van 15 regters gedurende die regsjaar 2024 altesaam 4 987 sake hanteer het – ’n gemiddelde werklas van ongeveer 384 sake per regter – terwyl die verkleinde siviele bank in die regsjaar 2025 altesaam 4 295 sake hanteer het. Alhoewel die totale aantal sake effens afgeneem het, het die gemiddelde werklas per regter skerp gestyg tot ongeveer 614 sake – ’n toename van byna 60%, het Shivute bevestig.
Volgens hom dui dit duidelik daarop dat regters aansienlik meer sake hanteer het om die doeltreffende funksionering van die hof te handhaaf en die opbou van agterstande te voorkom.
“Hierdie vlak van produktiwiteit het egter teen ’n institusionele en persoonlike koste gekom."
Shivute sê regters in beide straf- en siviele howe, saam met hul ondersteuningspersoneel, het onder uitdagende omstandighede enorme toewyding getoon.
Hy het bygevoeg dat soortgelyke beperkings die laer howe steeds raak.
“Die agterstandsituasie bly die mees kritieke uitdaging waarmee die landdroshowe te kampe het.
AGTERSTAND VAN BYNA 64 000 SAKE
“Die gekombineerde agterstand het van 57 090 sake aan die einde van 2024 tot 63 679 sake in November 2025 toegeneem – wat ’n styging van 11,5% verteenwoordig,” het hy gesê. “Hierdie toenemende agterstand, vererger deur ’n tekort aan landdroste en onvolhoubare saaklaste, het aansienlike druk geskep.”
Die hoofregter sê hierdie uitdagings word verder vererger deur voortgesette begrotingsbeperkings wat die howe se vermoë beperk om doeltreffend op die stygende vraag te reageer.
Hy meen die frustrasies wat deur regterlike beamptes geopper word, is dus verstaanbaar.
Shivute het uitgelig dat saakregistrasies gewissel het, met toenames in sommige kategorieë en afnames in ander.
“Toegang tot geregtigheid lê in die hart van die regbank se grondwetlike mandaat. Dit is egter net een kant van die munt. Toegang moet gepaard gaan met die doeltreffende lewering van geregtigheid.
“Daardie lewering vereis voldoende menslike, finansiële en infrastruktuurhulpbronne,” het hy gesê.
“Regterlike beamptes en ondersteuningspersoneel moet nie net toenemende saaklaste bestuur nie, maar ook die administratiewe, tegnologiese en prosedurele eise van ’n moderne regstelsel.
“Die tekort aan regterlike beamptes het ’n kritieke punt bereik. Die hoërhof het ook soortgelyke beperkings ervaar" veral die siviele bank wat volgens Shivute uit slegs sewe regters bestaan en in die Noorde slegs een.
“Hierdie omstandighede het buitengewone eise aan regterlike beamptes en die instelling van die hof gestel,” het hy gesê.
Shivute het die stappe bespreek wat geneem word om die uitdagings te takel.
“Die opleidingsprogram vir aspirant-regters, wat verlede jaar ingestel is, toon steeds vordering. Altesaam 33 deelnemers het in Augustus 2025 aan die program deelgeneem en bemoedigende resultate getoon."
Hy het bevestig daarmee saam gaan werk voort om ’n Regterlike Opleidingsinstituut te vestig.
“Ek spreek ook my waardering uit teenoor lede van die regsprofessie wat, ten koste van hul private praktyke, gedurende die afgelope jaar as waarnemende regters gedien het.
“Hul bydrae was van onskatbare waarde om die werk van die howe aan die gang te hou,” het die hoofregter afgesluit.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie