Die opspraakwekkende diamantrooftog het op 18 Januarie by Namdia se hoofkantoor in die hoofstad plaasgevind. Foto argief
Die opspraakwekkende diamantrooftog het op 18 Januarie by Namdia se hoofkantoor in die hoofstad plaasgevind. Foto argief

Agt al vasgetrek ná Namdia-rooftog

Elizabeth Kheibes
Die Namibiese polisie se adjunkhoofinspekteur Elias Mutota het gister bevestig nóg drie verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die Namib Desert Diamonds (Namdia)-diamantrooftog van N$314,9 miljoen wat in Januarie in die hoofstad plaasgevind het.

Die jongste arrestasies Dinsdag van George, Charmaine en Bino Cloete op Keetmanshoop bring die aantal verdagtes tans op agt te staan. Mediaberigte gistermiddag het daarop gedui dat die arrestasie van nóg ’n Namdia-sekuriteitsbeampte op hande is. Ten spyte van hierdie inhegtenisnemings word diamante ter waarde van N$274,3 miljoen steeds vermis.

Die Cloete-trio het gister in die landdroshof op Keetmanshoop verskyn op aanklagte ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca) en die diamantwet. Hul saak is tot 7 Augustus vir verdere polisieondersoek uitgestel.

In April is twee vermeende medepligtiges van die oudsoldaat Sam Shololo (45) op dieselfde Suide-dorp in hegtenis geneem, wat die aantal inhegtenisnemings destyds op vyf te staan gebring het.

Een van Namdia se sekuriteitsbeamptes, Joel Angula (45), was een van die eerste verdagtes wat in boeie geslaan is en sal op 23 Mei saam met Shololo in die Windhoek-landdroshof verskyn.

Die G4S-sekuriteitswag Samuel Shipanga (33) het op 10 April in die Windhoek-landdroshof verskyn op aanklag van die diefstal van ongeslypte en ongepoleerde diamante en bly in aanhouding nadat hy borgtog geweier is.

Shipanga, wat vroeër in April op Ondangwa in hegtenis geneem is, word daarvan beskuldig dat hy sy toegang tot binnekringe misbruik het tydens die rooftog op 18 Januarie waarin twee mense gesterf het. Hulle is die Namdia-werknemer, Francis (Gosh) Eiseb (58) en Max Endjala (44), die Trustco-groep se bedryfshoof vir interne en forensiese ondersoeke.

Namibiese en Suid-Afrikaanse owerhede ondersoek steeds die oorgrens-diamantsmokkelnetwerk wat met die gesteelde edelstene verbind word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer